Michal

Ek het vroeër ‘n nuwe plasing geskryf, maar kan myself nie sover kry om dit te plaas nie. Soos my vriendin Marlene gesê het, hierdie was ‘n “stop all the clocks” oomblik, en sedertdien voel dit so verkeerd om aan te gaan met alles waarmee ons voorheen besig was. Die nuus het met ‘n vreemde draai by ons uitgekom op ‘n doodgewone Dinsdagmiddag. Die ondeunde sproetgesiggie wat ons einde Junie nog voor Amsterdam Centraal gegroet het, was die laaste wat ek by die nuus sou plaas.

Liewe Ingrid, jy is een van daardie mense wat soveel meer gee as wat van jou verwag of gevra word. Dit klink so triviaal om die keer op te roep toe my handsak by Waterworld in die Strand gesteel is met karsleutels, selfoon en al. In plaas daarvan om te wag tot ek vir Louis (wat besig was met eksamineer) in die hande kon kry, het jy ons almal in jou kar geboender en is ons terug Stellenbosch toe om die spaarsleutels te kry. Jani en Steyn kon by Michal speel terwyl ons met die sleutels terug is Strand toe om die kar te gaan haal. Jou doelgerigte en praktiese hulp het die angel uit die verlies van daardie dag gehaal.

Maar al sou ek hoe graag onmiddellik op ‘n vliegtuig wou klim toe ons die nuus hoor, of bosse en bosse blomme wou stuur, of potte en potte kos wou aandra… Geen woorde, geen gebaar, niks op hierdie aarde, gaan hierdie ontsettende verlies ooit vir julle draagliker maak nie. My gebed is net dat daar vir julle in hierdie verskriklike donker tyd, Lig sal wees. Genoeg vir een treetjie op ‘n slag.

Die lewe is broos. Daar is soveel dinge wat ons net nooit sal verstaan nie.

Rus in vrede, klein Michal.

Struikelblok(ke) op pad na die Oosblok

Sy moes geweet het, die oomblik toe sy op die bus klim en besef dat sy haar foon in die kombuis vergeet het waar dit nog gelê en laai het, dat hierdie dag nie so goed gaan uitdraai nie. Sy hét eintlik geweet, maar het die wete saam met die angstigheid van haar probeer afskud. Hoe moeilik kan dit wees om ʼn ambassade 350 meter van die treinstasie af te vind? En daar sal immers oral mense wees wat sy kan vra.

Dis ʼn vreemde buurt in Brussel, en haar herinneringe aan die kaart op Google Maps wat sy die vorige aand net vlugtig geraadpleeg het sodat sy kon sien by watter stasie sy moes afklim, het so vervaag dat sy nie eers die straatnaam kan onthou nie. By die eerste straat draai sy regs af – dit lyk darem soos die sakegebied al is die meeste plekke nog toe. Dis byna kwart voor tien, maar sy het tyd – haar afspraak is eers 10:27. Verder af sien sy mense in ʼn haarsalon, en hier word haar vraag heen-en-weer gegooi in Engels, Frans en Nederlands tot die kliënt wat op daardie oomblik voor die spieël sit met styfgekrulde hare wat nog uitgeborsel moet word, te kenne gee dat sy darem weet waar die ambassade is. Goed, tolk die haarkapster in Nederlands en verplaas die borsel na haar linkerhand soos sy beduie, jy volg die tremspoor na bo, oor die brug en draai dan regs in Albert Lancasterlaan. Sy herhaal die instruksies en dit klink eenvoudig genoeg.

Terug teen die bult uit, oor die brug en regs. Maar die straatnaam is nie reg nie, dalk kom dit nog. Toe sy Rue de l’Equateur kruis, bedink sy haar en wonder of sy nie die tremspoor nog ʼn entjie verder moes volg nie. Sy draai om en stap later by twee mans verby wat by ʼn bushalte wag. Die een het sy foon in sy hand en sy hoop –

Hoekom hieroor skryf? Hoekom sal mense wil lees oor iemand se oggend wat heeltemal skeefgeloop het en waarvan sy probeer sin maak op haar terugtog Leuven toe? Wat maak dit alles saak en wie gee boonop om? Wat maak sy hier in ʼn vreemde land omsingel deur mense wat doelgerig en saaklik hulle gang gaan terwyl sy nie weet waarheen sy op pad is of hoe sy daar gaan kom nie? Wat wil sy in die Oekraïne gaan maak met ʼn referaat oor die resepsie van vertaalde oorlogsverhale uit die noorde en die suide, terwyl hulle met hulle eie Krimea in die ooste worstel?

Sy weet nie. Sy weet net dat sy nou ʼn stempel op haar bankstate moet kry by die naaste KBC en ʼn ander brief van die mediese versekering wat verklaar dat hulle wel enige eise wat in die Oekraïne sou opduik, sal dek. En dan moet sy more wéér die melktrein Saint-Job toe neem om die visumaansoek af te gee. Ten minste weet sy nou waar dít is.

Om sakke sout saam op te eet

Norman Rockwell: A Christmas Reunion

Ek het in die vorige blog geskryf oor die betekenis wat enige ete eintlik behoort te hê, en lankal nie meer het by mense met ʼn Wes-Europese erfenis nie. Ek deel voorts sommige van die mees diepgaande betekenisse van ʼn maaltyd met julle.

In Handelinge 1 vers 4 word daar op ʼn baie treffende manier na Jesus verwys. Lukas noem Hom die “sunalizomenos”,  ʼn Griekse woord wat beteken “Hy wat saam [met ons] geëet het.” Die Afrikaanse vertaling is ontoereikend: dit vertaal die Griekse woord as “Hy wat saam met ons aan tafel was”, wat ongelukkig nie die eet-aktiwiteit voldoende na vore bring nie. Dit is eers toe ek hierdie woord in die Grieks gelees het, wat ek ook vir die eerste keer die Afrikaans spreekwoord “Hulle het ʼn sak sout saam opgeëet” reg verstaan het. Die spreekwoord dui op mense wat al ʼn lang pad saam loop, wat ʼn lang geskiedenis van lief en leed deel (ek dink ook aan die ou FAK-Sangbundel se rubriek “Lewenswel en Lewenswee”). By die aanhoor of lees van die spreekwoord het ek altyd die volgende prentjie in my gedagte gehad: twee mense wat elk op ʼn stoel weerskante van ʼn groot goiingsak vol growwe sout sit, en wat die sak sout knippie vir knippie sit en opeet (!). Eintlik sê die spreekwoord die volgende: hierdie mense het al soveel keer saam geëet (as ʼn uitdrukking van hulle vriendskap en van die intieme verbondenheid tussen hulle), dat as ʼn mens al die sout moet bymekaarmaak wat hulle by al hulle gedeelde maaltye gebruik het, dit ʼn hele sak sal wees. Dit is die baie maaltye wat hulle saam gehad het, wat aandui hoe diep die verbintenis tussen hulle is. Dit is hierdie lewenswerklikheid van wedersydse innigheid en betrokkenheid wat deur die idioom verwoord word. [En die Norman Rockwell skildery hierbo is ʼn pragtige uitbeelding van so ʼn diep band tussen twee mense.]

Die aangrypende is dat Lukas hier met “sunalizomenos” verwys na die Opgestane Jesus. In Handelinge 10 vers 41 word hierdie wonder uitgespel: “…ons wat na sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het.” Teoloë praat van die “Opstandingsmaaltye” van Jesus. Daar is geen einde aan wat ʼn mens alles hieroor kan skryf nie. Hier is ʼn paar opvallende dinge:

Dit is kwalik moontlik om (soos liberale teoloë en aanhangers van byvoorbeeld die “Nuwe Hervorming” maak) die twee aangehaalde verse uit Handelinge te vergeestelik, met ander woorde te probeer voorgee dat dit net ʼn metafoor of beeldspraak is, wat figuurlik, en nie letterlik nie, vertolk moet word. Hoe kan “sunalizomenos” slegs ʼn metafoor wees? Dis eenvoudig nie ʼn geloofwaardige vertolking nie. Ek dink jy kan dit net so vertolk as en omdat jy by voorbaat besluit het dat jy nie kan of wil sluk aan die werklike opstanding van Jesus nie. Ek sal dalk nog meer hieroor in die toekoms skryf. Daar is min twyfel dat Lukas, en al die lesers oor al die eeue, dit letterlik bedoel en verstaan het. Vir die ander, die liberales en vrysinniges, sê ek “Phansi, phansi!”

Tweedens: wat was die grondtoon, die basiese emosie, wat geheers het tydens hierdie Opstandingsmaaltye? Die antwoord is vreugde – diepe, intense vreugde. In al drie die gevalle waar sulke Opstandingsmaaltye beskryf word, word hierdie vreugde geïmpliseer, of eksplisiet genoem:

  • Ons lees in Johannes 20 hoedat die dissipels na Jesus se kruisiging vreesagtig agter geslote deure skuil. Opeens verskyn Jesus aan hulle. Vers 20 lees “Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.” Daardie innige blydskap sou ook oorgedra gewees het na die maaltyd wat hulle toe saam gehad het. Johannes noem die ete nie spesifiek nie, omdat dit vanselfsprekend was dat hulle herenigde samesyn tot uiting sou kom rondom ʼn maaltyd. Lukas noem die ete wel spesifiek: “Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, vra Hy vir hulle: ‘Het julle hier iets om te eet?’” (Lukas 24:41).
  • ʼn Tyd daarna gaan ses van die dissipels asook Natanael visvang in die See van Tiberias. Die hele nag vang hulle niks nie. Toe dit begin lig word, sê ʼn Figuur op die strand vir hulle om die net aan die ander kant (stuurboord) uit te gooi. Ten spyte van die vroegoggendskemer, herken Johannes vir Jesus, en sê dit vir Petrus. Al is hulle 100 meter van die strand af, spring Petrus, voortvarend soos altyd, in die water en swem-waad strand toe. (Dit is vir my ʼn aandoenlike prentjie: Petrus wat wilde agtertoe-roeibewegings met sy arms maak en met mening vorentoe beur teen die weerstand van die water, met net een gedagte in sy kop.) Wat is dit wat hom aangedryf het om in die water te spring? Sekerlik uitbundige blydskap. Ons lees voorts: “Toe hulle aan land kom, sien hulle ʼn vuur brand en ʼn stuk vis daarop lê. Daar was brood ook” (Johannes 21:9). En dan: “Toe sê Jesus vir hulle: ‘Kom eet’” (vers 12).
  • Op die Sondag, die derde dag na die kruisiging, stap twee van Jesus se volgelinge kop-onderstebo, terneergedruk, na Emmaus. Ongemerk begin Jesus saam met hulle stap en gesels. As dit skemer is, nooi hulle Hom in die huis in. Die uitnodiging loop – soos altyd – uit in ʼn maaltyd. Alhoewel Jesus eintlik die Gas is, neem Hy asof vanselfsprekend die rol van Gasheer oor, en begin die tipiese Joodse godsdienstige rituele rondom ʼn maaltyd uitvoer (brood in die hand neem, die seën daaroor vra, dit breek en uitdeel). Dit is wanneer hulle Hom herken. Hy verdwyn uit hulle gesig. Hulle woorde? “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (Lukas 24:32). Alle emosies manifesteer altyd ook fisies in ons liggaam. As jy opgewonde of gespanne is, voel jy ʼn gefladder of ʼn hol kol in jou maag. As jy aangedaan is, is daar ʼn knop in jou keel. As jy baie emosionele smart ervaar, voel dit of jou hart breek. Toe die twee Emmausgangers die fisieke ervaring het dat hulle harte brandend is, van watter emosie was hierdie brandende gevoel die fisiese manifestasie? Sekerlik van ʼn diepe, oorstelpte vreugde.

Dis vir eers genoeg. Ek sal die gedeelte in ʼn volgende blog voltooi met verwysings na die kortste, en een van die oudste, Christelike gebede, die atmosfeer by nagmaal, en nog wat. ʼn Laaste woord: as ons maar meer van daardie innige en intense blydskap in ons lewens kon invoer…!

Ingeburger en beskuit

Ek het hierdie plasing amper 3 weke gelede begin skryf, net nadat ons op 19 April hartlik as Leuvenaars verwelkom is in die gotische zaal van die ou Stadhuis op die Grote Markt. Want daar was dinge om te doen en plekke om te sien! En dinge om oor te dink. So kom ek vertel eers van die verwelkoming:

Elke maand word nuwe inwoners per behoorlike uitnodigingskaart (wat so mooi is dat ek dit nie kan weggooi nie) na hierdie funksie uitgenooi. Dirk Vansina, verantwoordelik vir “schepen van burgerzaken, monumentenzorg, jeugd, feestelijkheden en toerisme” het ons toegespreek en vertel van al die Leuvense lekkertes en wonderlikhede. Kyk, hulle weet hoe om hulle stad te verkoop, maar dan kan ek ook getuig dat dit nie net politieke beloftes is van al die wonderlikhede wat daar nog gaan kom nie, want ons het mos nou al drie maande lank beleef wat reeds gedoen is en dat die stad sy slagspreuk gestand doen: “Eeuwenoud. Springlevend.”

Elke nuwe gesin kry ook ʼn verwelkomingsakkie met nog inligting oor hoe dinge hier werk, besienswaardighede om op die doenlysie te plaas, en ʼn handvol koepons (vir kaartjies om die plaaslike sokkerspan te ondersteun, swembeurte by die openbare swembad, ʼn besoek aan die universiteit se biblioteektoring en ʼn rondleiding in die Stadhuis). Een van die dae kom kuier van my hartsmense en dan weet ek wat om met hulle te doen!

Brussel-Noord op ʼn Woensdagaand...
Nadat ons ons trein verpas het van die dansklas af, en moes rondskarrel tussen vreemde busse en tremme en toe op die berugte Brussel-Noordstasie moes wag op die trein Leuven toe. Opwindend!

Intussen het Elsa-Marié weer begin met Ierse dans en het ons al ʼn paar benoude oomblikke met openbare vervoer beleef tydens ons Woensdagaande se heen-en-weer Kalevoet toe, so effens suidwes van Brussel af. Sy het ook besluit dis tyd om weer fiks te word, en ek het onverwags ʼn nuwe drafmaat gekry wat my boelie om op alle geleë en minder geleë tye my oefenklere uit te grawe. En as hierdie juffie iets gedoen wil hê, gebeur dit. Ek sal dus binnekort net so fiks wees as wat ek was toe ons weg is uit Suid-Afrika!

Steyn en Jani se eende het ook die trotse ouers geword van ʼn broeisel skattige kuikentjies. Steyn het elke dag kom rapporteer oor waar hulle is en wat hulle doen, en ek het gereeld gaan loer oor die bruggie net hier skuins agter ons huis waar hulle altyd ronddobber. Teen dag 4/5 kry ons toe weer reën – omtrent ʼn hele nag en dag lank. Steyn kom hoogs benoud die Maandag van die skool af en sê die rivier is baie hoog. Dis nou meer as ʼn week later en ek moes uiteindelik aanvaar dat ons eendgesin hulle kuikens kwyt is. So hartseer. So deel van die lewe: gawes en verlies. En altyd aanhou swem…

Ek vermoed ek mag dalk teen November die gelukkige rekordhouer wees vir die Groot Begijnhof-inwoner wat die plek die meeste aan die brand gekook het. Ons is nie vreeslike onthalers nie, maar as ek wel onthaal, dan is ek vuur en vlam! Omdat ons die dominee genooi het vir ete, onthou ek toe van ʼn vorige keer toe ons ʼn predikantspaar genooi het – sommer kort na ons troue, vroeg in 2002. As onervare huisvrou het my spyskaart as volg daar uitgesien: bobotie met geelrys en rosyntjies, en gestoofde droë vrugte (daar was seker ʼn slaai ook in die prentjie, maar ek kan nie met sekerheid sê nie). En vir nagereg was daar broodpoeding…met rosyntjies! Hierdie ete was rosyntjieloos, ek belowe.

Louis het al geskryf oor ons uitstappie na Heverlee se militêre begraafplaas toe, maar dit was nie die einde van ons geskiedenisroetes nie. Op Werkersdag is ons saam met ander gemeentelede van St. Martha & St. Mary’s Anglican Church al die pad Ieper toe om die In Flanders Fields-museum en die Tyne Cot Commonwealth War Graves Cemetery te besoek. Omdat ek verlede jaar Stefan Hertmans se Oorlog en terpentyn  gelees het, was dit regtig iets besonders om ʼn baie klein deel daarvan te kon beleef. Ek dink Louis sal seker ook nog skryf oor hierdie uitstappie.

img_20180501_214804238773787.jpg
Suid-Afrikaners op die trein tussen Ieper en Leuven. Markus Kotzé is ook ʼn PhD-student hier in Leuven.
img_20180501_150008631106807.jpg
Tyne Cot Cemetery
img_20180501_123016985106407.jpg
In Flanders Fields
img_20180501_1001401244485725.jpg
Voorbehouden voor St M&Ms!
img_20180501_153746296566995.jpg
ʼn Eeu later. Lest we forget.

Louis is die dag voor sy verjaardag terug SA toe om by ʼn oudkoorlid se troue te gaan preek. Ek vermoed hy kry weer ʼn oordosis rooivleis daar, dus word hy Woensdag weer hier met die gebruiklike braadkip verwelkom. Ons is intussen genooi na ʼn regte Suid-Afrikaanse braai kompleet met mieliepap, maar dit bots ongelukkig met Elsa-Marié se dansklas en boonop sal Louis so vlugvoos wees dat die belofte van tjoppies hom nie eers gaan oorhaal om te gaan nie. Hopelik hou die studente van die Evangelische Theologische Faculteit binnekort nog ʼn braai! Gijs, wat voorheen by die Pukke studeer het en vroeër vanjaar weer ʼn draai in Suid-Afrika gemaak het, het met 7 kg se mieliemeel teruggekeer vir hierdie braai. Ik vind dat geweldig! (Ndl: heel erg goed of leuk vb: ik vind dat nummer geweldig! Synoniemen: enig gaaf prachtig vet fantastisch cool eindeloos magnifiek formidabel)

So gepraat van kos, daar kom ʼn tyd wanneer al die nuwe lekkertes wat op groot skaal hier beskikbaar is en verorber word, net nie daardie leegte in jou Afrikaanse binneste kan vul nie. Jy hunker na beskuit. Nie na enige sjokoladekoekie of tertjie of botterdeurdrenkte fyngebak nie, maar net ʼn onopgesmukte stukkie karringmelkbeskuit. Soos jy dit in jou ma en ouma se kombuise leer bak het. Jy wil die deeg knie en stukkies deeg afknyp en tussen jou palms rol en kyk of jy ʼn pannetjie kan vul met ʼn dosyn bolletjies wat ewe groot is en netjies later in die oond oor die pannetjie se rand gaan uitrys. En dan wil jy dit doop in jou koffie en geniet terwyl jy jou linkerhand soos ʼn bakkie onder jou ken hou sodat die koffiedruppel wat teen jou ken afloop nie op jou klere beland nie. Jy skraap jou moed bymekaar en kry die Belgiese bestanddele gereed. Dis ʼn dawerende sukses wat die volgende dag herhaal word sodat die res van St. Martha & St. Mary’s ook Sondagaand daarvan kan geniet, en Gerrit en Marena saam op ons uitstappie na die Koninklike kweekhuise in Laken, en more kry my Italiaanse kollega Paola ook beskuit vir haar 30ste verjaardag!

img_20180505_091319482892595.jpg

Wat my navorsing betref, as daar een ding is wat ek die afgelope tyd geleer het, is dit om vir hulp te vra. En ook hoe om te aanvaar wanneer mense nie wil of kan help nie, maar steeds nie daardeur ontmoedig te word nie. Navorsing is grootliks afhanklik van ander mense se hulp en die navorser se vermoë om daardie hulp in te katrol. En dis nie altyd maklik nie. Ek kan boekdele skryf oor mense wat al op baie beleefde en ook minder aangename maniere my versoeke om hulp geweier het – mense is besig, my navorsing hou vir hulle weinig (indien enige) persoonlike voordeel in, akademiese burokrasie laat dinge ingewikkelder lyk as wat dit is, hulle verstaan dalk nie wat ek van hulle vra nie. Ek wou al onder baie besembosse gaan inkruip. Gelukkig is daar altyd skottelgoed of wasgoed of ʼn mooi drafroete (of beskuit…of Louis en die kinders!) wat my forseer om die lewe weer vierkantig in die oë te kyk en perspektief te behou. En nog mense. Dié wat uit hulle pad uit gaan om te help – soms in so ʼn mate dat dit soos onverdiende guns voel en die Calvinistiese skuldgevoelens aktiveer! Sulke mense inspireer my en ek glo hulle baan onwetend die weg vir ander mense wat later vir my ook om hulp gaan vra. Ook die wat langs ʼn drafroete stop en toelaat dat ek met hulle honde speel omdat ek myne mis. Daar is ook vreemdes én vriende wat asof uit die niet verskyn met ʼn opmerking of ʼn gebaar wat (onwetend vir hulle) ʼn snaar roer wat lank daarna nog musiek in my lewe sal bly.

Die ervaring in die vreemde gaan op die ou end oor soveel meer as kennisversameling en die verbreding van ons horisonne. Ons leer en ervaar soveel meer as wat ons verwag het.

Die avontuur van Julianne

Dis al die agste week in die nuwe skool vir Julianne en die angstigheid raak net te erg. Sy loop elke dag skool toe en terug. Sy mis die son in Suid-Afrika en die bekende taal wat almal kon verstaan. Elke pouse voel sy uitgesluit en soos ʼn mislukking, dit voel asof sy net alles opmors en verkeerd doen. Vandag kan sy net nie meer nie. Sy besluit om op te gee.

Terwyl sy haar gewone roete huis toe loop hoor sy ʼn bekende liedjie. Dit is koud en die wind waai so effentjies. Skielik ruk die wind haar in die lug op en maak dat sy skree. Skree is tevergeefs, want die wind lig haar net hoër en hoër amper verby die wolke. Sy raak nou baie benoud, maar terwyl sy hoër gaan word die liedjie harder. Net toe sy die wolke verbysteek, hou die wind op ruk. Sy dink sy gaan val, maar sy land op ʼn klein wolkie. “Wat gaan aan?” skree sy, maar sy bly vinnig stil. Want voor haar vlieg daar omtrent 50 eende met elkeen drie paddas op hul rûe. Dit is hulle wat sing:

“Stop and stare, I think I’m moving but I go nowhere. Yeah I know that everyone gets scared, but I’ve become what I can’t be, oh!”

Julianne staan op haar wolk met oë vol van verwondering. Sy maak haar oë toe en begin saam met hulle sing:

“Stop and stare, you start to wonder why you’re here not there. And you’d give anything to get what’s fair, but fair ain’t what you really need, oh! Do you see what I see?”

ʼn Goue eend met een blou padda op sy rug vlieg grasieus na haar toe. “Sien jy nou?” vra die eend. “Nog net ʼn paar maande. Ek weet jy mis alles, maar hierdie plek gaan jy jou hele lewe lank mis. Maak die beste van jou tyd.” Julianne knik haar kop en dan sprei die eend sy vlerke groot oop en daar val lig op Julianne. “Dis tyd om te gaan.”

Die wind tel haar weer op, maar dié keer vat hy haar rustig ondertoe. Toe sy weer sien, is sy terug op die grond. Sy hoor die gekwaak van paddas en sy begin weer loop. Sy loop verby die dammetjie op haar gewone roete. Sy verbeel haar sy sien ʼn goue eend in die dammetjie tussen al die ander eende. Toe sy by die huis kom, kan sy nie help om te glimlag nie.

____________________________________________________________________________________________

Deur: Jani van der Watt

Liedjie: Stop And Stare – OneRepublic

Plek: Die Dam Met Die Blou Brug – Groot Begijnhof, Leuven, België

____________________________________________________________________________________________

Kultuurskok – ʼn bloginskrywing in kolpuntbedrywe

Die afgelope tyd het ek my blogskrywery afgeskeep/vermy/is my tyd opgeneem deur ander belangriker en dringender dinge, noodsaaklike sleurwerk en selfs ʼn week vakansie. Daar is tye wanneer ek angstig in sirkeltjies wil hardloop omdat dit voel of ek nie genoeg dinge vinnig genoeg gedoen kry nie. Daar is dinge wat ek moontlik al voor ons vertrek uit SA afgehandel moes gehad het, maar wat in die harwar van visumaansoeke en trekkery net nie wou/kon gebeur nie. En toe ons hier land, was dit kultuurskok.

Ek het nooit geweet kultuurskok is regtig ʼn ding soos wat posttraumatiese stressindroom of postnatale depressie ware toestande is nie. Maar toe stuur Louis se vriend wat met internasionale studente in Stellenbosch werk, Jurie Goosen, vir hom ʼn artikel saam wat handel oor die onderwerp – en dis asof ek my vordering op die kultuurskoktabel (wat bestaan uit fassinasie, vlug, veg en laastens in[aan?]pas) kon karteer, gemeet aan dit waaroor ek my verwonder of verknies het sedert ons met ons berg bagasie op Belgiese bodem aangeland het. Ek wil sommer ook die geleentheid gebruik om vir Jurie en Magdaleen van Friends of all Nations (of FANS) geluk te wens met die toekenning wat hulle verlede Vrydag van Stellenbosch Universiteit gekry het vir hulle diens aan die Internasionale Kantoor en die internasionale studente – noudat ons self ontheem is en grootliks sonder ondersteuningsnetwerk, besef ek hoe belangrik hulle werk regtig is, en dis wonderlik dat die universiteit ook waardering daarvoor toon.

Die vroeëre verwysing na postnatale depressie was nie toevallig nie, want ek dink daar is baie ooreenkomste tussen die ervarings van ʼn nuwe moeder en mense wat hulself in ʼn vreemde land probeer vestig. Mag ek my ook verstout om te sê dat, ja, dit die ma is wat in ʼn gesinsopset verál die kultuurskok voel – nie net in haar eie (soms waansinnige) navigasie deur die vreemde landskap nie, maar ook as waarnemer van die ander gesinslede se verwildering (of gebrek daaraan – wat, net soos met die aanvang van moederskap, gevoelens van wrewel teenoor die party wie se lewe oënskynlik nie so ingrypend deur die groot verandering geraak is nie, tot gevolg het). So, waarmee het ek myself die afgelope tyd vermaak? Kom ek doen puntsgewys verslag om (hopelik) aan myself te wys dat ek berge versit het, al voel dit of ek soos destyds met ‘n klein baba aan die bors, net-net oorleef het en op goeie dae darem ook gestort en die skottelgoed gewas het:

    • Ek het my artikel oor Vertaalslag 2018 in Amsterdam afgehandel en dit het op Voertaal verskyn.
    • Jani was die Donderdag voor die skole gesluit het, saam met my Antwerpen toe omdat hulle graad se onderwysers ‘n kursus moes bywoon. Dit was goed vir ons albei om die dag saam deur te bring. Op pad kampus toe het ek vir haar die skilderye van Gerard Seghers en Rubens in die Carolus-Borromeuskerk gaan wys. Oor middagete het sy saam met my kooroefening toe gegaan (ek sing in die Campuskoor Vokalia) en dit so geniet dat sy elke Donderdag wil saamgaan!
    • De terugkeer van de H. familie. PP Rubens – 1620 in opdracht van Nicolas Rockox. In die Carolus-Borromeuskerk, Antwerpen.
  • KU Leuven se navorsingsetiekkomitee het my aansoek om etiese klaring terugverwys – dit was darem nie ʼn katastrofe nie en ek moes net baie vinnig die paar wysigings maak en dit voor die volgende keerdatum instuur. Gelukkig het ek my skootrekenaar saamgepiekel met vakansie… Ek het een nag gedroom ek kry ʼn goor e-pos van die komitee af, en die eerste ding wat ek die volgende oggend gedoen het, was om my e-pos versigtig oop te maak. En daar is dit toe. Danksy die insette van my kollegas by CETRA, Dominique en Paola, kon ek met groter selfvertroue my verbeterde aansoek instuur, en Dinsdagmiddag het ek uiteindelik gehoor dit is goedgekeur. Nou wag ek nog vir Stellenbosch se komitee om die groen lig van hulle kant af te gee, en dan kan ek bos gaan met my vraelyste en onderhoude.
  • Week 1 van die kinders se Paasvakansie in Dinkelsbühl en Eguisheim was (oor die algemeen) idillies. Louis het nou maar eenmaal die gawe om onvergeetlike plekke uit te grawe. Ek weet egter nie wat mense vroeër jare sonder Google Maps of GPS gedoen het nie, want selfs daarmee sorg dit nie vir my en Louis se beste spanpogings nie. Ons het darem al ons bestemmings bereik wat ons wou (ten spyte van bogenoemde [soms dramatiese] navigasiegeskille en ʼn aantal skermutselinge op die agtersitplek). Ons het selfs by ʼn oudstudent van Louis, Renata van der Vyver, in Luxembourg aangedoen. Verder mis Louis sy Coke hier in België – dis regtig belaglik duur hier en die no name-brands is net nie dieselfde nie. Maar by Eguisheim se Lidl ontdek ons toe ʼn soort wat die helfte goedkoper is as Coke in Suid-Afrika. En wat doen Louis? Hy maak soos hy met die rooivleis gemaak het – hy gaan totaal oorboord en laat my 10 bottels Coke koop om terug te bring België toe! My en die kinders se reaksie? Ons vaar by E.Leclerc in en koop blokke en blokke Milka en Côte d’Or – want dis wraggies ook goedkoper as in België en heelwat goedkoper as in SA. Ons raak ook maar niks gewoond nie…

    This slideshow requires JavaScript.

  • Die tweede week van die Paasvakansie het ek gevoel of ek in sirkeltjies wil begin hardloop. Die Maandag het ek by vier verskillende biblioteke in Leuven aangemeld (en dit is nie die somtotaal van Leuvense biblioteke nie…) Eers heeltemal te vroeg by die stadsbiblioteek aangekom om boeke in te handig, en toe maar by die koffiewinkel sit en werk tot oopmaaktyd (12:00 op Maandae!), daarna Filosofiebiblioteek toe om een boek daar in te gee, toe na die biblioteek vir Sosiale Wetenskappe waar ek ontdek dat ek eintlik by die Artes Erasmushuis moes wees…
  • Dinsdag het ek ʼn afspraak met my studieleier in Antwerpen gehad, nadat ek die vorige nag my tweede aansoek om etiese klaring in die middernagtelike ure ingestuur het. Hy herinner my aan die kapstokbeginsel en ek sê dit voel of ek nou so baie kapstokke het en oral hang daar goed! Maar dis asof iets iewers gekliek het en of ek van toe af meer gefokus kon werk, ten spyte van verveelde tieners (en ʼn amper-tiener) in ʼn Begijnhof-woonstel met nog ʼn week se vakansie en afwesige ouers in biblioteke (ek dink ons het darem ons kant gebring in Dinkelsbühl en Eguisheim wat ouerbetrokkenheid betref!) Op pad stasie toe loop ek verby die bedelaar wat ʼn pienk spaarvarkie as bedelbakkie gebruik. Ek is nou maar eenmaal ʼn sucker vir ironie. Die aand hoor ek toe van die eend wat ingelok is en deel was van die chaos waarmee Louis moes deal. Intussen het die groepie eende goed onthou by watter vensters hulle kos en aandag kry, en die kwêk-kwêk onder die vensters het ʼn instelling geword (ook nog tuisbesoeke…)
  • Die eendfluisteraars: hallo, Bontie!
  • Woensdagoggend, ná ʼn lekker drafsessie saam met Louis Park van Abdij toe (ten spyte van al ons gestappery, het ek so onfiks geword!), vlug ek weer uit die huis uit biblioteek toe. Die pajamabende kry opdrag om darem teen 15:00 gereed te wees vir nog ‘n uittog Stadskantoor toe, waar ons uiteindelik ons Belgiese identiteitskaarte kon gaan afhaal. Ons is nou amptelik identifiseerbaar as inskrywings in die vreemdelingenregister. Én jy kan selfs treinkaartjies daarop laai en nog wie weet wat. Nie net ʼn mooi gesiggie op ‘n stukkie plastiek nie. Daarna verkas Louis terug na sy biblioteek toe terwyl ek vir Jani neem na die Leuvense weergawe van Kotie van Soelen, vioolmaker Jan Vanhoof by Lutherie Leuven, om vir haar (uiteindelik) ʼn tjello te gaan kry sodat sy weer kan oefen en by Paridaens se orkes kan inskakel. Net agter die vioolmaker is Hobby Vandoren waar Steyn sy verjaardaggeld gaan blaas het op nog twee modelvliegtuigies. Maar die oom, wat in sy vorige lewe waarskynlik ʼn hobbit was, het nie ʼn kaartmasjien nie. Dit kos my al die pad Ladeuzeplein toe en terug om by die naaste KBC-outomaat uit te kom om geld te trek – maar ek doen dit met ʼn glimlag, want ʼn Steyn aan’t bou aan ʼn vliegtuig is ʼn gelukkige Steyn en ʼn bly-uit-die-moeilikheid Steyn. Soos julle kan sien, raak hierdie dag nou lank, maar daar lê toe nóg ʼn lekkerte voor. Minder as 500m van ons huis af in Stellenbosch, woon ene Gerrit en Marena. Ons het hulle nog nooit voorheen daar raakgeloop nie, maar Marena skryf ʼn paar weke gelede om te hoor of ons nie dalk hulle Groot Begijnhof-sleutel kan optel nie, want hulle arriveer eers na-ure op Menseregtedag. Terwyl Louis doenig was met die Requiem in Stellenbosch, het ek al by hulle ingeloer vir koffie en ʼn stroopwafel, en hoe lekker om jou eie dam se ganse hier in die vreemde te vind! Gerrit blog ook oor hulle ervarings – hoe goed om dít te ontdek! Ons wou aanvanklik ʼn koffiekuier langs die Dijle inpas, maar die weer wou nie saamwerk nie, en toe kuier ons soos ou vriende in Groot Begijnhof. (Mind you, ek moes die plek eers, soos dit ʼn goeie huisvrou betaam, van ʼn kant af skrop en poleer – dit gaan die verstand te bowe hoe drie kinders met vakansie totaal van ʼn huis besit kan neem as die ouers na biblioteke en ander diverse bestemmings verdwyn. Ek dink hulle is nog in die vegfase van kultuurskok, en in plaas daarvan om met die locals te baklei, straf hulle ons omdat hulle hier moet wees. Of so iets.)
  • Die volgende paar dae is in ʼn waas gehul. Ek verdwyn in my bibliografie en maak interessante ontdekkings en kry meer vrae as antwoorde. Maar op hierdie stadium is dit goed.
  • Sondagaand ontdek ons ʼn paddakoor by Dijlemolenpark op pad kerk toe. Ek dink Louis sal meer uitbrei oor die afgelope tyd se preke by M&M (ek moet tog onthou om later iets oor Martha en Maria te skryf).
  • Maandag het Steyn verjaar, en danksy ʼn toevallige besoek aan fnac se webwerf, kon ons sy hartsbegeerte vervul teen ʼn baie verlaagde prys: ʼn hommeltuig! As jou ma se claim to fame is dat sy verantwoordelik is vir hierdie toevoeging tot die Afrikaanse leksikon, moet daar darem ʼn hommeltuig in die omgewing zoem…
  • ‘n Hommeltuig!
  • Dinsdag kon ek lesings deur twee gerekende akademici, Gisèle Sapiro en Luc Steels, bywoon. Dis veral Gisèle Sapiro se werk wat vir my navorsing van belang is, so dit was bietjie soos vir ʼn violis om ʼn konsert van iemand soos Joshua Bell by te woon. Op my deurdrumpel!
  • Gister was nog ʼn dag agter die rekenaar, onderbreek deur ʼn inkopietog saam met Steyn Carrefour toe. Omdat ek twee ekstra hande tot my beskikking gehad het, het ek my bietjie misgis met die aankope en ons het soos twee pakesels gevoel en soos stoomtreine geblaas met ons voorrade vir die res van die week (hoekom eet ons so baie?!) op pad terug huis toe. Laatmiddag is ek en Elsa-Marié Brussel toe om ʼn ander dansstudio te probeer – en ek is heel bly dat sy toe daarvan hou en uitsien daarna om weer te kan dans. Logisties is hierdie studio ook minder van ʼn nagmerrie as die een in Mechelen, so ek sien ook kans daarvoor! Ek het boonop ʼn baie interessante gesprek in die wagkamer gehad met een van die ma’s, Barbara van Brasilië, wat al vir ʼn dekade in België woon en net Portugees met haar dogters praat, maar vir die res Frans. Dit was goed om weer die warmte van iemand uit die suide te ervaar.
  • Vandag is weer Antwerpendag. Ek wil ʼn paar boeke by die biblioteek kry wat nie in een van Leuven se hordes biblioteke beskikbaar is nie, en kyk of ek ʼn abstrak vir ʼn kollokwium kan afhandel. Vanoggend kry ek ʼn boodskap van CETRA-alumna Theresia om te hoor of ek gehoor het van die kollokwium, omdat die onderwerp mos so reg in my kraal is. Sulke klein gebare is dikwels die briesie in jou seile wat jy nodig het om ʼn taak af te skop…

Nou-ja, carpe diem! Tot straks, of tot later – afhangend van hoe die akademie vorder, en die uitwerking van die kultuurskok.

“Serendipity” in Leuven (Louis)

Hier is vir julle ʼn interessante geval van “sinchronisiteit” (en selfs serendipity): my navorsingswerk is interdissiplinêr (Teologie en Musiek) en ʼn uitvloeisel van my M-tesis, wat gegaan het oor die Kyrie eleison. Nou-ja, ek studeer in die Teologiebiblioteek van die KU Leuven, want dit is die naaste bib, stapafstand van ons woonstel af, en/maar dit is geleë in Charles de Bériotstraat – De Bériot was een van die beroemdste Belgiese vioolpedagoë van die negentiende eeu! So die sameligging van biblioteek en straat is simbolies van die 2 hoede wat ek dra met my navorsing. (Terloops, Leuven se Teologiese Fakulteit is die grootste in Europa.)

Nog ʼn geval van serendipity* is die Anglikaanse kerkdienste wat ons bywoon. Dit gee my dikwels stof tot nadenke, en ek skryf hierdie artikel nou met my “teologiese hoed” op. Diegene wat my ken, sal weet dat ek al sedert universiteitsdae hewig debatteer met van my klasmaats en andere wat ʼn dosis Stellenbosch-filosofie ingekry het. (Ek laat my natuurlik nie uit oor die huidige stand van sake by die US se Filosofiedepartement nie.) Hulle was destyds onder andere groot aanhangers van Bultmann en die konsep van “metafoor” en “ontmitologisering”, asook die opinie dat alle waarheid (slegs) voorlopig is.

Voordat ek julle begin verveel met te veel abstrakte goed, gee ek twee konkrete voorbeelde van diegene se redenasies:

  1. Ek het eenkeer vir ʼn kweekskoolstudent wat terselfdertyd besig was met sy M in Filosofie gevra wat hulle nou eintlik bedoel as hulle sê “Die waarheid is voorlopig/relatief” (LW: Die stelling self is natuurlik self-weersprekend). Sy antwoord? “Wel, ek glo in God, maar ek kan slegs voorlopig in Hom glo, want dit mag dalk later blyk dat ek my misgis het?” –Hûûh?!?
  2. Omdat hulle nie kan/wil glo in wonderwerke nie, sluit hulle aan by Bultmann (en moderne liberale/afvallige teoloë) wat beweer dat die vertelling van wonderwerke in die Nuwe Testament – soos ook Jesus se opstanding – “mitologie” is wat “metafories” verstaan moet word. Jesus se opstanding moet dus nie letterlik verstaan word nie; “opstanding” is ʼn metafoor daarvoor dat Hy in die harte van die dissipels opstaan/voortleef. Dieselfde geld ook die meeste, of al die wonderwerke wat Jesus gedoen het.

Nou, behalwe dat CS Lewis ʼn briljante essay geskryf het waarin hy onder andere Bultmann se volkome onbevoegdheid om enige stelling oor literêre genres te maak, uitwys (“Fern-seed and Elephants”), kan ʼn mens tog ook nog uit ander oorde aangrypende perspektiewe uitlig ter wille van mense wat eerlike intellektuele twyfels het oor die (letterlike) opstanding van Jesus. ʼn Paar preke in die Anglikaanse kerk tydens Paastyd het my laat kennis maak met hierdie merkwaardige insigte. Daaroor skryf ek in my volgende blog.

* Kan enigeen van julle vir my ʼn goeie Afrikaanse woord gee vir “onverwagte, goeie sameloop van omstandighede” = serendipity? Daardie persoon kry my volgende Kauai/Vida/M&B bewys vir gratis koffie/capuccino!

Hiermee twee foto’s van ons onlangse besoek aan Elsas in Frankryk. Bennwihr se kerk is saam met die res van die dorpie tydens die “Colmar Pocket” in die doodsnikke van die Tweede Wêreldoorlog platgevee (Desember 1944 – Januarie 1945). Die herboude kerk is soos ʼn feniks wat herrys het uit die as (die feniks word ook in een van die glaspanele uitgebeeld) – opstanding uit die dood!

Canticum Novum – ʼn Nuwe lied

Canticum Novum voor Moederkerk se preekstoel
Canticum Novum voor Moederkerk se preekstoel.

Ek het in my vorige bydrae, wat meer gegaan het oor die “beestelike” aspekte van die Requiem-uitvoerings, onderneem om in my volgende bydrae iets met julle te deel oor die geestelike aspekte. Kan ek net eers een “cowpat”, naamlik die stokkie-episode, uit die weg ruim: nee, dit was nie ʼn opsetlike daad van protes oor die selfoon wat in die gehoor afgegaan het nie. Dit was een van daardie ongelukkige toevalle dat, pas toe ek gereedmaak vir “Recordare”, die stokkie se punt aan my mou vasgehaak het, met onvoorsiene gevolge (!).

Canticum Novum en die Stellenbosch Universiteit Simfonieorkes in die Endlersaal
Canticum Novum en die Stellenbosch Universiteit Simfonieorkes in die Endlersaal

Nou-ja, “Revenons à nos moutons”. Jare gelede het ek op FMR geluister na ʼn onderhoud met die dirigent van ʼn kamerkoor wat uitstekende, wat my betref buitengewone, werk verrig het. Tydens die onderhoud het hulle ʼn opname van ʼn motet (ʼn werk met ʼn gewyde teks) van Stanford deur sy kamerkoor voorgespeel. Agterna is hy gevra om ook iets oor die Latynse teks te sê. Sy antwoord, wat my tot vandag toe nog dronkslaan, was dat hy nie weet wat die woorde beteken nie – hulle konsentreer maar op die musiek. Nou, selfs ʼn leek sal aanvoel dat dit nie reg kan wees om so ʼn benadering te hê nie. Hoe kan jy reg laat geskied aan die teks as jy nie weet wat die woorde beteken, en dit voorts geïnternaliseer het nie? Dan word die individuele koorlede, en die koor kollektief, se sang vir my bloot soos ʼn radio se volumeknoppie wat jy harder of sagter draai.

Ek glo dat, net soos jy net kan preek as die boodskap eers deur jou eie siel gegaan het, jy slegs ʼn gewyde teks kan sing as die woorde in jou gemoed ʼn tuiste gevind het. Anders word die vertolking soos “klinkende metaal of ʼn galmende simbaal”, klanke sonder substansie, om Paulus se treffende metafoor in ʼn effens ander konteks aan te haal. Dit verleen ʼn ander dimensie, ʼn bo-natuurike, metafisiese, transendente dimensie, aan die koorsang. En ek het mettertyd oortuig geraak dat die gehoor hierdie dimensie intuïtief aanvoel en saam daarin opgeneem word (weereens iets wat nie rasioneel verklaar kan word nie). Die kooruitvoering moet ʼn stuk erediens buite die mure van ʼn kerk word.

Dit was ons benadering met die Mozart Requiem, soos telkens met gewyde koor- en orkeswerke, om in die oordenkingsessies wat ʼn deel van die weeklikse kooroefening uitmaak, stelselmatig die betekenis van die teks met die koor deur te gaan. In hierdie opsig is ek in die gelukkige posisie om sedert verlede jaar bygestaan te word deur Christiane Simon. Sy is nie net ʼn aanwins as koor- en bestuurslid nie, maar ook ʼn Lutherse predikant. Dankie Christiane, vir jou besonderse oordenkings, spesifiek tydens my afwesigheid!

Hierdie koor met wie ek die voorreg het om te werk, dra sedert 2000 die naam “Canticum Novum”, “Nuwe Lied”. Dit is ʼn frase wat nege maal in die Bybel voorkom (vir diegene wat graag die spesifieke verse wil opsoek: dit is onderaan hierdie bydrae). Ek verstaan die frase as ʼn tipe van Bybelse snelskrif: dit is nie soseer die lied wat nuut/oorspronklik is nie; dit is eerder ʼn lied oor die nuwe dinge wat God doen in menselewens. Telkens bring Hy vernuwing waar dinge doods geword het, telkens in vasgeloopte en uitsiglose situasies kom maak Hy ʼn nuwe begin (ook met jou). As die koor ‘n “nuwe lied” sing, dan is dit dus eintlik ʼn lied oor die Een wat op die troon sit en sê “Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5).

xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

“Nuwe lied” Psalm 33:3, 40:4 (baie mooi), 96:1, 98:1, 144:9, 149:1; Jesaja 42:10: Openbaring 5:9 en 14:3

Wat die tema van vernuwing betref, dink ek onwillekeurig aan ʼn aangrypende gedig van een van die metaphysical (religieuse) Engelse digters, George Herbert. Hy het in sy later jare ʼn doodsheid in sy gemoed en in sy skeppende kragte ervaar. En dan kom God onverwags en bring vernuwing in sy lewe. Hy gebruik woorde soos “vars”, “soet”, “skoon”, “groenigheid”, “bot” , “lewendmakend” (quickening), “dou” en “reën” om hierdie wonder te verwoord. Hier is uittreksels uit die gedig (“The Flower”):

How fresh, oh Lord, how sweet and clean

Are thy returns! Even as the flowers in spring;

[…]

Grief melts away

Like snow in May,

As if there were no such thing.

Who would have thought my shriveled heart

Could have recovered greenness? It was gone

Quite underground. […]

[…]

And now in age I bud again,

After so many deaths I live and write;

I once more smell the dew and rain

And relish versing. Oh, my only light,

It cannot be

That I am he

On whom thy tempests fell all night.

These are thy wonders, Lord of love…

Canticum Novum 2017
Canticum Novum 2017

There and back again

IMG-20180324-WA0020.jpg

Ek is terug na my “tref-en-trap”-besoekie aan Stellenbosch. Dit was uit en uit die moeite werd. Ek deel graag met julle die indrukke wat my bybly.

Eerstens: na twee maande van koue en nattigheid in Leuven, en voor dit weke van bloedige hitte en die uitmergelende Suidoos in Stellenbosch – daar is nie ʼn erger en meer onaangename seisoen as somer in die Boland nie – was dit vir my ʼn intense belewenis om skielik in die middel van vroegherfs terug te wees op die ‘Bos. Meer daaroor het ek reeds in ʼn vorige blog geskryf.

Tweedens: dit was ʼn voorreg om in Caledon Villa, Neethlingstraat, te bly: danksy die sentrale ligging kon ek orals stap waar ek wou wees, en het dit my laat voel soos ʼn bevoorregte toeris wat skielik alles nuut waarneem. Verder was die verblyf en die algemene opset by die gastehuis iets spesiaals. Johan Krige, wat ʼn besonder kundige genealoog is (terwyl hy in ʼn “vorige lewe” eintlik ʼn ingenieur was), het my talle fassinerende dinge meegedeel en my ook ingewy in die mini-museumpie(s) wat hy bo in die solder het. Werklik iets besonders.

En laastens was daar natuurlik die Mozart Requiem-uitvoerings met my koor en die USSO. Omdat dit die doel van my besoek was, staan ek effens langer stil hierby. Soos gewoonlik het die orkes by die eerste oefening erg geklink. Dit was deels omdat die studente baie besig was tydens die Woordfees, maar ook deels omdat die meeste studente by die eerste oefening opdaag en die musiek probeer bladlees, wat in die meeste gevalle glad nie werk nie. Vanjaar het ek myself egter besonder mooi ingehou, en die ergste wat ek aangevang het, was om dinge te vra soos “Wie is die DOFFEL wat ʼn B-mol gepleeg het?” of “Who is the perpetrator of the F sharp?!?”. Ek is baie trots op myself…

Die koor was egter baie goed voorberei, danksy Yolanda se insette, asook die koorbestuur se organisering. Dit was ook iets spesiaals om soveel oudlede (“erelede”) te hê wat saamgesing het, onder wie 6 koorlede wat deel gehad het aan die eerste uitvoering ooit van die Requiem deur Canticum Novum, in 1998 in Stellenbosch asook by die KKNK. Ten spyte van min voorbereidingstyd, het die opkomende soliste hulle ook baie goed van hulle taak gekwyt – dankie, sangkollegas!

Nou iets oor die uitvoerings: ek was vooraf effe besorgd dat daar dalk nie ʼn goeie opkoms gaan wees nie, omdat dit slegs 2 weke na die Woordfees was, maar dit het al my verwagtings oortref. Die Saterdagaand was byna uitverkoop, en die Sondag moes ons meer as 15 minute laat begin omdat die mense tot buite die deure tou gestaan het (dit is nou wat ʼn mens ʼn “goeie probleem” noem – selfs ek wat uiters Duits ten opsigte van stiptelikheid is). ʼn Groot aantal mense – seker ten minste 30 – moes in die paadjies sit.

Ek het hierbo genoem dat ek baie trots op myself is omdat ek my ingehou het met die orkes by die eerste 2 oefeninge. Nou ja, ek voel ek het ook ʼn besondere mate van persoonlike groei getoon ten opsigte van 2 voorvalle by elk van die 2 uitvoerings. Saterdagaand, tydens een van die redelik stil, maar intense oomblikke van die Requiem, het een van die tweede viole dit reggekry om haar pinkie aan haar viool se E-snaar (die hoogste, skrilste snaar) te laat vashaak. Nou: dit was nie die vashaak van die vinger wat die probleem was nie, maar die losruk/“release” daarvan. Die resultaat was ʼn dawerende “PIENG”-geluid. As ek nog my ou mens was, sou ek vorentoe getree het na die tweede vioolseksie se kant toe, oorgeleun het en op ander nie-verbale (en dalk selfs verbale) wyses aangetoon het dat ek NIE dik van die lag is nie. –Maar ek het besluit om eerder te (glim)lag daaroor – weereens ʼn groot oorwinning wat ek oor myself behaal het. (Die leser sal dalk wil weet wie die perpetreerder van hierdie mini-ontploffinkie was. Ek sê niks nie, behalwe dat die persoon in die derde lessenaar van die tweede viole gesit het, en ʼn E en ʼn A in haar naam het…) (Nawoord: ek is wel meegedeel deur Adriaan, een van die koorlede, dat my onverwagte glimlag-in-plaas-van-aangluur wel ʼn effek op ʼn aantal koorlede in die noorwestelike kwadrant van die koor gehad het: hulle was vir ʼn tydjie glo “paralytic” – glad nie in staat om te sing nie .)

Die laaste instansie van persoonlike groei wat ek getoon het, was die Sondagmiddag, toe een of ander HOENDER in die gehoor se selfoon afgegaan het tussen die “Recordare” en “Confutatis”. As ek my ou self was, sou ek omgedraai het en met oë soos kanonlope in die gehoor ingekyk het, maar al wat ek gedoen het was om hardop te sê “Ten minste is dit in die pouse, en nie terwyl ons sing nie” – ek is totaal verras met myself. (Nawoord: volgens Yolanda, koorlid, het dit egter weer ʼn paar soprane van hulle wysie af gebring (pun intended). Lyk my ʼn mens kan net nooit wen nie!)

Dis nou lank genoeg geskryf. Ek sal volgende keer iets korts op ʼn meer ernstige noot (pun intended) oor die Requiem-uitvoerings gee. Watch this space!

Wel en wee

Vywer by Abdy van Park, Leuven
Vywer by Abdij van Park. Die sonnetjie is bedrieglik – dis vriesend koud!

ʼn Week gelede tref dit my van voor af dat ʼn mens tegelyk gelukkig én hartseer kan wees (en roep weer vir ou Skoppensboer op). Want hoewel dit oor die algemeen goed gaan, is dit nie altyd maklik om hier te wees nie. So moenie dink al die mooi foto’s en grappies kom sonder ʼn stukkie swaarkry en broosheid of harde werk nie. Ek het geleer dat ʼn mens se neus byna konstant kan loop – nie van siekte of tranerigheid nie, maar van die koue. Ook dat jou ledemate en neus en ore en lippe doodgevries kan wees terwyl jou lyf onder lae warm klere in sweet uitslaan. En hoewel ons graag sê dat Afrika nie vir sissies is nie, begin ek dink Europeërs mag dalk bleekwit in die somer, of fluffy onder hulle winterspelse lyk, maar dat hulle nie vir ons Afrikane hoef terug te staan wat taaiheid betref nie. Die mense hier is gaaf en vriendelik, maar onwrikbaar as jy nie volgens die reëls optree nie (as iemand wat nogal nie daarop uit is om grense te toets nie, vind ek dit telkens ʼn skok op my sisteem as ek ferm tereggewys word waar ek uit onkunde nie heeltemal aan die verwagtings voldoen het nie). So kan iemand byvoorbeeld vir jou sê: “Normaal doen we dat niet”, op ʼn manier wat juffrou Rottenmaier na ʼn engel sal laat klink.

Met al die nuwe dinge wat ons hier moet leer en aan gewoond moet raak, word ons baie gekonfronteer met hoe ons lewe in Suid-Afrika lyk. Ons is gestroop van ons ondersteuningsnetwerk en ook die meeste van ons geriewe. Elke keer as ek effens ontsenu by die winkel probeer om my kruideniersware sou gou as moontlik in die rugsak en die ekstra inkopiesakke te prop, terwyl ek ook betaal en terselfdertyd mooi moet kyk dat die volgende klant se kruideniersware, wat onmiddellik op myne begin afpyl sodra die betaling suksesvol is, nie ook in my sakkies beland nie, mis ek die wit glimlagte van die mense wat elke dag in Spar en Checkers en Pick ʼn Pay geduldig kruideniersware in winkelsakkies pak. En dan wil ek verskoning maak teenoor die kassiere en die klante agter my omdat ek so hulpeloos is danksy die feit dat ander mense my lewe lank my sakkies gepak het. Maar bedink my – daar bestaan genoeg stereotipes oor die Suid-Afrikaanse sosio-ekonomiese landskap. Ek hét darem aan die einde van matriek vir twee weke lank sakke gepak en die till geslaan in Pick ’n Pay (en daar geleer om die kruideniersware mooi te verdeel in kouegoed, vrugte en groente, droëgoed en skoonmaakmiddels, en nou probeer ek tevergeefs aan daardie kategorieë vasklou terwyl die ry agter my sigbaar langer en haastiger word).

My tweede meltdown in Europa (emosionele ineenstorting klink darem net te dramaties) het gekom toe ek ʼn aand wéér tot na 12 gestaan en skottelgoed was, en gevoel het dat die ander huisgenote darem hulle kant meer kan bring. (Oor die eerste tranedal in die Champs-Élysées en hoe ons amper ons kinders twee maal in Parys verloor het, sal ek liefs nie uitwei nie, maar almal wat al met hulle gesinne gereis het, sal sekerlik soortgelyke dramas kan oproep…) Want hier is nie ’n Dorothy nie. En Dorothy was vir baie meer as ’n sindelike huis verantwoordelik – sy was, glo ek al hoe meer, tot ʼn groot mate ook vir my geesteswelstand verantwoordelik. Ek mis haar al hoe meer, nie alleen omdat sy die huislike chaos in vier oggende per week kon wegtoor nie, maar omdat ek die afgelope vyftien jaar in haar ’n vertroueling en bondgenoot gevind het by wie ek kon uitpak, wat altyd geweet het waar ek dinge neergesit en daarvan vergeet het, of wat sou soek tot sy iets gekry het wat ek verlê het, wat knope sou aanwerk as Steyn en sy maats te rof gespeel het tydens pouse, wat stilweg sou aangaan asof sy nie daar was nie as die vannerwatts uitrafel, wat sou kom vertel van Fruit & Veg se specials, en die nuus deel van die vreeslikhede wat ek nooit self in Die Son sou raaklees nie, vir wie ék kon ingryp as dinge aan háár kant knyp. Ek mis haar en ek hoop sy werk lekker by haar tydelike werkgewer. Om al hierdie dinge weer met haar te deel, is iets waarna ek nou reeds uitsien as ons terug is by die huis!

Die trein is amper by Antwerpen, en ʼn gereelde reisiger het so pas sy ronde deur die wa gedoen. Hy deel aan elkeen ʼn oranje kaartjie uit en beweeg dan weer terug om die kaartjies op te neem. Ek het ʼn vorige keer, soos die meeste van die ander passasiers, die kaartjie vriendelik van die hand gewys (dalk probeer hy my tot ʼn ander geloofsoortuiging bring), maar vandag is ek nuuskierig. Dit lees dat hy moes vlug uit sy land en nou sukkel om hier ʼn bestaan te maak en vir sy gesin te sorg. Dalk is hy ʼn kansvatter soos wat ons ook ons customers in Stellenbosch ken (veral daardie een wat voorgee dat hy met krukke moet loop terwyl hy in sy bedelsones beweeg, maar op sy tuisveld geen skete het nie – dié het ek van ʼn betroubare bron verneem, verwys na die vorige paragraaf…). Ek grawe tog in my sak vir die appel en ontbytkoekies. Eintlik maak dit nie saak of hy ʼn kansvatter is of moes vlug met sy gesin nie. Hy is ook broos en vreemd hier, en Europa is nie vir sissies nie.

Volhardingslaan, Leuven
Soms kom bemoediging in onverwagte vorme…