Ek het vroeër ‘n nuwe plasing geskryf, maar kan myself nie sover kry om dit te plaas nie. Soos my vriendin Marlene gesê het, hierdie was ‘n “stop all the clocks” oomblik, en sedertdien voel dit so verkeerd om aan te gaan met alles waarmee ons voorheen besig was. Die nuus het met ‘n vreemde draai by ons uitgekom op ‘n doodgewone Dinsdagmiddag. Die ondeunde sproetgesiggie wat ons einde Junie nog voor Amsterdam Centraal gegroet het, was die laaste wat ek by die nuus sou plaas.

Liewe Ingrid, jy is een van daardie mense wat soveel meer gee as wat van jou verwag of gevra word. Dit klink so triviaal om die keer op te roep toe my handsak by Waterworld in die Strand gesteel is met karsleutels, selfoon en al. In plaas daarvan om te wag tot ek vir Louis (wat besig was met eksamineer) in die hande kon kry, het jy ons almal in jou kar geboender en is ons terug Stellenbosch toe om die spaarsleutels te kry. Jani en Steyn kon by Michal speel terwyl ons met die sleutels terug is Strand toe om die kar te gaan haal. Jou doelgerigte en praktiese hulp het die angel uit die verlies van daardie dag gehaal.

Maar al sou ek hoe graag onmiddellik op ‘n vliegtuig wou klim toe ons die nuus hoor, of bosse en bosse blomme wou stuur, of potte en potte kos wou aandra… Geen woorde, geen gebaar, niks op hierdie aarde, gaan hierdie ontsettende verlies ooit vir julle draagliker maak nie. My gebed is net dat daar vir julle in hierdie verskriklike donker tyd, Lig sal wees. Genoeg vir een treetjie op ‘n slag.

Die lewe is broos. Daar is soveel dinge wat ons net nooit sal verstaan nie.

Rus in vrede, klein Michal.

1 thoughts on “Michal

Lewer kommentaar