Die blog kort baie aandag! Ons het nie eers ons laaste stukkie in Leuven gedeel nie (dit was woes besig en soms ook moeilik, dalk vertel ek eendag van ons laaste bietjies lief en leed daar). Intussen is ons terug in die boesem van Mama Afrika – ook ligter en donkerder tye beleef (letterlik midde-in beurtkrag hier geland) en die lewe in Stellenbosch het nie kans gegee vir veel skryfplesier nie. Vir nou wil ek graag net hierdie bloginskrywing van een van ons vriende in Leuven deel. As daar een aspek van ons Belgiese verblyf is wat uitstaan, is dit die kerkfamilie wat ons leer ken het by St Martha & St Mary’s Anglican Church. Hiermee Lloyd se gedagtes rondom die nuwe weergawe van The Lion King – dis iets besonders:

via 'Remember who you are': Living well in The Lion King

Bewakers van die waskamer

Een van die eerste dinge wat ons in Groot Begijnhof opgemerk en oor dankbaar was, was ons bure oorkant die nou keisteenstraatjie. Maar soos dit dikwels in die lewe gaan, het hierdie seëning ʼn byna onhoudbare kruis geword wat ons met geduld en grasie probeer dra. Ons bure bestaan naamlik uit ʼn gesin van ses met ʼn raserige voordeur, en hulle word tydig en ontydig deur die inwoners van die woonerf opgesoek.

Hulle is voorts ʼn noodsaaklike euwel by wie óns ten minste een maal per week, maar hoogstens twee maal per week, vir bystand moet aanklop met ʼn swaar vrag wasgoed (as hulle nie so vrek duur was nie, sou ek dalk meer dikwels daar kon inklok, maar teen €5 vir ʼn groot bondel, dra ons maar ons klere soos goeie Kapenaars in die droogte meerdere kere en word die linne langer gebruik voor dit wasgoedmandjie toe gaan). As ons aan die buitewyke van die buurt gewoon het, sou die heen-en-weer waskamer toe ʼn honderd maal erger gewees het as die terugtogte van Delhaize en Carrefour af met die vragte kos en ander huishoudelike noodsaaklikhede wat die vannerwatts teen ʼn verbysterende tempo verwerk tot ʼn menigte afvalprodukte (wat op verskillende dae van die week/maand in bruin, blou, pienk, groen en papiersakke – om van van grys en swart water nie te praat nie – uit ons midde verwyder word). Daarom die dankbaarheid oor sulke nuttige en hulpvaardige bure.

Maar, net soos ʼn lekkende kraan wat ʼn tydjie neem om tot ʼn mens se bewussyn deur te dring en dan hoe langer hoe meer ondraaglik word, het ons aanvanklik glad nie notisie geneem van die twee industriële tuimeldroërs en vier wasmasjiene en hulle menigte besoekers nie. Ons het immers in die middel van die winter in Leuven beland, en … dubbelglasvensters … wat permanent toe was om die hitte binne en die koue buite te hou. Maar toe die sentrale verhitting afgeskakel word, was dit ook tyd om die vensters oop te gooi, en dís toe die volle omvang van ons bure se geraasbesoedeling en besoekersomset ons tref. As Petrus hier gewoon het, sou hy nog voor die haan drie maal gekraai het, uit sy miskenningsbeswyming ontwaak het, want dis hoe vroeg sommige mense se wasdag hier begin. En dan is daar die naguile wat met hulle wasgoed aangerol kom in reistasse wat kletter oor die keistene in straatjies wat snags so stil is dat jy die spreekwoordelike speld daarop sou kon hoor val. As ʼn mens die feit in ag neem dat die inwoners van die woonerf uitsluitlik internasionale akademici (en hulle gesinne) is, is dit geen verrassing dat hier dikwels by die middernagtelike kersie gesit en werk word nie, maar dis verbysterend dat die effek van die geraas op mede-inwoners nie tot die skuldiges deurdring nie.

Daarom het ek einde Mei ʼn vriendelike briefie aan die administrasie gestuur om te versoek dat inwoners gevra word om asseblief hulle wasbedrywighede snags te beperk. ʼn Vinnige antwoord ontvang dat hulle dit op die volgende vergadering sou bespreek, maar sedertdien is daar slegs geswyg oor die kwessie terwyl die kreunende slot en skarniere van die voordeur en die suisende en fluitende nagtelike kaperjolle van die waskamergesin onder ons slaapkamervenster ons van meer en meer slaap beroof het. Twee weke gelede het ek uiteindelik, toe die deur vir seker die vierde keer ná middernag oop-en-toe kreun en klak, by die venster uitgeleun en die nagtelike besoeker se uitkomslag afgewag. Hy het hom seker besimpeld geskrik vir die onsigbare stem uit die donker hemel, maar het plegtig beloof om in die toekoms sy wasgoed vroeër af te handel.

Ek besef toe dit gaan nie deug om soos ʼn wafferse nagwag elke wasgoedwasser in te wag en oor ons dilemma in te lig nie, en nog ʼn brief aan die administratiewe kantoor volg. Om pro-aktief te wees, het ʼn nota met ʼn vriendelike versoek dat mense asseblief teen 22:00, of hoogstens dan 23:00, klaar moet wees met hulle wasgoed, ook op elke wasmasjien se voorkop verskyn. Ek stuur toe ʼn foto van my handewerk aan ʼn voormalige inwoner van die onderste vloer van ons wooneenheid, wat antwoord dat die nota in hulle tyd al daar gepryk het. Waarop ek verbysterd antwoord dat dit mý vars notas is en dat ek nou éérs jammer is ek dat ek nie lankal die probleem só getakel het nie.

Ons het uiteindelik Admin so ver gekry om die waskamertye tot 22:00 saans te beperk, en die nuutgevonde vredigheid is wonderlik. Nou moet ek nog net iets doen aan die raserige sekuriteitsbeamptes en appeldiewe wat ook snags in die omgewing rondhang.

Diplomacy in action…

Amper in die bollie: hoe die domino-effek jou wêreld van dans na dinges kan omkeer

Toe ek en Elsa-Marié uiteindelik veilig op die trein na Leuven sit, maak ons grappies oor hierdie aand wat my byna van my trollie af gehad het. Dit het begin met ‘n rustige stappie bushalte toe in Naamsestraat. Daar gekom, gesien die halte word nie bedien nie en toe gesien hoe die ander bus afdraai na die volgende halte toe. Ons hardloop vir die bus en maak dit net-net.

By die stasie moes my radars al opgetel het iets is weer aan die gang op B-rail, want byna al die treine is vertraag – ons s’n darem net 6 minute met nog genoeg tyd om oor te klim op Brussel-Zuid. Maar helaas word ons trein met nog 2 minute vertraag, wat op die ou end die aand behoorlik laat ontspoor het. Want by Brussel-Zuid hardloop ons soos naellopers van perron 12 na 21 net om voor “Niet instappen” en geslote treindeure te kom – sekondes te laat! Die volgende trein ‘n halfuur later sou ons ook nog betyds by die dansklas bring, en ek en Elsa-Marié besluit om die stasie te verken. Heeltemal onbewus van die dramas wat minder as ‘n uur vroeër daar afgespeel het. Terwyl ek verveeld op Twitter soek waarom daar soveel vertragings op die netwerk is, kom ek toe op die berig af. Geen teken van massahisterie in ons omgewing nie en ons klim rustig op ons trein. Wat toe nie vertrek nie – want blykbaar soek die polisie toe na ‘n “dief” op die spore en alle treinverkeer word met (nog) ‘n halfuur vertraag.

Nou kyk, as jy €13.20 betaal het vir retoerkaartjies om jou kind by haar dansklas te kry, dan byt jy vas. Sy sal gaan dans al is dit net vir 15 minute! Terwyl Elsa-Marié dans, soek ek alternatiewe reisplanne sodat sy darem langer kan dans, en besluit op ‘n roete wat die eenvoudigste lyk: bus tot by ‘n stasie vernoem na Mozart (klink heel gekultiveerd), stap ‘n entjie na Vorst-Zuid Station (Forest in Frans – klink heel landelik), van daar af op die volgende trein na Brussel-Zuid en dan Leuven toe. Ek verwens myself omdat ek vanaand nie kontant ingesit het soos my ma my geleer het nie, maar daar is genoeg tyd om te gaan trek naby die studio. Toe ek al aan die oorkant van die straat is op pad terug met my €30 in my sak, roep iemand in Frans agter my aan. Dit kon die toppunt van die aand se drama gewees het as ek later ontdek het dat ek my bankkaart in die OTM vergeet het, maar hierdie vrou het tot my redding gekom. My Franse woordeskat is uiters beperk, maar ek weet darem hoe om die dankbaarste “merci beaucoup” van alle tye te uiter.

Fast forward, ons hop ná die dansklas op die beplande bus wat ons neem tot by ‘n halte in die middel van ‘n industriële area. Die busbestuurder lyk self besorg toe hy ons aflaai, maar Google maps verseker my ons is naby die regte stasie. Terwyl ons die stasie nader, word ons getref deur ‘n minder aangename aroma wat al hoe sterker word. Geen teken van mense nie, geen teken van stasiegeboue nie, maar wel ‘n bordjie wat ons in die rigting van spore 1&2 beduie. Ons besef daar is geen uitkomkans nie en ons hardloop teen die trappe van die duikweg af en weer teen die trappe na spoor 2 toe op. Dis toe dat ons besef waar die klankie op die briesie vandaan kom – die dam langs die spoor is nie net ‘n gewone dam nie. Ek loer benoud op my horlosie, en maak weer seker op die app dat ons trein na Brussel-Zuid wel hier gaan stop oor 20 (!!!) minute.

This is the stuff of nightmares, dink ek maar ons maak senuweeagtige flou grappies oor die leë waterbottels en die boek in my sak waarmee ons onsself sou kon verdedig as ‘n verdagte persoon iewers sou verskyn en dit waag om naby ons te kom. En ek stuur skietgebede op en vra vir beskerming, want om eerlik te wees was ek nog nie baie in my lewe só bang nie. Uit een van die geboue kom daar later ‘n netjiesgeklede man aangestap, later nog een – minute voor die trein opdaag. Die eerste verseker my dat die trein wel daar sal stop, en kort daarna kon ek en Elsa-Marié met ‘n sug van verligting op ons sitplekke neerval.

Terug in Leuven ontdek ons dat Bondgenotenlaan tydelik herdoop is tot Bondgenietenlaan met skares mense wat oor ‘n blou tapyt drentel van food truck na food truck (koswa klink nie vir my na die regte ding nie…). Dis gesellig en vrolik en die grootste kontras teenoor die perron langs die riooldam in die stil na-ure van ‘n industriële area waar ons ‘n halfuur vroeër was. Wat ‘n aand!

Neute tussen mieliepitte in die Paastyd

Kruidtuin, Leuven
Louis in die Kruidtuin, Leuven

Soos julle almal weet, is ek en Marike albei vir ons Doktorale studies in Leuven. Vir my beteken dit op hierdie stadium hoofsaaklik navorsing, en hier het ek toegang tot ʼn oënskynlik onuitputbare bron van materiaal. So ek kry elke oggend ʼn verantwoordelikheidsaanval en gaan bib toe vir leeswerk oor my onderwerp, wat verband hou met die Kyrie eleison (“Here, wees genadig”) en verwante formules, en hulle plasing binne ʼn konteks van lofprysing.

Dit is  ʼn verrykende veld van ondersoek vir my as student, hoewel dit uiteraard ʼn intellektuele aktiwiteit is. Dis soos mieliepitte wat eers fyngemaal moet word voor dit verteerbaar word. (Twee heeltemal irrelevante opmerkings: 1. Nee, ek weier om eerder ʼn Bolandse metafoor met druiwe of wyn of so iets te skep, en 2. Die verwysing na mieliepitte herinner my aan ʼn reklame vir mielies wat ek as seuntjie in die Vrystaat in “Landbouweekblad” gelees het en tot vandag toe nog onthou: “Mielies sit die pit in pap; mieliepap sit die pit in jou!”)

Om tot die punt (pit?!) te kom: die mieliepitte van my leeswerk moet eers verwerk word voor ek dit kan internaliseer. Maar so nou en dan is daar tussen die mieliepitte die verrassing van ʼn paar neute wat dadelik, sonder prosessering, geniet kan word. Daarmee bedoel ek verrykende geestelike insigte wat hulle onverwags “presenteer” en direk tot my spreek.

Een so ʼn voorbeeld: ons het almal al Kersfeespreke gehoor oor die “skaduwee van die Kruis wat reeds oor die Krip val”. ʼn Nuwe perspektief hierop lees ek die ander dag “toevallig” raak. In Lukas se Kersverhaal kry ons twee maal die kombinasie van drie konsepte in verband met Jesus se geboorte: “toegedraai in doeke – neergelê – krip.” Ons lees in Lukas 2:7 “Sy het haar eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ʼn krip neergelê…” In Lukas 2:12 sê die engel aan die skaapwagters “En dit is vir julle die teken: julle sal ʼn kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ʼn krip .”

En nou die aangrypende: in Lukas se vertelling van Jesus se kruisdood skryf hy met betrekking tot die optrede van Josef van Arimatea die volgende (Lukas 23:53): “Nadat hy dit [Jesus se liggaam] van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in ʼn rotsgraf neergelê…” – weereens die drie elemente. Dit is asof Lukas ons reeds met die Kersverhaal voorberei het op wat nog kom. Die drie elemente word reeds in die Geboorteverhaal aangewend as ʼn tipe “premonition” of “voorafskaduwing” van wat op die ou end met die Kindjie gaan gebeur. Dit word soos ʼn refrein in ʼn mineurtoonsoort.

Die “neerlê” is vir my ook ʼn algemene beeld van Jesus se werk en menswording: Hy daal neer in ons menslike bestaan. Hy gaan lê in die krip om ons mensebestaan aan te neem, en Hy  gaan lê in die graf om ons doodsbestaan weg te neem. En die laaste woord is: Χρίστος άνέστη! Christus het opgestaan…

O Groβe Lieb, o Lieb ohn alle Maβe

Die Dich gebracht auf diese Marterstraβe!

Ich lebte mit der Welt in Lust und Freuden,

Und Du musst leiden.

Ek mis julle! (Jani)

Mea, Fleur, Alma, Steph en Morkel. Ek wens julle was hier. Dit is so wonderlik! Dit sou lekker gewees het as julle hier saam by ons kon bly het. Julle sal die skool so baie geniet! Alhoewel van die kinders nogals vloek by die skool, is hulle baie vriendelik! Almal in my klas is my vriende. Hulle gee om of jy hartseer is, en sal jou sommer laat glimlag. Hierdie skool is net die beste.

En die kos! Elke dag eet ons frietjes (slaptjips) en ander lekker kos! Ek is mal oor my kamer, al moet ek dit met my suster deel. Dit is baie ontspannend om in my warm kamer te lê, na Twenty One Pilots te luister, en te teken. Ons het ook ’n klavier gekry wat my maklik besig hou. Mea sal baie daarvan hou! Fleur sal weer baie hou van al die anime winkels en mangas. Daar is ’n klein dammetjie naby met ’n groot blou brug oor, waarvan Alma sal hou. Ek dink Steph sal hou van die vensters waar ons mense kan prank! Morkel sal weer hou van al die bands wat al in Antwerpen gaan speel het.

Dijlepark, Leuven
Die blou bruggie in Dijlepark.
Sint-Donatuspark, Leuven
Sint-Donatuspark, Leuven

Die blomme in ons tuin

 

Hier volg die produk van my waarneming van ons drie spruite.

Elsa-Marié (14 going on 27). Sterk persoonlikheid. Baie deursettingsvermoë en wilskrag: as sy haar kop/hart op iets gesit het, sal sy nie rus totdat dit behaal is nie. Baie kreatief (ʼn chef-in-wording, kunstig, musikaal, goed met handewerk, soos borduur). Perfeksionisties – en derhalwe ʼn uiters “high maintenance” tiener (die korrelaat: ouers wat moet bontstaan). Bitter min dinge/mense voldoen aan haar standaarde. As ek in materiële terme haar standaarde moes handhaaf, sou ek ʼn miljoenêr moes gewees het (!). Baie goeie smaak in kleredrag. Hoë IK asook emosionele intelligensie. Taai – nooit ʼn sweem van selfbejammering by haar nie. Sterk sin vir regverdigheid en eerlikheid.  ʼn “Modern-day suffragette” (“Feminists of the world, unite!”). Koppig. (Opsommend: nou toe nou, baie soos ek!). Sy gaan nog die wêreld stormloop (en verower…).

Jani (13). Ons “vrye gees”. Dink totaal uit die boks. Kyk met verwondering na die wêreld. Sien dinge op ʼn ander, en nuwe, manier raak. Natuurkind – kan pragtige, in-détail foto’s van die natuur neem. As sy vlerkies sou gehad het, sou sy soos ʼn engel of feetjie oor die wêreld gevlieg het. Sagte hart: het ʼn aanvoeling en empatie vir enigiemand wat ongelukkig is, en reik uit. Steur haar nie aan konvensies nie (beslis ʼn Van der Watt-geen!). Kunstig – haar tekeninge het dikwels ʼn unieke, “quirky” karakter. Baie musikaal. ʼn Tegnologie-boffin – daar is reeds bewyse dat sy ʼn gevreesde kuberkraker sal kan word as sy wil (vra maar vir Marike hoeveel keer Jani dit al reggekry het om haar internet-moniteringsmaatreëls te “bypass”!). Het ʼn besondere humorsin. Maak maklik vriende. ʼn Baie spesiale plekkie wag op haar in die lewe.

Steyn (10). Besonder lewendig. Nuuskierig en ondersoekend: vra gedurig vrae. ʼn Groot kapasiteit vir entoesiasme – hy verlustig hom in baie dinge. As iets hom boei, gaan hy groot daarvoor (soos byvoorbeeld met betrekking tot enigiets oor die Tweede Wêreldoorlog  – hy weet baie meer daarvan as wat ek ooit op skool geweet het). Demonstratief met sy gevoelens, of dit nou positiewe of negatiewe gevoelens is. Put ʼn genot uit dinge skoonmaak/opruim – hy het reeds die beginsel “Begin die werk met die vooruitsig hoe bevredigend die eindproduk daar gaan uitsien” geïnternaliseer. ʼn Opgewekte gees (ek het nog nooit twee kinders so baie hoor lag soos Steyn en Jani nie). Baie wilskrag en deursettingsvermoë. “Relate” baie goed met mense van enige ouderdom. Het baie pelle – hulle ry die hele woonbuurt vol en kuier/speel vir die vale. Gaan met dieselfde vertroue eendag die lewe binnegaan.

Die drie saam is soos die Verenigde Nasies: donkerkop, rooikop, ligtekop, en boonop elkeen met ʼn eie persoonlikheid. Dis maklik om lief te wees vir hulle. En ek is baie dankbaar vir elkeen van die drie – geskenke van Bo.

Leuven Stadshuis, Grote Markt
Leuven Stadshuis, Grote Markt, Maart 2018

’n Oomblik van stilte, en ’n brandalarm

Oorkant my kampus in Antwerpen, is die Sint-Andrieskerk, waar hierdie pragtige skat bewaar word. Ek hunker al vandat ons hier aangeland het om ’n draai daar te maak, maar elke keer was dit of gesluit of ek het gevoel daar is nie tyd nie. Maar vanoggend het ek die vroeë trein gehaal, en danksy die reën toe ook die trem, en ek besluit toe om eers hier te stop voor die dag begin. Die kerk het ’n wonderlike atmosfeer, deels te danke aan die koormusiek wat saggies oor die luidsprekers gespeel word, en dan is dit natuurlik ook nie ’n tourist trap soos ander kerke met hulle wêreldberoemde skatte nie.

Preekstoel Sint-Andries
Jesus roep Sy eerste dissipels, Petrus en Andreas.
Preekstoel Sint-Andries
Verbasing – roep U regtig vir my?
Preekstoel Sint-Andries
Gewillig: hy los alles net so en begin vir Jesus volg.
Preekstoel Sint-Andries
Jesus roep Sy eerste dissipels

Die preekstoel, uit hout gekerf deur Jan-Baptist Van Hool en Jan-Frans Van Geel (1821), beeld die roeping van Jesus se eerste dissipels, Petrus en Andreas, lewensgroot en in die fynste besonderhede uit. Kyk net die roeiboot, die nette, die visse en skulpe, maar ook die dissipels se reaksies. Ek vertaal ’n uittreksel van die inligtingsblad by die preekstoel:

“Terwyl Petrus en Andreas besig is met hulle werk as vissermanne, kom roep Jesus hulle om vissers van mense te wees (Matt.4:18-20). Sonder om te huiwer, maar tog ook vol verbasing oor hierdie verrassende oproep, laat hulle hul nette net daar.

“Is hierdie radikale en skielike ommekeer in die lewens van hierdie twee mense, te midde van hulle besige beroepsaktiwiteite, nie ook vir ons ’n uitnodiging om na te dink oor dit waarmee ons besig is nie?”

Heer God, Gij houdt nooit op om de mensen ter harte te nemen. Wij vragen U: laat altijd opnieuw jonge en oudere mensen door Uw unieke Zoon Jezus aangesproken worden…

Mogen zij in gebed en in actie zich geheel aan U toewijden en zich van harte aan de Kerk en aan de mensen geven. Dit vragen wij U in Jezus’ naam.

Ek dryf op ’n wolkie by die kerk se deure uit en by die CETRA-kantoor in. En nie lank daarna nie, skel die brandalarm en moet die hele gebou ontruim word. Almal los alles net so en skarrel uit die gebou en in Antwerpen se koue motreën in. Dit was darem net ’n brandoefening, maar ek hét eers gewonder of ek nie eers my rekenaar moes oppak en my rugsak met my beursie en waardevolle notas moes saampiekel nie…

 

 

Louis kruip weg agter die badkamerspieël

Louis van der Watt
Louis in Carnegie Hall, April 2015. Foto: Gideon van der Watt

Marike wil hê ons moet elkeen iets oor onsself skryf, maar ek wil eerder iets oor elke kind skryf. Ek hou nie daarvan om na myself te kyk nie. Dis ook een van die voordele van ʼn nommer-2 of poenskop haarstyl: ek hoef nie in die spieël te kyk nie, want ek hoef nooit hare te kam nie. Ek kyk net skrams na myself (soos wat die teoloog Barth sê ʼn mens na die duiwel moet kyk), en dis wanneer ek elke tweede dag skeer. Boonop doen ek dit in net 12 hale (=36 sekondes), wat twee hale beter is as Speurdersersant Tromp Kramer se rekord. (Vir die wat nou “Hûh?” gaan: Kramer is saam met sy sidekick, “Bantu Detective” Zondi, die hoofkarakter in James McClure se speurromans wat in die apartheidsera Suid-Afrika afspeel. McClure is eventueel deur die apartheidsnarre gedeporteer. Vir enigiemand wat in die 50’s of vroeë 60’s in Suid-Afrika gebore is, roep die boeke sterk herinneringe aan die gees en die “atmosfeer” van daardie tydperk op. ʼn Paar klein voorbeelde: die gebruik onder baie (meeste?) Afrikaners en ook Suid-Afrikaanse Engelse in daardie era om enige sinnetjie in Engels te eindig met “…hey?”; die BB “Best Brand” tabakadvertensies op groot tin-/emaljeborde op die verandas van winkeltjies, die SAP met hulle blou uniforms en pette en wit polisiekarre, die polities-nie-meer-korrekte aanspreekvorms en segswyses van daardie tyd. En tussendeur, op ʼn baie fyn, subtiele wyse, laat McClure die klein en groot onregte van daardie era deurskemer.)

En nou, basta. Ek skryf dalk ʼn volgende keer iets oor hoe ek die kinders sien.

Louis neem die Belge onder die loep

Grote Markt, Antwerpen
Net voor die selfiestok die gees gegee het… (Grote Markt, Antwerpen)

Goed, soos beloof, enkele opmerkings oor my waarnemings van Belge. Eerstens: ek kan net oor die Vlaminge praat, nie die Franssprekende Wale nie, aangesien ons in ʼn Vlaamse Provinsie (Vlaams-Brabant) bly. Tweedens: ek kry dikwels lag as mense slegs vir ʼn kort tydjie in ʼn klein stukkie van ʼn bepaalde land was, maar dan agterna kom met wilde veralgemenings oor die inwoners van die hele land (“Die Amerikaners is so-en-sus”, “Die Duitsers is sus-en-so”) – dis wel ʼn baie menslike, en selfs “endearing” fout. So neem asseblief my opmerkings met die nodige knippie sout op!

Ek vind die Vlaminge vriendelik en oop. Daar is beslis ook ʼn pro-Afrikaner gesindheid by sommige van hulle,  sonder dat daar ʼn nasionalistiese of rassistiese subteks is  (ʼn busbestuurder het byvoorbeeld so in die ry ʼn lang gesprek met my gevoer waaruit duidelik geblyk het dat hy empatie het met die Afrikaner as groepering in SA). Telkens al het Vlaminge ook ons aksent/taal goedkeurend geïdentifiseer as Afrikaans. Die Belge (let op die veralgemening!) het ook effens ander gene as die ander Wes-Europese nasies soos die Duitsers of Skandinawiërs, en dit kan ʼn mens sien aan die gelaatstrekke.

Hulle is myns insiens ook baie anders as die Nederlanders: laasgenoemde vind ek luid, overbearing, oorlopend van selfvertroue. Hulle Nederlands is ook baie meer “binnensmonds” en nasaal as Vlaams. Ek het al lankal die teorie dat die Amerikaners die nasale twang in hulle aksent, asook hulle oorlopende selfvertroue, by die Hollanders geërf het. (Hier moet ek tog ook maar verwys na een van Churchill se opmerkings oor iemand wat beskou was om baie nederig/vol humility te wees: “Ja, maar hy het baie om oor nederig te wees” [!] – die Hollanders en Amerikaners het seker baie om op trots te wees!). Die Belge meer ordentlik (=nederig) in hierdie opsig.

Miskien moet ek dan afsluit met nog ʼn teorie van my: ek dink die Afrikaners sou ook te veel van die Hollanders se oormatige selfversekerdheid gehad het as dit nie was vir die temperende en heilsame invloed van die Skotse predikante (die Murray’s, MacGregors, O’Kennedy’s) nie. Vir hulle het waardes gegeld soos nederigheid; dat jy die ander persoon hoër as jouself ag en hulle belange vooropstel; dat jy nie jou eie trompet blaas of grootpraat nie; dat jy nie hoogmoedig moet wees nie (en hierdie waardes is nie-verbaal vanaf Van der Watt- asook vanaf Nel-kant aan ons oorgedra).

En hierdie waardes het hulle eie beloning: ʼn object lesson daarin is die feit dat Skotland die Engelse Saterdag pak gegee het in ʼn Sesnasie-wedstryd!