Die Groot Trek en die Dwarstrekkers

Die Vannerwatts het met ‘n knal, oftewel met die gekletter van tien swaar tasse se wieletjies oor Leuven se keisteenstrate, in België gearriveer. Want as jy ‘n Van der Watt is, doen jy dinge op die moeilike manier of op die goedkoopste manier (gewoonlik is dit een en dieselfde ding) – dus geen taxi vir ons nie. Die groot trek deur die historiese kern op pad na Groot Begijnhof sou ons voorsate laat skater het, maar ten minste het Steyn kaal bene en Jani kaal arms gehad terwyl ons ons weg deur die stroom van gestewelde en gejaste laatmiddagwandelaars gebaan het. Louis, Jani en Steyn gee ‘n terugblik op ons eerste week in Leuven: 

bty
Dag 1 in Leuven – op pad om te gaan registreer en nog warm klere te koop!

“Ons arriveer vroegmiddag verlede Sondag in Leuven per trein vanaf Brussel, met 10 groot tasse en 8 stuk handbagasie tussen ons (myne natuurlik die minste en kleinste). Daniel Minch, ʼn post-doktorale student, ontmoet ons by die stasie. Hy het oorspronklik gedink ons kan ʼn taxi neem – hahaha. Uiteinde is dat ons 2+ km STAP na Groot Begijnhof toe, met die wielietjies van 2 van die 2dehandse tasse wat summier ingee. Dit is soos om ʼn lyk te probeer sleep. Jani is die eerste een wat muit (why am I not surprised?) – sy los haar tasse in die middel van die sypaadjie en stap aan. Die volgende protestant is Steyn – hy doen dieselfde ʼn ruk later. Uiteindelik moet die arme niksvermoedende Daniel self 2 tasse oorneem en saamsleep. Na omtrent elf-en-dertig kilometer bereik ons GB uiteindelik.

Die verblyf is beter as waarmee ons gereken het. ʼn Groot besorgdheid vooraf was dat Jani en Elsa-Marié ʼn kamer moet deel, terwyl albei hul eie kamers in Stellenbosch as toevlugsoord en private domein gehad het. Gelukkig is die dakkamer so groot dat hulle elkeen ʼn groot area het, afgeskei van mekaar. Steyn het in elk geval sy eie kamer. Die huis waarvan ons woonstel ʼn deel uitmaak, is laatstens 1650 gebou, met dele wat duidelik uit ʼn nog vroeëre tydperk dateer, te oordeel aan die baie rowwe afwerking van die dakbalke – iets besonders.

Omtrent die hele res van die week is opgeneem deur admin: afsprake by die kinders se onderskeie skole, aanmeld en registreer by Groot Begijnhof, die Universiteit, die Stadshuis (=munisipaliteit), ens. ens. Die kinders het Dinsdag met skool begin: die dogters by Paridaens Middelbare Skool, en Steyn by die – staal jouself en konsentreer – die “Heilige Drievuldigheidscollege” se “Basisskool” (die gebou is geRESTOREER in 1671 [!]). Hulle is reeds tuis en gelukkig (al 3 het gelukkig goeie sosiale vaardighede).

Ek het reeds 2 keer gaan draf in die ysige weer, in my gewone atletiekklere – dit is sooo lekker om koud te kry na die Bolandse hitte en droogte. En dit is dan ook so lekker om daarna in te stap in ʼn woonstel met sentrale verhitting! (Ek hoop julle snap my analogie met die man wat sy kop teen die muur stamp…)”

Steyn het sommer op dag een homself al aan die Belgiese tandemuis voorgestel toe hy sy een kiestand in die universiteit se ontvangs gewissel het! Hy was maar op sy senuwees oor die nuwe skool, maar ons is baie hartlik daar ontvang en sy juffrou Lara sê hy speel pouses lekker sokker saam met die seuns. Hier is sy ervarings van ons aankoms en inburgering in België:

“Hello uit Leuven vir al my vriende in Suid-Afrika. Die kinders wat my ken mis my sekerlik baie maar toemaar die jaar is gou verby en dan sien ek julle weer. En dies wat Whatsapp het kan lekker gesels met my. Ons vliegtuig het gevlieg vir meer as 12 ure en ons het geland op twee lughawens. In Amsterdam is die lughawe se naam Schipol en Brussel se lughawe is net Brussels. Die skool is baie lekker en ek het sommer al op die eerste dag vriende gemaak met William, Otis, Willem, Koshis en sommer veel meer. Die skole werk baie anders: daar is vyf pouses, daar is ’n kafeteria waar jy kan gaan eet maar jy moet betaal vir die kos en drinkgoed. Die skool begin 8:15 en kom 15:30 uit, behalwe op Woensdae wanneer ons 12:00 uitkom. Ons huis is baie oud, dit is ongeveer in die 16’e eeu gebou en die vensters moet op ’n snaakse manier oopgemaak word soos jy trek ’n lever af en dan maak jy die venster oop. Ons huis is op die tweede en derde vloer, my kamer is op die tweede vloer en my susters in die dakkamer. Mense ry rond met busse, treine, fietse of karre. Ons het nie ’n kar nie so ons moet baie stap.”

Jani het met ‘n groot glimlag uit die skool uit gestap verlede Dinsdag. Hier is haar indrukke:

“Ek het gedink dit sal hierso baie simpel wees. Ek het gedink ek sal te veel na ons huis verlang in Stellenbosch. Wel ek het te gou gepraat, want dit is so lekker hier! Ek is mal oor die koue weer en dat dit altyd bewolk is. Die skool is ook baie lekker! Ek het baie vriende gemaak die eerste dag. Hulle name is Flo, Zinka, Eveline, Summer, Emma, Sophia en Marau. Hulle is ook baie ordentelik en bedagsaam. Dit is ook cool dat hier amper orals Wi-Fi is! Ek hou ook van die min karre en lugbesoedeling. Die huise is baie interessant en oud. Hierdie is beslis my tipe plek! Die kos is die beste deel. Dis baie gesonder as al die gemorskos en dis dubbeld so lekker! Daar is die interessantste vrugte wat ek nog ooit gesien het. Die varkvleis (waarvan ek nog nooit gehou het nie) is so lekker! Ek hou ook van die kaas en die verskillende brode. Ek wil nog graag die döner kebab probeer. Behalwe dat die kos lekker is, hou ek baie van die bome en tuine wat ’n mens amper rondom elke hoek sien! Ek is baie bly dat ons hier is in België!”

Oukersdag 2017
Laaste familiekuiers voor ons vertrek
Advertisements

CETRA revisited

Verlede jaar hierdie tyd was ek op pad terug Suid-Afrika toe (byna my vlug verpas weens die Belgiese spoorweë…) ná twee intensiewe weke op KU Leuven se Campus Sint-Andries. Die deur na ons jaar in Leuven, wat vóór daardie tyd nog net op ‘n skrefie oop was, het wyd oopgegaan en dit was net burokrasie wat die finale deurslag moes gee. Dit was die CETRA Navorsingsomerskool in Antwerpen, waar ek soveel meer van myself geleer het, van navorsing oor die algemeen én spesifiek oor vertaalwetenskap, en waar ek boonop ‘n groep mense van regoor die hele wêreld ontmoet het wat elkeen ‘n klein, maar betekenisvolle rol in ‘n kritieke stadium van my lewe gespeel het. Dit was dus ‘n bonus dat daar hierdie jaar ‘n konferensie gehou is ná afloop van die 30’e CETRA somerskool in vertaalwetenskap, waarheen CETRA-alumni ook uitgenooi is, en waarvoor ‘n groot gros van verlede jaar se studente toe ook opgedaag het. Heerlik om almal weer te sien!

‘n Paar van die CETRA 2017-alumni: Luisa Rodríguez (Spanje), ek, Shuang Li (China) en Abeer Alfaify (Saoedi-Arabië)

Die International conference on Publishing in Translation Studies het nie net ‘n lesing ingesluit van prof. Ilse Feinauer, my studieleier al die pad uit Stellenbosch nie, maar ook ‘n plakkaataanbieding vir studente wat deel is van die International Doctorate in Translation Studies (ID-TS) (danksy my verbintenis met KU Leuven is ek ook deel van hierdie netwerk). Toe ek vroeër vanjaar die uitnodiging na die konferensie kry en uit pure FOMO die blokkie merk dat ek met ‘n plakkaat sal regstaan op 7 September, was ek baie dapper. Soos Michaela Jacques (@jacques_immo) skryf: “No one has more confidence in me than the [*synonym for malicious woman*] from 6 months ago who writes my conference abstracts“. Hoe moeilik kan dit tog wees? Op die ou end moes ek ‘n blitskursus in akademiese plakkate via Google volg (wat natuurlik net soveel goeie as slegte voorbeelde het), baie slaap opoffer, dit heeltemal herbedink nadat my Belgiese studieleier dit diplomaties uitmekaargetrek het, en dit ter elfder ure teen €11 by ‘n “copy shop” naby kampus laat druk. Die “aanbieding” self was so informeel dat my voorafgaande stresvlakke totaal buite verhouding blyk te gewees het. Die waarde van die hele uitstappie lê natuurlik daarin dat die hele proses my denke rondom die projek verder geslyp het, en dat ek volgende week in Nottingham baie beter kan sê wat ek wil sê.

Die verligte grinnik van ‘n rookie-plakkaatontwerper

Gisteroggend is ek weer vroegoggend met ons geleende opvoufiets (dankbaar vir Marcus Kotzé wat soos ‘n egte Saffa altyd reg is met raad en daad hier in Leuven) stasie toe vir dag twee van die konferensie en om my prof. vir die eerste keer in jare in aksie te sien. Ilse Feinauer het baie interessante en inspirerende inligting gehad oor die stand van vertaalwetenskaplike publikasies in Afrika. En ja, die noodsaak daarvan dat Afrika se akademiese denke gedekoloniseer moet word. Ek voel my toe sommer ‘n Afrika-patriot en hoop ek kan darem uiteindelik iets terugploeg en deel wees van daardie proses. Op die koop toe kry ek ook ‘n Afrika-druk van medestudent Marcelline, skaars twee dae nadat ek vir ‘n vriendin geskryf het dat ek net ‘n drukkie van ‘n Afrika-mama nodig het. My versugtinge het nie op dowe ore geval nie…

Prof. Ilse Feinauer: Publishing in Translation Studies in Africa

Tydens middagete, koffiepouse en die borrel, is daar baie gegons oor wat ons doen en hoe ons dit doen en die uitdagings waarmee ons te kampe het. Maar ek het ook ‘n 9/11-ooggetuieverslag gehoor, wat maar net één episode is van ‘n lewe wat waardig is om ‘n draaiboek te word. Vrydag het ek ook ‘n medestudent uit Leuven beter leer ken: Joëlle se pragtige gidshond Ouigo was bietjie olik en ek het die voorreg gehad om haar gidsmens vir die dag te wees. Sy het nie net my oë oopgemaak vir ‘n nuwe wêreld nie, maar deur haar belangstelling in wie ek is en waar ek vandaan kom – alles met soveel geduld vir my sukkelende Nederlands – het sy my selfvertroue in my Nederlandse taalvernuf so ‘n hupstoot gegee dat dit voel asof ek maar mág praat! En omdat ek nou ‘n kantoor op dieselfde vloer as sy het in die Artes Erasmushuis, sien ek baie uit na koffiepouses saam met haar en Ouigo sodra die volgende twee weke verby is.

Jip, soos ek reeds vroeër berig het, gaan die volgende twee weke knor! Môreoggend pak ek en Elsa-Marié ‘n allemintige reis aan. Om 05:00 sal ons met ons koffertjies deur Leuven se strate kletter tot by die stasie (te vroeg vir busse…), van daar af tot by Brussel-Zuid waarvandaan Eurostar ons tot by London St Pancras sal karwei. By King’s Cross hop ons in ‘n East Midlands Train tot in Nottingham waar ek Woensdag ‘n werkswinkel oor paratekste in vertaling bywoon en ook ‘n aanbieding oor my eie projek doen. Donderdag gaan ons terug op ons spore – maar net tot in Londen. Daar sal ons toeriste wees vir die dag tot ons Louis die aand weer by St Pancras ontmoet, ‘n huurmotor kry en op die volgende avontuur na Oxford vertrek – maar daarvan vertel ek julle ‘n volgende keer! (Wie onthou vir Pokkel die Eekhoring? Elke storie het só afgesluit. Die laaste episode van die eerste reeks het beloof dat ons in die nuwe reeks sou uitvind wat met Pokkel en sy beminde ná die huweliksfees sou gebeur, maar die volgende reeks is, na my wete, nooit uitgesaai nie. Die impak van leë beloftes op ‘n kindergemoed…)

Maaltijdbox

Weens ‘n baie rowwe maand wat voorlê, het ek besluit om iets te probeer wat ek al lankal wou doen: om ‘n maaltydboks te bestel. En hier is bokse om van te kies en te keur. En as jy die eerste keer bestel, kry jy boonop heelwat korting. So hierdie week probeer ons dus vir Marley Spoon. Volgende week as ek in Nottingham is, kry Louis die bestanddele vir die etes van HelloFresh af, en die week daarna probeer ons Carrefour se simply you box. Erg leuk!

Gisteraand wag ons in spanning op die eerste aflewering – sommer met die Nederlandse posdiens aangery. Ons was al goed honger en ek maar skepties of ek die grênd hoenderkerrie binne ‘n halfuur op die tafel sou kon kry. Alles verloop seepglad en die kos is geurig, ons moes net omtrent skattejag hou vir die hoenderstukkies. Elsa-Marié reken dis Instagram-waardig. Vanaand is “Makkelijke pastinaaksoep met kaas-knoflook breekbrood” op die spyskaart. Elsa-Marié begin kap en kerf aan witwortel, pietersielie, tiemie, knoffel, sit ‘n sonbril op vir die uie, ek spring ook in en ná ‘n yslike spanpoging (ook sop deur die sif druk by gebrek aan ‘n handmenger) is daar geurige sop en ringetjiesbrood op die tafel. Die resep laat dit lyk na 6 stappe, maar dis oëverblindery! Ons is gedaan. Maar Elsa-Marié dink nog dis ‘n yslike sprong in die rigting van die byderwetse ma wat sy nog nooit gehad het nie. Jani en Steyn verlang na die kospotte van Egipte. Louis sê sop is nie kos nie. Môreaand as ek terugkom van Antwerpen af, hoop ek om dadelik aan te sit vir “Libanese Hashweh rijst met lams-rundergehakt en rozijnen” – sal Louis sy hand aan die volgende 6 stappe waag? Die laaste gereg uit hierdie aflewering is “BBQ-pizza met rundergehakt, maïs en rode uienpickle”. Ek vermoed die jongste twee gaan vir Margheritas vra.

Volgende week se boks lyk darem minder ambisieus. Ons sal maar sien. Omdat ek nie hier gaan wees nie, is dit nie my probleem nie. Smakelijk!

Septemberstories in Leuven en elders

Ek spartel deur ‘n oseaan van digitale data. Onderhoude en bloginskrywings en dies meer wat hopelik interessante en bruikbare insigte sal bied op vertalings uit Afrikaans in Nederlands. Ek huiwer om nog bome af te kap of nog ‘n leë inkkasset by te dra tot die groeiende hoop herwinbare afval waartoe ons generasie daagliks bydra. Dalk het dit effens te make met konsepte soos die antroposeen en die “dierwending” waaraan ek onlangs blootgestel is. Maar eintlik probeer ek net om geld te spaar! Onlangs het ek wel toegegee aan die behoefte aan tasbare leesstof waarop ek my waarnemings, vrae en kritiek swart op wit kan neerpen, en het Epson hier skuins voor my bladsy op bladsy uitgespoeg. Tot ek weer die boodskap gekry het dat ek weer by fnac moes uitkom vir nog swart ink teen 34 euro. Dit het my entoesiasme vir harde kopie opmerklik gedemp.

Dit was gister die eerste dag van die nuwe Belgiese skooljaar, wat beteken dat ek die afgelope naweek ook op ‘n missie was om skryfbehoeftes te koop. Nie dat ek, soos in Suid-Afrika, voor die vakansie reeds ‘n ellelange lys van benodigdhede gekry het nie. Dan gebruik mens maar jou logika en sorg vir basiese dinge soos ‘n pennesakkie en kaftpapier – geen oortrekplastiek nie (dié het ek darem verlede week by meester Bruno uitgevind toe ons Steyn se boeke gaan afhaal het) – en ‘n pen, uitveër en liniaal. Ek weet nie hoe goed die boeke sonder plastiek in my seun se sorg gaan hou nie, maar ek verwelkom die feit dat my boekoortrektaak met die helfte verminder is. In elk geval, Steyn kom toe gistermiddag met ‘n hele uitgebreide versameling nuwe skryfbehoeftes by die huis aan. Die skok sal natuurlik later saam met die skoolrekening kom, maar hopelik is dit effens goedkoper as in die winkels, want ek moet sê, skryfbehoeftes is regtig duur hier. Op hierdie punt moet ek dalk net noem dat Steyn ons enigste spruit is wat die nuwe skooljaar hier aangedurf het. Elsa-Marié en Jani het besluit op tuisonderrig vir die laaste drie maande. Dit was nie ‘n maklike besluit nie, en ek besef dit gaan dinge in ons knap huisie in die volgende paar maande bietjie kompliseer, maar so is dit nou. Vir ‘n paar weke voor en tydens die vakansie het ek (nie Louis nie!) ook kans gesien dat Steyn tuisonderrig sou doen, maar toe sy daaglikse balskoppery in die agtertuin probleme skep, het ons besef dit gaan nie deug nie. Danksy drie weke by Don Bosco Speelplein, waarheen kinders kan gaan gedurende die nimmereindigende somervakansie (vanaf 30 Junie – 2 September!), het Steyn ook besluit dis darem baie beter om uit die huis uit te kom, al is dit vir skool…

September gaan nogals ‘n uitdaging wees aan hierdie kant. Toe ons vars hier geland het, het ek orals gehoor van mense wat voorberei vir kongresse of wat dan vertrek na of pas terug is van kongresse af. En dan hoor jy mense is besig om artikels af te rond of te wag vir nuus oor artikels wat reeds ingestuur is vir allerhande publikasies. Nou-ja, dan is dit seker deel van die PhD-ervaring, en boonop klink dit opwindend om reise na eksotiese of minder eksotiese plekke aan te pak in die naam van kennisverbreding en (dalk selfs ook) -verspreiding. Hahahaha, verskoon my terwyl ek waansinnig op die bank gaan sit en lag vir my eie voortvarendheid en FOMO wat my links en regs laat abstrakte instuur het waar daar sprake was van raakpunte met my navorsing. Een na die ander het hierdie hondjie die busse gevang – na Nottingham, na Lviv, na Gent en selfs ‘n virtuele konferensie. En dan is daar ook ‘n artikel wat in die doodsnikke van 2018 ingedien moet word. As iemand dus gewonder het waarom daar maar weinig nuus uit Leuven kom, daar het julle dit nou.

Erg spannend! Maar terwyl ons nou die hele Europa op ons drumpel het, dan gryp jy maar sulke geleenthede aan en kyk wat jy daarvan kan maak. Nog ‘n geleentheid wat ek toevallig raakgelees het, en waarna ek baie uitsien (veral omdat ek net kan gaan luister!), is ‘n konferensie in Brussel, Elk Verhaal Telt, op 17 September. Hoe wonderlik toe ek sien hulle deel hierdie TED-talk van ‘n skrywer wat ek ook onlangs ontdek het, Chimamanda Adichie. Want dis waaroor die konferensie dan ook gaan: “The single story creates stereotypes. And the problem with stereotypes is not that they are untrue, but that they are incomplete. They make one story become the only story.” Kyk dit gerus hier: Het gevaar van een enkel verhaal.

Tot straks!

Michal

Ek het vroeër ‘n nuwe plasing geskryf, maar kan myself nie sover kry om dit te plaas nie. Soos my vriendin Marlene gesê het, hierdie was ‘n “stop all the clocks” oomblik, en sedertdien voel dit so verkeerd om aan te gaan met alles waarmee ons voorheen besig was. Die nuus het met ‘n vreemde draai by ons uitgekom op ‘n doodgewone Dinsdagmiddag. Die ondeunde sproetgesiggie wat ons einde Junie nog voor Amsterdam Centraal gegroet het, was die laaste wat ek by die nuus sou plaas.

Liewe Ingrid, jy is een van daardie mense wat soveel meer gee as wat van jou verwag of gevra word. Dit klink so triviaal om die keer op te roep toe my handsak by Waterworld in die Strand gesteel is met karsleutels, selfoon en al. In plaas daarvan om te wag tot ek vir Louis (wat besig was met eksamineer) in die hande kon kry, het jy ons almal in jou kar geboender en is ons terug Stellenbosch toe om die spaarsleutels te kry. Jani en Steyn kon by Michal speel terwyl ons met die sleutels terug is Strand toe om die kar te gaan haal. Jou doelgerigte en praktiese hulp het die angel uit die verlies van daardie dag gehaal.

Maar al sou ek hoe graag onmiddellik op ‘n vliegtuig wou klim toe ons die nuus hoor, of bosse en bosse blomme wou stuur, of potte en potte kos wou aandra… Geen woorde, geen gebaar, niks op hierdie aarde, gaan hierdie ontsettende verlies ooit vir julle draagliker maak nie. My gebed is net dat daar vir julle in hierdie verskriklike donker tyd, Lig sal wees. Genoeg vir een treetjie op ‘n slag.

Die lewe is broos. Daar is soveel dinge wat ons net nooit sal verstaan nie.

Rus in vrede, klein Michal.

HalllllooO!! (Van Louis)

Hallo maatjies

Verskoon my asseblief namens die Feeskomitee dat ek ʼn massa-e-pos skryf – ek het verlede week weer ʼn verantwoordelikheidsaanval gekry en my verbind om Hoofstuk 2 begin September in te handig, so nou is dit “Hef aan”. Ek slaan nou maar (excuse the pun) ʼn hele klomp vlieë met een klap…

Net om julle op hoogte te bring: ons is toe begin Julie vir 2 weke Engeland toe. Julle sal weet dat ek nog besig is om die Boereoorlog te veg. Verder is ek op rekord dat ek al talle kere gesê het Engeland sou ʼn lekker plek gewees het as dit nie was vir al die Engelse nie. MAAR ek het maar weereens besef dat die bietjie kultuur wat ons Afrikaners/Suid-Afrikaners het, eintlik maar afkomstig is van die Engelse (nie die Hollanders/Duitsers/Franse nie). Ek het nog verskeie ander teorieë in hierdie verband, maar ek wil dit eers patenteer.

So, Engeland bly maar ʼn besondere belewenis. Hier is ʼn paar van my hoogtepunte:

· Choral Evensong in Ely Cathedral.

Ely Katedraal, Cambridgeshire

· Choral Evensong in King’s College Chapel, Cambridge. In albei gevalle was daar ʼn samestand van 2 voorliefdes wat ek het: koormusiek met jou tipiese boy’s treble voices, so eie aan die Engelse koortradisie, en tweedens my liefde vir die Gotiese argitektuur. Wonderlik.

· Ander asemrowende Gotiese katedrale soos Worcester Cathedral (waar King John van Magna Carta-faam, 1215, begrawe is) en Tewkesbury Abbey.

img_20180701_1544359191411714539838677.jpg
Ely Katedraal

· Die “English Countryside”, nog steeds so ongerep: die tipiese “winding country lanes”, dikwels net een voertuigbreedte en sonder skouer, tussen hoë heinings (hedgerows). Die talle klein dorpies, elkeen met sy ou Norman church met ʼn bonkige, vierkantige toring. Die Cotswolds met huise en geboue van die heuningkleurige steen van die omgewing. Die Noordkus van Norfolk.

· Oxford. Christine-Marié Louw, my oud-student wat haar Meesters gedoen het in Merton College (gestig in 1260!!), het ons na plekke toe gevat waartoe ons andersins nie toegang sou gehad het nie. Regtig ʼn besondere plek.

Merton College, Oxford

· CS Lewis se graf op die buitewyke van Oxford (Holy Trinity Church, Headington Quarry). Eenvoudig, onopgesmuk, geen praalgraf of “Heldeakker” nie.

· Die Mildenhall Museum. Ek weet al jarelank van die befaamde “Mildenhall Treasure” (Google dit ʼn bietjie!), en omdat Mildenhall nie ver was van die plek waar ons in Norfolk/Cambridgeshire gebly het nie, het ons gou-gou soontoe gery. Iets besonders.

Bestemmings vir volgende keer (DV): die “West Country”, Wallis.

Ek hoop julle is nou weer op hoogte. Soos Bertie Wooster sou se: “Toodle-Doo!”

Warwick

Begijnhof Bells

As pastoriekind het ek nie net onder die geklank van die Woord grootgeword nie, maar ook van kerkklokke. Elke Sondagoggend wanneer die klok ’n uur voor die diens sou begin, op een afgemete toon geroep het “Kom kerk toe! Kom kerk toe!” (soos my ouma Marie glo vir my ma geleer het) het ons besef dis tyd om te begin regmaak vir kerk. En as die klok die begin van die erediens aankondig, was ons dikwels die derde gelui: om in die kerk se skadu te woon, was geen versekering dat ons altyd betyds vir die oggenddiens sou opdaag nie. As die klok op enige ander dag gelui het, was dit gewoonlik vir begrafnisse – selde was daar trouklokke op Saterdae in dié klein Karoodorpie. Snags was die klok ’n ewige konstante, en elke kwartier van die nag is presies uitgemeet en aangekondig.

Een van die gesange wat ek as een van my vroegste kinderherinneringe saamdra, gaan ook oor klokke:

Ons hoor die Paasfeesklokke:
hul lui van vroegdag af.
Hul jubel oor die wêreld:
Die Heer is uit die graf!
Hy, Christus, die oorwinnaar,
Is uit die donker uit.
Die Heer, die sleuteldraer,
Sal ook my graf ontsluit.

Maar Paasfeesklokke was vir my glad nie anders as die gewone gelui van die kerkklok op elke ander Sondag nie. Dis eers toe ons vanjaar in Dinkelsbühl die Paasdiens bygewoon en die hele diens in die donker en later by kerslig beleef het, en toé die jubelende Paasfeesklokke kort voor die einde van die diens, dat die lied regtig vir my sin gemaak het.

Dan is daar ook die klokkespel waartoe kerkorrels in staat is. Veral een orrelis in een van die gemeentes het ’n besondere liefde vir hierdie vermoë van die orrel gehad, en sy het, veral tydens die Kerssangdienste, dié stops behoorlik uitgetrek. Ek was nog nooit mal daaroor nie, nes ek ook nie ’n liefde vir iets soos melktertgegeurde roomys het nie – as ek melktert wil eet, eet ek melktert; as ek roomys wil eet, eet ek roomys.

En nou kom ek uiteindelik by die eintlike klokke waaroor ek wou skryf: die beiaarde. En België is besaai daarmee – boonop is Leuven blykbaar die plek met die grootste konsentrasie van beiaarde in die wêreld. Daar is op die oomblik vier, en in November word die vyfde ingewy: Beiaard Sint-Pieterskerk in die middel van die stad waar die stadsbeiaardier, Eddy Mariën elke Vrydag van 12:00-13:00 ’n uitvoering gee, De Sint-Geertruibeiaard (hier moet ek nog uitkom voor ons tyd in Leuven uitloop) waar Marc Van Eyck die klokke laat klink, en dan die twee instrumente wat deur die universiteitsbeiaard, Luc Rombouts, bespeel word: Beiaard Universiteitsbibliotheek (een van die grootste beiaarde in Europa) op Dinsdag- en Donderdagaande; en Beiaard Sint-Jan-de-Doperkerk net af in die straatjie van ons af in Groot Begijnhof (die eerste Sondag van die maand en nou in Augustus elke Saterdagmiddag). In November word die vredesbeiaard by Abdij van Park ingehuldig – op my gunstelingdrafroete in Leuven.

Hier word elke uur nie net met die gewone “Dieng-dong-dieng-dong, Dieng-dong-dieng-dong” (x2) en dan die afgemete “Dong! Dong! Dong!” (soveel slae soos wat nodig is) aangekondig nie. Nee, dis ’n melodie – gewoonlik ’n fragment van ’n volksliedjie – en elke beiaard se horlosieliedjie is anders. Elke beiaard klink ook anders, afhangend van die hoeveelheid klokke waaruit dit bestaan en op watter toon hulle ingestem is.

En wanneer ’n beiaardier inskuif agter die stokkenklavier wat met draadverbindings aan die klepels vas is (ek kan nou klokke hoor lui én weet waar die klepel hang…), word ’n gewone dag ’n mengsel van verwondering en heimwee. Terwyl die res van die wêreld net eenvoudig aangaan asof daar niks buitengewoons gebeur nie (’n tortelduif koer in die appelboom agter jou, ’n ambulans jaag in die Binneringpad waarskynlik tot by Naamsepoort en dan na die Heilige Hart Ziekenhuis, ’n vliegtuig laat ’n dampstreep agter op sy roete tussen Brussel en iewers elders in Europa, ’n appel val nié op iemand se kop nie), roer die briesie deur jou hare en wonder jy of daar ooit weer soveel magic in die lewe gaan wees.

Reisgenote

Sy sou seker nie verder oor hulle gedink het as hy homself nie so wraggieswaar in die sitplek aan die anderkant van die loopvlak gaan neerplak het nie. Sy het hulle teen die roltrap op pad na perron 9 vir die eerste keer opgemerk, pas nadat sy haar cappuccino en chocoladekoek (pain au chocolat) by Panos gekoop het en gereed was vir die rit Antwerpen toe. Die gegiggel soos van ʼn klein dogtertjie het haar teen die roltrap op laat kyk – in twee pare bene vas. Aan die regterkant eers die verslete plakkies gevind, toe die maer beentjies wat lyk of dit lanklaas seep en warm water gesien het, ʼn stuk bruin lap daarrondom gedrapeer en wat herinner aan ʼn stukkie deeglik gebreide vel van een of ander pelsdiertjie, ʼn oorgroot los top wat waarskynlik eers wit was en nou meer na vaalbruin neig, en dan die wollerige bruin lokke wat oor die kraag wip. Sy hang aan sy arm en loer skalks oor haar linkerskouer af na háár toe terwyl hulle almal oprys uit die onderwêreld van die stasie.

Geen sprake van jin en jang hier nie – dis vinkel en koljander, die een is nes die ander – dink sy terwyl sy die linkerkant van die prentjie in aanskou neem. Ou stapskoene, los militêre styl bruin broek, verslete swart sweetpaktop met ʼn grys T-hemp wat onder uithang, riempies om die polse, pofferige leersak wat al blink getoer is, militêre styl waterbottel met, dieselfde wollerige lokke met krale versier. Hulle hét nie iets gerook nie, dink sy, hulle rook dit steeds terwyl hulle van die roltrap afstap en ʼn entjie verder voor die trein se oop deure gaan staan. Sy sien nie kans vir dit waartoe hierdie paartjie tydens die uurlange rit Antwerpen toe in staat kan wees nie, en besluit om in die teenoorgestelde rigting by die volgende wa ʼn sitplek te gaan soek. Die trein is baie leeg, en sy kry haar gunstelingplek in die hoekie waar sy op haar skootrekenaar kan werk en nou en dan by die venster kan uitstaar na die groen velde wat nou en dan onderbreek word deur strokies bos en ʼn paar huise wanneer die trein ʼn volgende stasie nader. Sy het net weggeval aan die chocoladekoek toe sy die bruin gedaante uit die hoek van haar oog gewaar en besef hy reis alleen verder. Sy ander helfte het hom net op die stasie kom afsien en hy het dit sowaar reggekry om in die leë trein die sitplek skuins oorkant haar uit te kies. Sy wonder of dit rede tot kommer of komedie kan wees, en maak of sy hom nie sien nie. Hy gooi sy rugsak op die stoel oorkant hom neer, en sit die waterbottel en ʼn ongerookte sigaret (selfgerolde zol, dalk? Sy wil nie haar kop verder draai om beter te kan sien nie…) op die tafeltjie tussen die sitplekke neer.

Sy haal haar skootrekenaar uit en besluit om die paartjie te beskryf, wie weet wat hy nog alles kan aanvang terwyl hy skuins oorkant haar duidelik sukkel om stil te sit. En hy stel nie teleur nie: eers sing hy terwyl sy vingers op die tafeltjie voor hom trommel, toe fluit hy ʼn deuntjie, en toe ontdek hy die koord in die vensterraam waarmee die sonskerm oop- en toegemaak kan word. Hy begin tokkel op die koord en kry dit reg om iets soos die klank van ʼn didgeridoo daaruit op te tower. Hiermee kan sy werk, dink sy tevrede, maar sy aandag is weer elders toe die trein stop en nuwe passasiers in die wa klim.

Die vorige week het sy op pad stasie toe ʼn vrou uit Sierra Leone op die bus ontmoet. Met ʼn heldergeel rok en die kenmerkende pofmoue en reëlmatige patrone daarop het sy haar verbondenheid met hulle gedeelde kontinent verklaar. Mis jy jou land, het sy haar gevra nadat die vrou haar vertel het dat sy tevergeefs gesoek het na ʼn (bekostigbare) haarsalon wat haar hare kon vleg. Europa is vervelig, het die vrou geantwoord en by die venster uitgekyk. Sy het aanvaar die vrou verwys na alles wat soos klokslag hier werk, maar die vrou sê toe dat sy in Afrika altyd iemand het saam met wie sy iets kan doen. Hulle kuier saam, eet saam, doen dinge saam. Dis alleen hier.

Wanneer hy by Lier afklim (die ironie ontglip haar nie), voel sy skielik spyt dat sy nie meer getuie kan wees van enige potensiële ontwrigting waartoe hy moontlik nog in staat sou kon wees nie. Die treinrit verder sal weer saai wees.

Bewakers van die waskamer

Een van die eerste dinge wat ons in Groot Begijnhof opgemerk en oor dankbaar was, was ons bure oorkant die nou keisteenstraatjie. Maar soos dit dikwels in die lewe gaan, het hierdie seëning ʼn byna onhoudbare kruis geword wat ons met geduld en grasie probeer dra. Ons bure bestaan naamlik uit ʼn gesin van ses met ʼn raserige voordeur, en hulle word tydig en ontydig deur die inwoners van die woonerf opgesoek.

Hulle is voorts ʼn noodsaaklike euwel by wie óns ten minste een maal per week, maar hoogstens twee maal per week, vir bystand moet aanklop met ʼn swaar vrag wasgoed (as hulle nie so vrek duur was nie, sou ek dalk meer dikwels daar kon inklok, maar teen €5 vir ʼn groot bondel, dra ons maar ons klere soos goeie Kapenaars in die droogte meerdere kere en word die linne langer gebruik voor dit wasgoedmandjie toe gaan). As ons aan die buitewyke van die buurt gewoon het, sou die heen-en-weer waskamer toe ʼn honderd maal erger gewees het as die terugtogte van Delhaize en Carrefour af met die vragte kos en ander huishoudelike noodsaaklikhede wat die vannerwatts teen ʼn verbysterende tempo verwerk tot ʼn menigte afvalprodukte (wat op verskillende dae van die week/maand in bruin, blou, pienk, groen en papiersakke – om van van grys en swart water nie te praat nie – uit ons midde verwyder word). Daarom die dankbaarheid oor sulke nuttige en hulpvaardige bure.

Maar, net soos ʼn lekkende kraan wat ʼn tydjie neem om tot ʼn mens se bewussyn deur te dring en dan hoe langer hoe meer ondraaglik word, het ons aanvanklik glad nie notisie geneem van die twee industriële tuimeldroërs en vier wasmasjiene en hulle menigte besoekers nie. Ons het immers in die middel van die winter in Leuven beland, en … dubbelglasvensters … wat permanent toe was om die hitte binne en die koue buite te hou. Maar toe die sentrale verhitting afgeskakel word, was dit ook tyd om die vensters oop te gooi, en dís toe die volle omvang van ons bure se geraasbesoedeling en besoekersomset ons tref. As Petrus hier gewoon het, sou hy nog voor die haan drie maal gekraai het, uit sy miskenningsbeswyming ontwaak het, want dis hoe vroeg sommige mense se wasdag hier begin. En dan is daar die naguile wat met hulle wasgoed aangerol kom in reistasse wat kletter oor die keistene in straatjies wat snags so stil is dat jy die spreekwoordelike speld daarop sou kon hoor val. As ʼn mens die feit in ag neem dat die inwoners van die woonerf uitsluitlik internasionale akademici (en hulle gesinne) is, is dit geen verrassing dat hier dikwels by die middernagtelike kersie gesit en werk word nie, maar dis verbysterend dat die effek van die geraas op mede-inwoners nie tot die skuldiges deurdring nie.

Daarom het ek einde Mei ʼn vriendelike briefie aan die administrasie gestuur om te versoek dat inwoners gevra word om asseblief hulle wasbedrywighede snags te beperk. ʼn Vinnige antwoord ontvang dat hulle dit op die volgende vergadering sou bespreek, maar sedertdien is daar slegs geswyg oor die kwessie terwyl die kreunende slot en skarniere van die voordeur en die suisende en fluitende nagtelike kaperjolle van die waskamergesin onder ons slaapkamervenster ons van meer en meer slaap beroof het. Twee weke gelede het ek uiteindelik, toe die deur vir seker die vierde keer ná middernag oop-en-toe kreun en klak, by die venster uitgeleun en die nagtelike besoeker se uitkomslag afgewag. Hy het hom seker besimpeld geskrik vir die onsigbare stem uit die donker hemel, maar het plegtig beloof om in die toekoms sy wasgoed vroeër af te handel.

Ek besef toe dit gaan nie deug om soos ʼn wafferse nagwag elke wasgoedwasser in te wag en oor ons dilemma in te lig nie, en nog ʼn brief aan die administratiewe kantoor volg. Om pro-aktief te wees, het ʼn nota met ʼn vriendelike versoek dat mense asseblief teen 22:00, of hoogstens dan 23:00, klaar moet wees met hulle wasgoed, ook op elke wasmasjien se voorkop verskyn. Ek stuur toe ʼn foto van my handewerk aan ʼn voormalige inwoner van die onderste vloer van ons wooneenheid, wat antwoord dat die nota in hulle tyd al daar gepryk het. Waarop ek verbysterd antwoord dat dit mý vars notas is en dat ek nou éérs jammer is ek dat ek nie lankal die probleem só getakel het nie.

Ons het uiteindelik Admin so ver gekry om die waskamertye tot 22:00 saans te beperk, en die nuutgevonde vredigheid is wonderlik. Nou moet ek nog net iets doen aan die raserige sekuriteitsbeamptes en appeldiewe wat ook snags in die omgewing rondhang.

Diplomacy in action…

België was beduiweld

Ek is baie agter met my blog. Gister se heen-en-terug na Oekraïne se ambassade het darem ’n vinnige stukkie opgelewer, en vandag se tweede rit Saint-Job toe ook (ek wag net vir terugvoer voor ek dit plaas, maar dit handel nié weer oor die ekskursie nie, maar wel oor vuil wasgoed… hou hierdie spasie dop!). Ter wille van my eie swak geheue, sal ek probeer om die agterstand uit te wis en verder op datum te bly, want daar is net vier maande en tien dae oor voor ons weer suidwaarts keer en daar moet nog baie hierdie kant gebeur!

Ons was die eerste twee weke van die kinders se somervakansie Engeland toe – ons het gereken terwyl ons in Europa is, moet ons hierdie kans ook aangryp. Die twee weke kan nie in een blog ingepas word nie, en ek gaan dit ook nie nou probeer doen nie. Maar net voor ons vertrek het, het Voertaal my gevra of ek nie iets oor ons belewenis van die sokker kan skryf nie. Ongelukkig het België toe nie gewen nie, maar die helde-ontvangs wat die sokkerspan met hul aankoms in Brussel gekry het, was nogals iets besonders. Kyk gerus hier na beeldmateriaal van 40 000 Belge wat volksfeest gevier het in Brussel oor hulle brons medalje! En hiermee die stukkie wat ek die oggend voor die kwarteindwedstryd geskryf het, en wat toe by Voertaal verskyn het (met meer foto’s as wat ek nou hier deel):

“Ek onthou so vaagweg die aanloop tot die 2010-sokkerwêreldbeker. Maar oor al die verkeerde redes: die verontwaardiging oor die bou van peperduur stadions wat later wit olifante sou word, die irritasie met bouwerk om elke hoek en draai om voorsiening te maak vir die res van die wêreldbevolking wat sou kom om hulle spanne te ondersteun, die vrese dat die bouwerk nie betyds gaan klaar wees nie en die stakings vir hoër lone soos die W-dag al hoe nader gekom het. Ek onthou ook hoe mense planne gemaak het om munt te slaan uit die storie ‒ deur hulle huise of ekstra kamers uit te verhuur aan sokkerondersteuners, en hoe hierdie drome soos mis voor die son verdwyn het toe die hele wêreld nié opgeruk het na die suidpunt van Afrika nie. En dan was daar die vuvuzelas … van sokker self, weet ek byna niks nie. Ongeveer net soveel soos van rugby, al woon daar twee vurige rugbyondersteuners onder ons dak.

Maar dis weer tyd vir wêreldbekerkoors en hierdie keer sit ons pens en pootjies in ’n sokkerland wat tot die kwarteindronde deurgedring het en vandag teen Brasilië te staan kom. Ter voorbereiding vir ons jaar in België, het ons 10-jarige kannetjie verlede jaar by ’n sokkerklub aangesluit. Ek moes ook vir hom ’n Belgiese sokkerhemp kry terwyl ek ’n somerskool in Antwerpen bygewoon het ‒ om die Duitse een wat ons in 2014 op München Hauptbahnhof aangeskaf het en wat al lekker knap sit, te kon aanvul. So het ons darem probeer dat een persoon in die huis die voetbal sal kan geniet en waardeer.

As iemand wat die fenomeen tot ’n groot mate as ’n onbetrokke buitestaander beleef, het ek tot die gevolgtrekking gekom die geesvang vóór die reeks én voor elke wedstryd, en dan natuurlik die samesyn tydens elke wedstryd, is die belangrikste elemente van hierdie gebeure (of dalk selfs die sport as sulks). Want in die weke (máánde) voor die spanne en ondersteuners uit al die windrigtings op Rusland toegesak het, het die koors al begin broei. Wanneer ek my inkopies by Carrefour gaan doen, vra die student by die kasregister of ek zakjes wil hê. Afhangend van hoeveel euro’s die inkopietog ons teruggesit het, het ek dan meer of minder pakkies met plakkers van Belgiese sokkerspelers gekry. Ons knapie was aanvanklik heeltemal ongeërg daaroor, maar mettertyd het hy daarop aangedring dat ek nét by Carrefour inkopies doen (want by Delhaize kon ek net plakkers kry vir kosblikke of koffieflesse as ek reg onthou), later het hy gesorg dat ek onder sy wakende oog genóég inkopies doen (wat hy dan ook moedig help terugdra het), en uiteindelik my arm gedraai om die plakkerboek van die Belgiese Rode Duivels aan te skaf. Nou kort hy nog iets soos 40 plakkers (van seker 400!) om sy versameling te voltooi, en word ons gepes om dit aanlyn te bestel. Blykbaar kry ons 10% afslag so. Hoe nader aan Junie, hoe meer ondersteunersware vir #redtogether het in swart, geel en rooi op die winkelrakke verskyn ‒ pruike, oortreksels vir motors se kantspieëltjies, bekers, baniere, duiwelhorinkies, vlaggies, mantels, pennesakkies en selfs Rode Duivels-deodorant. Maar hier het ek ’n duidelike en finale streep getrek. Ek neem wel foto’s van die vrolike ondersteuners wat die geld daarvoor uitgevurk het en dit verskaf my eindelose plesier.

Toe die Rode Duivels hulle eerste wedstryd teen Panama speel, was ons jong ondersteuner van sy Belgiese sokkerhemp tot by sy Adidas sokkerstewels reg vir die storie. Maar ’n entjie die wedstryd in het hy buitentoe verdwyn waar hy saam met ons buurvrou en haar suster en ’n vriend hulle eie sokkerwedstryd in ons klein Groot Begijnhoftuintjie aan die gang gekry het. Elke kwartier het hy vinnig die trappe opgebons om te kyk of die Rode Duivels darem al ge-score het of nog voorloop. Toe die Rode Duivels hulle tweede wedstryd teen Tunisië gespeel het, moes ons my sussie en haar man op Leuven se stasie gaan haal, en besluit om deur die Oude Markt te stap waar duisende geesdriftiges voor etlike groot skerms saamgepak het om hulle span en die Belgiese biermark te ondersteun. Die gees was so aansteeklik dat ons dieselfde byna onbegaanbare roete met die moeë reisigers weer aangedurf het sodat hulle dit ook as deel van hulle vakansie-ervarings kon inpak. Die Donderdag toe die Rode Duivels teen Engeland gespeel het, het Steyn op pad huis toe van die skool af ’n groot geluk getref toe hy hom in ’n groep Spaanse sokkergeesdriftiges vasgeloop het. Hulle was besig om voorbrand te maak vir Spanje se wedstryd teen Rusland die Sondag, en Steyn is nou die trotse eienaar van ’n Ramos-sokkerhemp, al was dit toe ook Spanje se adiós in 2018 se Wêreldbeker.

Intussen het ons die Engelse Kanaal oorgesteek vir ’n bietjie vakansie, en beleef ons ook hoe die Engelse hulle span ondersteun. Daar hang natuurlik oral Engelse vlae uit vensters en wapper aan karre. Dinsdagoggend voor hulle teen Colombië te staan sou kom, het ons vinnig in Ely by ’n boekwinkel gestop. ’n Wildvreemde kêrel was daardie tyd van die dag al so vrolik, dapper en hoopvol genoeg vir sy span, dat ons tienerdogter ’n hibiskusblom aangebied is. As opkomende feminis het sy dit trots van die hand gewys, maar ons was vir sy onthalwe later bly dat die Engelse gewen het, want ek kan my net die dronkverdriet indink wat op ’n nederlaag sou volg ná so ’n uitgebreide aanloop tot die wedstryd.

Soos reeds genoem, speel die Rode Duivels vandag in die kwarteindronde teen Brasilië in Kazan. As ek die bookies reg verstaan, is laasgenoemde by verre die gunstelinge om vandag te wen. Maar in ’n reeks wat deur verskeie verrassings gekenmerk word, en omdat ons nog vir vier maande saam met vrolike Belge wil saamleef, is my geld op die Rode Duivels.”

Struikelblok(ke) op pad na die Oosblok

Sy moes geweet het, die oomblik toe sy op die bus klim en besef dat sy haar foon in die kombuis vergeet het waar dit nog gelê en laai het, dat hierdie dag nie so goed gaan uitdraai nie. Sy hét eintlik geweet, maar het die wete saam met die angstigheid van haar probeer afskud. Hoe moeilik kan dit wees om ʼn ambassade 350 meter van die treinstasie af te vind? En daar sal immers oral mense wees wat sy kan vra.

Dis ʼn vreemde buurt in Brussel, en haar herinneringe aan die kaart op Google Maps wat sy die vorige aand net vlugtig geraadpleeg het sodat sy kon sien by watter stasie sy moes afklim, het so vervaag dat sy nie eers die straatnaam kan onthou nie. By die eerste straat draai sy regs af – dit lyk darem soos die sakegebied al is die meeste plekke nog toe. Dis byna kwart voor tien, maar sy het tyd – haar afspraak is eers 10:27. Verder af sien sy mense in ʼn haarsalon, en hier word haar vraag heen-en-weer gegooi in Engels, Frans en Nederlands tot die kliënt wat op daardie oomblik voor die spieël sit met styfgekrulde hare wat nog uitgeborsel moet word, te kenne gee dat sy darem weet waar die ambassade is. Goed, tolk die haarkapster in Nederlands en verplaas die borsel na haar linkerhand soos sy beduie, jy volg die tremspoor na bo, oor die brug en draai dan regs in Albert Lancasterlaan. Sy herhaal die instruksies en dit klink eenvoudig genoeg.

Terug teen die bult uit, oor die brug en regs. Maar die straatnaam is nie reg nie, dalk kom dit nog. Toe sy Rue de l’Equateur kruis, bedink sy haar en wonder of sy nie die tremspoor nog ʼn entjie verder moes volg nie. Sy draai om en stap later by twee mans verby wat by ʼn bushalte wag. Die een het sy foon in sy hand en sy hoop –

Hoekom hieroor skryf? Hoekom sal mense wil lees oor iemand se oggend wat heeltemal skeefgeloop het en waarvan sy probeer sin maak op haar terugtog Leuven toe? Wat maak dit alles saak en wie gee boonop om? Wat maak sy hier in ʼn vreemde land omsingel deur mense wat doelgerig en saaklik hulle gang gaan terwyl sy nie weet waarheen sy op pad is of hoe sy daar gaan kom nie? Wat wil sy in die Oekraïne gaan maak met ʼn referaat oor die resepsie van vertaalde oorlogsverhale uit die noorde en die suide, terwyl hulle met hulle eie Krimea in die ooste worstel?

Sy weet nie. Sy weet net dat sy nou ʼn stempel op haar bankstate moet kry by die naaste KBC en ʼn ander brief van die mediese versekering wat verklaar dat hulle wel enige eise wat in die Oekraïne sou opduik, sal dek. En dan moet sy more wéér die melktrein Saint-Job toe neem om die visumaansoek af te gee. Ten minste weet sy nou waar dít is.