Is He coming?

Is he coming? Norman Rockwell
Is he coming? Norman Rockwell

Liewer leser, ek begin weer met ʼn skildery van Norman Rockwell. Bestudeer dit ʼn bietjie, en besluit watter titel jy aan die skildery sou gee. Dit is ooglopend die vooraand van Kersfees. Die boetie en sussie kon van opgewondenheid en afwagting nie aan die slaap raak nie. Terwyl hulle ouers slaap, gaan hulle stilletjies af na die leefkamer waar die Kersfeesboom voorberei is, die kerskouse aan die kaggel gereed hang, en die huiskat hom ook tuisgemaak het. Wat is dit wat hulle aangetrek het na die leefkamer toe? Die opgewondenheid oor Kersvader wat op pad is. Kyk die mengsel van afwagting en verwondering op die dogtertjie se gesiggie. En die boetie kyk al op in die kaggel; hy is seker hy hoor al vir Kersvader daar van bo af afkom. Die titel vat die toneeltjie pragtig saam: “Is he coming?”

Ons weet almal wat die oudste Christelike gebed is – die Onse Vader, wat Jesus vir sy dissipels en al sy navolgers geleer het, en wat duidelike ooreenkomste met tradisionele Joodse gebede toon. Maar wat is die tweede-oudste Christelike gebed? Dit is ook die kortste, met net twee woorde in die Aramees, die taal wat Jesus en die Jode van daardie tyd gepraat het: “Maranatha” – aaneengeskryf in die Bybel, maar eintlik maran atha, “Kom, Here!” Voor enige van die boeke van die Nuwe Testament geskryf was, is dit reeds deur die vroeë Christene gebruik. Paulus en Johannes haal albei hierdie gebed aan, respektiewelik in 1 Korintiërs 16 vers 22 en Openbaring 22 vers 20.

Nou: ons verstaan almal hierdie gebed as ʼn versugting om die wederkoms van Christus, en dit is natuurlik so. Maar ek is vas oortuig dat daar ook ʼn ander betekenis in hierdie gebed opgesluit is, of was. Laat ek verduidelik.

In my vorige blog het ek verwys na die maaltye wat Jesus na sy opstanding met sommige van sy volgelinge gehad het. Eerstens: ons kan ons voorstel hoedat, telkens nadat Jesus op ʼn wonderbaarlike wyse êrens aan ʼn groepie van sy volgelinge verskyn en saam met hulle geëet het (die sunalizomenos!) hierdie nuus soos ʼn veldbrand sou versprei onder Sy mense, net soos vroeër die nuus van sy opstanding. Tweedens: ons lees in Handelinge hoedat die eerste Christene die gebruik gehad het om altyd saam te eet (Handelinge 2:42 “Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd [as uiting van hulle diepe verbondenheid] en die gebede”). Neem nou hierdie twee dinge saam, en ek is vas oortuig van die volgende: waar ook al daar ʼn groepie gelowiges besig was om saam te eet, het daar by hulle die  lewende verwagting en opgewondenheid geheers: “Sê nou maar net Jesus verskyn ook nou en kom eet saam met ons? Wie sê Hy gaan ons nie onverwags verras met sy teenwoordigheid, soos Hy al reeds gedoen het waar ander medegelowiges besig was om saam te eet nie?!?” Of, in aansluiting by die titel van die skildery: daar was by hulle die afwagting “Is He coming?!?” Daar was ʼn soort antisiperende vreugde en hoop wat geheers het by hulle etes. Rockwell se skildery laat ons iets van daar die gevoelens verstaan. Ons kry tot vandag toe nog die naleef van daardie verwagting in die algemeenste Duitse tafelgebed: “Kom Herr, sei unser Gast…”, “Kom Here, wees ons Gas…” (hoewel Hy eventueel altyd die Gasheer word).

Ons Nagmaalsvierings het lankal nie meer daardie karakter nie. Dit het ʼn stroewe, formele geleentheid geword. Daar moet ʼn bepaalde erns wees, want die Nagmaal is onder ander ook ʼn “in memoriam” maaltyd, waartydens ons Jesus se dood gedenk. Maar dit is baie meer: dit moet ʼn vreugde-ete wees. Solank daardie blydskap ontbreek, is ons Nagmaalsetes ʼn verarmde geleentheid.

Ek laat ons manier van nagmaalsviering daar, en lig nog ʼn laaste aangrypende gedagte uit. Daar is een belofte in die Bybel, sekerlik een van die mooistes, persoonlik aan jou en my gerig, wat ook verband hou met die intimiteit en verbondenheid van ʼn maaltyd. Watter belofte is dit? Openbaring 3 vers 20: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom [of haar] ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy met My.”

 Twee naskrifte:

W Holman Hunt het die versie in Openbaring baie mooi versinnebeeld in sy skildery “The Light of the World” – google dit gerus. Daar is baie simboliek in die skildery. Een voorbeeld: kyk mooi na die deur. Sien jy enige deurhandvatsel? Nee. Die deur kan net van die binnekant af oopgemaak word.

Laastens iets wat Jack Macdonald, ons Anglikaanse predikant hier in Leuven, in een van die dagstukkies tydens Pinkster geskryf het, en wat ook ʼn ete as verwysing het:

Simone Weil was an Alsatian Jew, anarchist, activist and mystic. She died of TB in Kent whilst preparing to work for the Resistance in France. She is best known for her mystical book, Gravity and Grace.

She wrote her own rabbinical commentary on reading George Herbert’s poem “Love”:

“I heard by chance of the existence of those English poets of the 17th century who are named metaphysical. I discovered a poem called Love. I learned it by heart. Often I made myself say it over, concentrating all my attention on it and clinging with all my soul to the tenderness it enshrines. I used to think I was merely reciting it as a beautiful poem, but without my knowing it, the recitation had the virtue of a prayer. It was during one of these recitations that, as I told you, Christ himself came down and took possession of me. Until last September, I had never once prayed to God in all my life.”

Christus kon net van haar besit neem omdat sy haar hart se deur vir Hom oopgemaak het.

Hier is die gedig wat so ʼn heilsame invloed op haar gehad het:

Love III                –              George Herbert (3 April 1593 – 1 Maart 1633)

Love bade me welcome: yet my soul drew back,

Guiltie of dust and sinne.

But quick-ey’d Love, observing me grow slack

From my first entrance in,

Drew nearer to me, sweetly questioning,

If I lack’d any thing.

 

A guest, I answer’d, worthy to be here:

Love said: you shall be he.

I the unkinde, ungratefull? Ah my deare,

I cannot look on Thee.

Love took my hand, and smiling did reply,

Who made the eyes but I?

 

Truth Lord, but I have marr’d them: let my shame

Go where it doth deserve.

And know ye not, sayes Love, who bore the blame?

My deare, then I will serve.

You must sit downe, sayes Love, and taste my meat:

So I did sit and eat.

Om sakke sout saam op te eet

Norman Rockwell: A Christmas Reunion

Ek het in die vorige blog geskryf oor die betekenis wat enige ete eintlik behoort te hê, en lankal nie meer het by mense met ʼn Wes-Europese erfenis nie. Ek deel voorts sommige van die mees diepgaande betekenisse van ʼn maaltyd met julle.

In Handelinge 1 vers 4 word daar op ʼn baie treffende manier na Jesus verwys. Lukas noem Hom die “sunalizomenos”,  ʼn Griekse woord wat beteken “Hy wat saam [met ons] geëet het.” Die Afrikaanse vertaling is ontoereikend: dit vertaal die Griekse woord as “Hy wat saam met ons aan tafel was”, wat ongelukkig nie die eet-aktiwiteit voldoende na vore bring nie. Dit is eers toe ek hierdie woord in die Grieks gelees het, wat ek ook vir die eerste keer die Afrikaans spreekwoord “Hulle het ʼn sak sout saam opgeëet” reg verstaan het. Die spreekwoord dui op mense wat al ʼn lang pad saam loop, wat ʼn lang geskiedenis van lief en leed deel (ek dink ook aan die ou FAK-Sangbundel se rubriek “Lewenswel en Lewenswee”). By die aanhoor of lees van die spreekwoord het ek altyd die volgende prentjie in my gedagte gehad: twee mense wat elk op ʼn stoel weerskante van ʼn groot goiingsak vol growwe sout sit, en wat die sak sout knippie vir knippie sit en opeet (!). Eintlik sê die spreekwoord die volgende: hierdie mense het al soveel keer saam geëet (as ʼn uitdrukking van hulle vriendskap en van die intieme verbondenheid tussen hulle), dat as ʼn mens al die sout moet bymekaarmaak wat hulle by al hulle gedeelde maaltye gebruik het, dit ʼn hele sak sal wees. Dit is die baie maaltye wat hulle saam gehad het, wat aandui hoe diep die verbintenis tussen hulle is. Dit is hierdie lewenswerklikheid van wedersydse innigheid en betrokkenheid wat deur die idioom verwoord word. [En die Norman Rockwell skildery hierbo is ʼn pragtige uitbeelding van so ʼn diep band tussen twee mense.]

Die aangrypende is dat Lukas hier met “sunalizomenos” verwys na die Opgestane Jesus. In Handelinge 10 vers 41 word hierdie wonder uitgespel: “…ons wat na sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het.” Teoloë praat van die “Opstandingsmaaltye” van Jesus. Daar is geen einde aan wat ʼn mens alles hieroor kan skryf nie. Hier is ʼn paar opvallende dinge:

Dit is kwalik moontlik om (soos liberale teoloë en aanhangers van byvoorbeeld die “Nuwe Hervorming” maak) die twee aangehaalde verse uit Handelinge te vergeestelik, met ander woorde te probeer voorgee dat dit net ʼn metafoor of beeldspraak is, wat figuurlik, en nie letterlik nie, vertolk moet word. Hoe kan “sunalizomenos” slegs ʼn metafoor wees? Dis eenvoudig nie ʼn geloofwaardige vertolking nie. Ek dink jy kan dit net so vertolk as en omdat jy by voorbaat besluit het dat jy nie kan of wil sluk aan die werklike opstanding van Jesus nie. Ek sal dalk nog meer hieroor in die toekoms skryf. Daar is min twyfel dat Lukas, en al die lesers oor al die eeue, dit letterlik bedoel en verstaan het. Vir die ander, die liberales en vrysinniges, sê ek “Phansi, phansi!”

Tweedens: wat was die grondtoon, die basiese emosie, wat geheers het tydens hierdie Opstandingsmaaltye? Die antwoord is vreugde – diepe, intense vreugde. In al drie die gevalle waar sulke Opstandingsmaaltye beskryf word, word hierdie vreugde geïmpliseer, of eksplisiet genoem:

  • Ons lees in Johannes 20 hoedat die dissipels na Jesus se kruisiging vreesagtig agter geslote deure skuil. Opeens verskyn Jesus aan hulle. Vers 20 lees “Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.” Daardie innige blydskap sou ook oorgedra gewees het na die maaltyd wat hulle toe saam gehad het. Johannes noem die ete nie spesifiek nie, omdat dit vanselfsprekend was dat hulle herenigde samesyn tot uiting sou kom rondom ʼn maaltyd. Lukas noem die ete wel spesifiek: “Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, vra Hy vir hulle: ‘Het julle hier iets om te eet?’” (Lukas 24:41).
  • ʼn Tyd daarna gaan ses van die dissipels asook Natanael visvang in die See van Tiberias. Die hele nag vang hulle niks nie. Toe dit begin lig word, sê ʼn Figuur op die strand vir hulle om die net aan die ander kant (stuurboord) uit te gooi. Ten spyte van die vroegoggendskemer, herken Johannes vir Jesus, en sê dit vir Petrus. Al is hulle 100 meter van die strand af, spring Petrus, voortvarend soos altyd, in die water en swem-waad strand toe. (Dit is vir my ʼn aandoenlike prentjie: Petrus wat wilde agtertoe-roeibewegings met sy arms maak en met mening vorentoe beur teen die weerstand van die water, met net een gedagte in sy kop.) Wat is dit wat hom aangedryf het om in die water te spring? Sekerlik uitbundige blydskap. Ons lees voorts: “Toe hulle aan land kom, sien hulle ʼn vuur brand en ʼn stuk vis daarop lê. Daar was brood ook” (Johannes 21:9). En dan: “Toe sê Jesus vir hulle: ‘Kom eet’” (vers 12).
  • Op die Sondag, die derde dag na die kruisiging, stap twee van Jesus se volgelinge kop-onderstebo, terneergedruk, na Emmaus. Ongemerk begin Jesus saam met hulle stap en gesels. As dit skemer is, nooi hulle Hom in die huis in. Die uitnodiging loop – soos altyd – uit in ʼn maaltyd. Alhoewel Jesus eintlik die Gas is, neem Hy asof vanselfsprekend die rol van Gasheer oor, en begin die tipiese Joodse godsdienstige rituele rondom ʼn maaltyd uitvoer (brood in die hand neem, die seën daaroor vra, dit breek en uitdeel). Dit is wanneer hulle Hom herken. Hy verdwyn uit hulle gesig. Hulle woorde? “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (Lukas 24:32). Alle emosies manifesteer altyd ook fisies in ons liggaam. As jy opgewonde of gespanne is, voel jy ʼn gefladder of ʼn hol kol in jou maag. As jy aangedaan is, is daar ʼn knop in jou keel. As jy baie emosionele smart ervaar, voel dit of jou hart breek. Toe die twee Emmausgangers die fisieke ervaring het dat hulle harte brandend is, van watter emosie was hierdie brandende gevoel die fisiese manifestasie? Sekerlik van ʼn diepe, oorstelpte vreugde.

Dis vir eers genoeg. Ek sal die gedeelte in ʼn volgende blog voltooi met verwysings na die kortste, en een van die oudste, Christelike gebede, die atmosfeer by nagmaal, en nog wat. ʼn Laaste woord: as ons maar meer van daardie innige en intense blydskap in ons lewens kon invoer…!

Ons daaglikse brood

Kan ʼn mens nie met stelligheid sê dat om te eet en te drink die mees konkrete, basiese en essensiële aktiwiteit van ons fisieke bestaan is nie? Deur hierdie handeling hou ons nie net ons liggaamlike lewe in stand nie, maar het ons ook deel aan die vrug van die Skepping. Deur te eet, het ons “communion” met al die lewendmakende en heilsame prosesse van die skepping wat ons maaltyd moontlik gemaak het: die warm vogtigheid van die grond wat opgestyg het na die koringkorrel, en die sonlig wat in die druiwekorrel kom nestel het, tot albei uitgeswel is.

Die Hebreeuse gebede voor ʼn maaltyd verwoord hierdie dimensie: “Geseënd is U, Here ons God, Koning van die Heelal, wat brood vanuit die aarde voortbring”, en “Geseënd is U, Here ons God, Koning van die Heelal, wat die vrug van die wynstok in aansyn roep.”

Daar is ook ʼn menslike dimensie verbonde aan hierdie skeppingsproses. Dit is as’t ware ʼn sekondêre skeppende aktiwiteit. Daar is die vreugdevolle arbeid om die koring en die wyn te oes, die koringkorrels uit te wan en die wynkorrels te pars; daar is die menslike vernuf en vindingrykheid om ʼn eindproduk, naamlik brood en wyn, tot stand te bring. En eindelik die rus in, en behae aan, die metaforiese vrugte van ons arbeid.

Bogenoemde effens oordadige liriese aanhef is eintlik maar net om die agtergrond vir my gedagtes oor die betekenis van ʼn maaltyd daar te stel. Om dit nog verder te illustreer: ek het 20 jaar gelede “Fugitive Pieces” van Anne Michaels gelees. Dit is ʼn boek met die Tweede Wêreldoorlog as agtergrond, en gaan oor verlies. Die hoofkarakter het grootgeword in Griekeland, waar ʼn maaltyd – soos in enige Mediterreense land – meer as net ʼn eetgeleentheid is, maar ook veral ʼn tyd van samesyn en gemeensaamheid met jou gesin en familielede (dink “My big fat Greek wedding” of stel jou enige Italiaanse gesins-/familie-ete in Toskane voor). Eendag kom hy as seun terug by die huis, net om te verneem dat sy ouers deur die Gestapo weggeneem is. Hy sien hulle nooit weer nie. Hy word deur familielede in Kanada aangeneem. In die groot stad waar hulle bly loop hy in die strate, en sien iets wat hy heeltemal glad nie kan verstaan nie: hy loop by ʼn koffiewinkel of restaurant verby, net om mense daar te sien wat een-een, op hulle eentjie, sit en eet. Dit slaan hom dronk. Hoekom? Want hoe kan jy eet sonder jou gesinslede? Hoe kan jy op jou eie, sonder dat jou familie by jou is, eet? Dis vir hom heeltemal “verkeerd” (net soos dit vir my elke keer verkeerd is as ek Adriaan Strauss, oud-Cheetahkaptein, in Blou Bul-klere sien uitdraf!).

Met die lees van daardie gedeelte het daar ʼn skuif in my kop plaasgevind. Ek het vir die eerste keer begin besef wat die betekenis van ʼn maaltyd regtig is, en ek het besef hoe verarm ons Westerlinge/Wes-Europeërs in hierdie opsig geword het. ʼn Maaltyd het heeltemal sy betekenis vir ons verloor. Dit het ʼn vulstasie geword waar jy brandstof inneem.

In Bybelse tye was ʼn maaltyd die uitdrukking van besondere intimiteit en gemeensaamheid tussen mense. Dit is net die huwelik waarin daar sprake van groter initimiteit was. Dit is dan ook nie toevallig dat Jesus se bediening gesentreer was rondom maaltye nie. Dit was sy manier om sy solidariteit met, en innige betrokkenheid by, die mense te wys. Toe die “kerkheiliges” van daardie tyd Hom probeer diskrediteer en verdag maak het, het hulle Hom ʼn “vraat en ʼn wynsuiper” genoem – omdat dit veral opvallend was hoe Hy telkens saam met die randfigure van die samelewing ʼn maaltyd hou om daarmee ook sy intieme verbondenheid en betrokkenheid met hulle tot uiting te bring. Selfs waar dit nie eksplisiet genoem word nie, was ʼn maaltyd wat Jesus met ʼn mens of mense gehad die sentrum en kulminasie van sy omgang met daardie mens(e), byvoorbeeld met Saggeus: Jesus sê vir Saggeus “Klim gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuisgaan” (Lukas 19:5) – dit was vanselfsprekend dat die “tuisgaan” ʼn maaltyd impliseer het. En dit is toe Saggeus die intieme gemeensaamheid met Jesus rondom ʼn ete ervaar, wat hy tot inkeer kom.

En nou het ek reeds lank genoeg uitgewei (pun intended!). Ek belowe ek sal volgende keer by die punt (die sogenaamde “Opstandingsmaaltye”) uitkom!

Finding the Fallen

Ek het nie vergeet van my onderneming om dalk meer te skryf oor die sogenoemde “opstandingsmaaltye” nie, maar eers deel ek ʼn aantal indrukke oor iets heel anders met julle.

Ek het verlede Saterdag ʼn nuwe drafroete probeer, en ontdek toe baie “gelukvallig”* in die verbyhardloop die “Militaire Begraafplaats Heverlee” aan die buitewyke van Leuven. Hier is net meer as ʼn 1000 gevallenes uit hoofsaaklik die Tweede Wêreldoorlog begrawe, die meerderheid bemanningslede van bomwerpers wat neergeskiet is tydens missies oor Duitsland. Ek en Steyn is die volgende dag summier soontoe.

[* My nuutskepping vir “serendipitously” – ek beskou dit as die beste van al die voorstelle, so die beloning gaan aan moi, baie dankie!]

Dit was vir my ʼn besondere, gedenkwaardige belewenis. Die ligging van die kerkhof, in die stilte van die veld, omring met bome, asook die estetiese uitleg daarvan (die geometrie, die eenvormigheid van die grafstene) spreek reeds tot ʼn mens by die aankoms. Dit het egter ʼn nog roerender ervaring geword. Toe ons die statistiek in die grafregister lees, sien ons dat een Suid-Afrikaner ook ʼn laaste rusplek hier gevind het. Ek het besluit dat ons sal soek tót ons sy graf kry. So vind ons dit toe ook: SF Marais, “observer” (navigator), omgekom 16 Junie 1941, 22 jaar oud. Met sy naam kon ons toe meer inligting in die grafboek, asook op die internet opspoor. Hy was Stephanus Francois Marais van die Transvaal. Hy was een van ses bemanningslede van ʼn Wellington-bomwerper van die RAF (Royal Air Force) wat in die nag van 16/17 Junie 1941 na ʼn bomaanval op Duisburg eers deur flak (vanaf die Duits “Flugabwehrkanone”, lugafweerkanon) beskadig is, en toe deur ʼn Messerschmidt 110 nagvegter (vlieënier: Reinhold Knacke, houer van die Ridderkruis) neergeskiet is. Die tweemotorige bomwerper het blykbaar in die lug opgebreek.

img_20180428_124535978838857.jpg
Die grafsteen van die Suid-Afrikaner, SF Marais.

Sy grafskrif lees “At the going down of the sun and in the morning, we will remember him.” Dit is ʼn aanhaling, menigmaal te vinde op oorlogsgrafte of -gedenktekens, uit ʼn strofe van ʼn gedig deur Laurence Binyon, “For the Fallen” – die hele strofe lui

They shall not grow old, as we who are left grow old:

Age shall not weary them, nor the years condemn;

At the going down of the sun and in the morning

We will remember them.

Dit is duidelik dat die ouers of naasbestaandes gekonsulteer is oor wat die inskripsie op ʼn bepaalde individu se graf moet wees. So lees ons byvoorbeeld die volgende inskrywings:

“In loving memory of my dear son Edmund” (Vlugsersant E Richardson, Air Gunner, Royal Canadian Air Force, †15 Oktober 1942)

“Always remembered by his wife and two sons, mother and father” (Sersant AE Holding, Air Gunner, RAF, †5 Oktober 1942)

Of die volgende inskripsie, roerend in sy eenvoud:

“My son” (Vlugoffisier BG Robinson, Observer, RAF, †5 Oktober 1942)

Daar is nog heelwat ander gegewens wat ʼn mens aanraak: hier rus Donald Garland, een van vier broers wat almal op verskillende stadiums van die oorlog as RAF-bemanningslede omgekom het – is dit hoegenaamd moontlik om jouself in te dink in die emosies van die ouers? Hy is een van drie vlieëniers wat die VC (Victoria Cross) vir dapperheid posthuum ontvang het en wat ʼn laaste rusplek in die kerkhof gevind het. Ook ses “Women’s Auxiliaries” lê hier langs mekaar begrawe – die lorrie waarin hulle die aand op pad terug was van ʼn funksie in Leuven, het onder ʼn trein beland.

Die graf van Donald Garland (links)

Die naam, sterfdatum en inskripsie op elke graf is maar ʼn klein klompie woorde, maar daaragter lê boekdele van verlies en smart. As dit maar moontlik kon wees om die volle verhaal van elkeen van die gevallenes en hulle geliefdes tot spreke te kon bring… Wat ons wel kan doen, is om ten opsigte van hierdie swyende stories vir onsself die woorde te sê wat staan op die grafte van gesneuweldes wat nie geïdentifiseer kon word nie: “Known unto God.”

(Foto’s: Marike van der Watt)

Historiese feit of fiksie?

img_20180401_055720273383530.jpg
Opstandingsondag in Dinkelsbühl: oral kom figure uit die duister om die Paaswaak by te woon.

“The resurrection is not a verifiable miracle whose demonstrable certainty might prove to the questioner that the cross really has the cosmic significance attached to it by the Church.”

“Almost nothing can today be certainly known about the life or personality of Jesus, since the Christian sources did not show any interest in these things, and, further, are very fragmentary and overgrown with legend…”

Bogenoemde aanhalings kom uit twee werke, vanuit Duits na Engels vertaal, van die teoloog Rudolf Bultmann. Vir ʼn volledige en oortuigende weerlegging van hierdie stellings hoef ʼn mens net CS Lewis se essay Fernseed and Elephants te lees (dit was oorspronklik ʼn praatjie wat hy aan teologiese studente gelewer het). Nee – eintlik hoef ʼn mens maar net die Evangelies onbevange te lees, sonder vooropgestelde opinies of filosofieë.

Bultmann verwoord egter baie moderne mense se gedagtes. Daar is ook skeptici wat eerlike twyfels het oor sentrale waarhede van die Bybel, en dit is vir my baie belangrik om met diegene in gesprek te bly. Ek het in elk geval ook meer respek vir die standpuntinname van ʼn ateïs, as wat ek het vir iemand wat beweer dat hy ʼn Christen is, maar terselfdertyd die betekenis van die sentrale Bybelse begrippe “uithol” en ʼn ander inhoud daaraan gee. Byvoorbeeld: om vroom te praat van die “Opstanding van Jesus”, maar daaronder eintlik, en net, te bedoel dat Hy deur geloof opstaan in sy volgelinge se harte. As dit is wat jy kies om te glo, moet jy daarmee saam ook die eerlikheid en die moed hê om te sê dat jy opgehou het om ʼn Christen in die konvensionele betekenis van die woord te wees. Ter illustrasie van die punt wat ek probeer maak: jy kan nie beweer dat jy ʼn Moslem is, maar terselfdertyd sê dat jy nie in Allah glo nie.

Dinkelsbühl se Pietà
Dinkelsbühl se Pietà O vos omnes qui transitis per viam, attendite et videte: Si est dolor similis sicut dolor meus. (O all ye that pass by the way, attend and see: If there be any sorrow like to my sorrow.)

Met skeptici, asook met mede-Christene, deel ek graag die onderstaande waarnemings in verband met die opstanding van Jesus, insigte wat nie die resultaat van my eie intellektuele aktiwiteit is nie, maar in ʼn groot mate spruit uit twee preke van ons Anglikaanse predikant in Leuven, Jack McDonald.

Hieronder is die Evangelies se verslag oor die reaksies van Jesus se volgelinge die Sondagmore toe hulle die leë graf gesien, of die berig daaroor gehoor het:

  • Markus 16:8 “Hulle [Maria Magdalena, Maria die ma van Jakobus, en Salome] het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.”
  • Lukas 24:11 “Maar vir hulle [die apostels] het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.”
  • Joh 20:9 “Hulle [Petrus en Johannes – terwyl hulle by Jesus se leë graf staan] het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moes opstaan nie.”
  • Lk 24:13-35. Die Emmausgangers (wat nie die opgestane Jesus herken terwyl Hy saam met hulle stap nie) se respons op die vroue se verslag was dat die nuus hulle “ontstel” het (vers 22).

ʼn Mens kan nie anders as om uit die veld geslaan te wees deur hierdie reaksies nie. Dit is tog nie wat ʼn mens sou verwag nie? Jesus se volgelinge word gekonfronteer met die feit van die leë graf. Hoe kan dit hulle nie bring tot die vreugdevolle gevolgtrekking dat Jesus opgestaan het nie? Hulle respons is heeltemal anders en vreemd – skrik, vrees, ongeloof, ontsteltenis. Vir ons (wat, toegegee, die voordeel van hindsight het) is hierdie optrede heeltemal onverwags, en onvanpas. Dit is asof mens hierdie vroue en apostels aan die skouers wil gryp en skud en vra “Maar begryp julle nie?!?”

As dit dan nie die leë graf is wat hulle tot die geloof in Jesus se opstanding uit die dood gebring het nie (Johannes is dalk ʼn uitsondering), wat was dit dan? Dit was eers toe Jesus self aan sommige van sy volgelinge verskyn het. Laasgenoemde stelling moet eintlik ook nog gekwalifiseer word: sy blote verskyning was vir hulle nie deurslaggewend nie. Dit is eers toe Jesus deur bepaalde fisieke handelinge aantoon dat Hy regtig liggaamlik (hoewel verheerlik) in hulle midde is, dat hulle tot geloof gekom het. Om dit te verstaan, hoef ʼn mens net Lukas 24:36-43 lees. Dit is die aand van die Opstandingsondag. Jesus se dissipels kruip bangbroekerig agter geslote deure weg. Meteens staan Jesus self tussen hulle. Hulle reaksie? “Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ʼn gees” (vers 37) – al weer die heeltemal onvanpaste reaksie. Selfs as Jesus tussen hulle staan, maak hulle nie die gevolgtrekking dat Hy opgestaan het nie, maar eerder dat dit Sy gees is wat aan hulle verskyn. Wat gee die deurslag? Toe Hy vir hulle iets vra om te eet, en voorts die gebakte vis voor hulle oë eet. Dieselfde is die geval met die Emmausgangers: dis eers toe Jesus aan die begin van hulle gesamentlike maaltyd die brood in sy hande neem en begin breek, dat hulle Hom herken.

Jesus se handelinge van eet/ʼn maaltyd hou saam met sy volgelinge na sy opstanding is van sentrale betekenis vir die evangelie. Ek sou graag in die toekoms sommige gedagtes daaroor met julle wou deel. Vir eers wil ek afsluit waar ek begin het, deur te verwys na die aandoenlike gebeure in Joh 20:11-18. Ook Maria, gekonfronteer met die leë graf, was nie in staat om tot ʼn vreugdevolle slotsom – Jesus het opgestaan! – te kom nie. Haar reaksie is om te huil. Haar respons op die leë graf is dat iemand Jesus se liggaam moes verwyder het. As Jesus aan haar verskyn, sien sy Hom aan vir die tuinier (dalk ook omdat haar oë vol trane was). Eers as sy Hom fisiek vasgryp en omhels, besef sy dit is regtig Hy. En met hierdie toneel is die kringloop tussen die Tuin van Eden en die Tuin van Getsemane, tussen die Eerste Paradys en die Laaste Paradys, ook voltooi, soos GK Chesterton dit so aangrypend verwoord in The Everlasting Man:

On the third day the friends of Christ coming at daybreak to the place found the grave empty and the stone rolled away. In varying ways they realised the new wonder; but even they hardly realised that the world had died in the night. What they were looking at was the first day of a new creation, with a new heaven and a new earth; and in a semblance of the gardener God walked again in the garden, in the cool not of the evening but the dawn.

“Serendipity” in Leuven (Louis)

Hier is vir julle ʼn interessante geval van “sinchronisiteit” (en selfs serendipity): my navorsingswerk is interdissiplinêr (Teologie en Musiek) en ʼn uitvloeisel van my M-tesis, wat gegaan het oor die Kyrie eleison. Nou-ja, ek studeer in die Teologiebiblioteek van die KU Leuven, want dit is die naaste bib, stapafstand van ons woonstel af, en/maar dit is geleë in Charles de Bériotstraat – De Bériot was een van die beroemdste Belgiese vioolpedagoë van die negentiende eeu! So die sameligging van biblioteek en straat is simbolies van die 2 hoede wat ek dra met my navorsing. (Terloops, Leuven se Teologiese Fakulteit is die grootste in Europa.)

Nog ʼn geval van serendipity* is die Anglikaanse kerkdienste wat ons bywoon. Dit gee my dikwels stof tot nadenke, en ek skryf hierdie artikel nou met my “teologiese hoed” op. Diegene wat my ken, sal weet dat ek al sedert universiteitsdae hewig debatteer met van my klasmaats en andere wat ʼn dosis Stellenbosch-filosofie ingekry het. (Ek laat my natuurlik nie uit oor die huidige stand van sake by die US se Filosofiedepartement nie.) Hulle was destyds onder andere groot aanhangers van Bultmann en die konsep van “metafoor” en “ontmitologisering”, asook die opinie dat alle waarheid (slegs) voorlopig is.

Voordat ek julle begin verveel met te veel abstrakte goed, gee ek twee konkrete voorbeelde van diegene se redenasies:

  1. Ek het eenkeer vir ʼn kweekskoolstudent wat terselfdertyd besig was met sy M in Filosofie gevra wat hulle nou eintlik bedoel as hulle sê “Die waarheid is voorlopig/relatief” (LW: Die stelling self is natuurlik self-weersprekend). Sy antwoord? “Wel, ek glo in God, maar ek kan slegs voorlopig in Hom glo, want dit mag dalk later blyk dat ek my misgis het?” –Hûûh?!?
  2. Omdat hulle nie kan/wil glo in wonderwerke nie, sluit hulle aan by Bultmann (en moderne liberale/afvallige teoloë) wat beweer dat die vertelling van wonderwerke in die Nuwe Testament – soos ook Jesus se opstanding – “mitologie” is wat “metafories” verstaan moet word. Jesus se opstanding moet dus nie letterlik verstaan word nie; “opstanding” is ʼn metafoor daarvoor dat Hy in die harte van die dissipels opstaan/voortleef. Dieselfde geld ook die meeste, of al die wonderwerke wat Jesus gedoen het.

Nou, behalwe dat CS Lewis ʼn briljante essay geskryf het waarin hy onder andere Bultmann se volkome onbevoegdheid om enige stelling oor literêre genres te maak, uitwys (“Fern-seed and Elephants”), kan ʼn mens tog ook nog uit ander oorde aangrypende perspektiewe uitlig ter wille van mense wat eerlike intellektuele twyfels het oor die (letterlike) opstanding van Jesus. ʼn Paar preke in die Anglikaanse kerk tydens Paastyd het my laat kennis maak met hierdie merkwaardige insigte. Daaroor skryf ek in my volgende blog.

* Kan enigeen van julle vir my ʼn goeie Afrikaanse woord gee vir “onverwagte, goeie sameloop van omstandighede” = serendipity? Daardie persoon kry my volgende Kauai/Vida/M&B bewys vir gratis koffie/capuccino!

Hiermee twee foto’s van ons onlangse besoek aan Elsas in Frankryk. Bennwihr se kerk is saam met die res van die dorpie tydens die “Colmar Pocket” in die doodsnikke van die Tweede Wêreldoorlog platgevee (Desember 1944 – Januarie 1945). Die herboude kerk is soos ʼn feniks wat herrys het uit die as (die feniks word ook in een van die glaspanele uitgebeeld) – opstanding uit die dood!

Canticum Novum – ʼn Nuwe lied

Canticum Novum voor Moederkerk se preekstoel
Canticum Novum voor Moederkerk se preekstoel.

Ek het in my vorige bydrae, wat meer gegaan het oor die “beestelike” aspekte van die Requiem-uitvoerings, onderneem om in my volgende bydrae iets met julle te deel oor die geestelike aspekte. Kan ek net eers een “cowpat”, naamlik die stokkie-episode, uit die weg ruim: nee, dit was nie ʼn opsetlike daad van protes oor die selfoon wat in die gehoor afgegaan het nie. Dit was een van daardie ongelukkige toevalle dat, pas toe ek gereedmaak vir “Recordare”, die stokkie se punt aan my mou vasgehaak het, met onvoorsiene gevolge (!).

Canticum Novum en die Stellenbosch Universiteit Simfonieorkes in die Endlersaal
Canticum Novum en die Stellenbosch Universiteit Simfonieorkes in die Endlersaal

Nou-ja, “Revenons à nos moutons”. Jare gelede het ek op FMR geluister na ʼn onderhoud met die dirigent van ʼn kamerkoor wat uitstekende, wat my betref buitengewone, werk verrig het. Tydens die onderhoud het hulle ʼn opname van ʼn motet (ʼn werk met ʼn gewyde teks) van Stanford deur sy kamerkoor voorgespeel. Agterna is hy gevra om ook iets oor die Latynse teks te sê. Sy antwoord, wat my tot vandag toe nog dronkslaan, was dat hy nie weet wat die woorde beteken nie – hulle konsentreer maar op die musiek. Nou, selfs ʼn leek sal aanvoel dat dit nie reg kan wees om so ʼn benadering te hê nie. Hoe kan jy reg laat geskied aan die teks as jy nie weet wat die woorde beteken, en dit voorts geïnternaliseer het nie? Dan word die individuele koorlede, en die koor kollektief, se sang vir my bloot soos ʼn radio se volumeknoppie wat jy harder of sagter draai.

Ek glo dat, net soos jy net kan preek as die boodskap eers deur jou eie siel gegaan het, jy slegs ʼn gewyde teks kan sing as die woorde in jou gemoed ʼn tuiste gevind het. Anders word die vertolking soos “klinkende metaal of ʼn galmende simbaal”, klanke sonder substansie, om Paulus se treffende metafoor in ʼn effens ander konteks aan te haal. Dit verleen ʼn ander dimensie, ʼn bo-natuurike, metafisiese, transendente dimensie, aan die koorsang. En ek het mettertyd oortuig geraak dat die gehoor hierdie dimensie intuïtief aanvoel en saam daarin opgeneem word (weereens iets wat nie rasioneel verklaar kan word nie). Die kooruitvoering moet ʼn stuk erediens buite die mure van ʼn kerk word.

Dit was ons benadering met die Mozart Requiem, soos telkens met gewyde koor- en orkeswerke, om in die oordenkingsessies wat ʼn deel van die weeklikse kooroefening uitmaak, stelselmatig die betekenis van die teks met die koor deur te gaan. In hierdie opsig is ek in die gelukkige posisie om sedert verlede jaar bygestaan te word deur Christiane Simon. Sy is nie net ʼn aanwins as koor- en bestuurslid nie, maar ook ʼn Lutherse predikant. Dankie Christiane, vir jou besonderse oordenkings, spesifiek tydens my afwesigheid!

Hierdie koor met wie ek die voorreg het om te werk, dra sedert 2000 die naam “Canticum Novum”, “Nuwe Lied”. Dit is ʼn frase wat nege maal in die Bybel voorkom (vir diegene wat graag die spesifieke verse wil opsoek: dit is onderaan hierdie bydrae). Ek verstaan die frase as ʼn tipe van Bybelse snelskrif: dit is nie soseer die lied wat nuut/oorspronklik is nie; dit is eerder ʼn lied oor die nuwe dinge wat God doen in menselewens. Telkens bring Hy vernuwing waar dinge doods geword het, telkens in vasgeloopte en uitsiglose situasies kom maak Hy ʼn nuwe begin (ook met jou). As die koor ‘n “nuwe lied” sing, dan is dit dus eintlik ʼn lied oor die Een wat op die troon sit en sê “Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5).

xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

“Nuwe lied” Psalm 33:3, 40:4 (baie mooi), 96:1, 98:1, 144:9, 149:1; Jesaja 42:10: Openbaring 5:9 en 14:3

Wat die tema van vernuwing betref, dink ek onwillekeurig aan ʼn aangrypende gedig van een van die metaphysical (religieuse) Engelse digters, George Herbert. Hy het in sy later jare ʼn doodsheid in sy gemoed en in sy skeppende kragte ervaar. En dan kom God onverwags en bring vernuwing in sy lewe. Hy gebruik woorde soos “vars”, “soet”, “skoon”, “groenigheid”, “bot” , “lewendmakend” (quickening), “dou” en “reën” om hierdie wonder te verwoord. Hier is uittreksels uit die gedig (“The Flower”):

How fresh, oh Lord, how sweet and clean

Are thy returns! Even as the flowers in spring;

[…]

Grief melts away

Like snow in May,

As if there were no such thing.

Who would have thought my shriveled heart

Could have recovered greenness? It was gone

Quite underground. […]

[…]

And now in age I bud again,

After so many deaths I live and write;

I once more smell the dew and rain

And relish versing. Oh, my only light,

It cannot be

That I am he

On whom thy tempests fell all night.

These are thy wonders, Lord of love…

Canticum Novum 2017
Canticum Novum 2017

Fasades

Fasade – zelfsst.naamw.

Uitspraak: [fa’sa:dƏ]

de voorgevel; de faҫade; het front; de voorkant; de gevel; de pui; de schijnvertoning; de uiterlijke schijn; de frontlijn; de gevechtslinie; de vuurlijn

Sint-Carolus Borromeus
Die fasade van die Sint-Carolus Borromeuskerk op die Hendrik Conscienceplein in Antwerpen

Vanoggend was daar weer chaos op die spoorweë. Die een trein na die ander is vertraag, en ek kon maar net hoop dat ek my laaste retoerrit tussen Leuven en Antwerpen op my halftijds abonnement sou kon benut. Hoop het nie beskaam nie, en ek kon weer my wag- en reistyd benut om sin te maak van ons lewe hier. Ná net meer as twee maande begin dinge stadig maar seker in plek val – hopelik het ons oor ʼn week uiteindelik ons Belgiese identiteitskaarte (dit was omtrent ʼn heen-en-weer geskarrel om dit uitgesorteer te kry, en danksy ʼn goeie skoot burokratiese hindernisse sal ons die proses weer in Oktober moet herhaal sodat ons tot einde November hier kan aanbly), maar ons het wel nou treinkaarte vir grote gezinnen (dankie tog vir drie kinders!) wat ons toegang gee tot 50%-afslag op treinkaartjies. My ritte tussen Leuven en Antwerpen sal dan nog bietjie goedkoper wees as met die halftijds abonnement waar ek €50 i.p.v. €79 betaal vir 5 retoerkaartjies wat ek binne twee weke moet gebruik.

In die bus op pad stasie toe, ry ons verby die mooi Leuvense konsertgebou. Ek sal nog op Google maps moet kyk of dit so is, maar dit lyk toe skielik vir my of die gebou, soos baie geboue hier, die mooi historiese fasade het, maar dat die res van die gebou wat nie van die straat af sigbaar is nie, moderne bouwerk is. Dit is ook altyd vir my snaaks om deur Leuven Stadspark te stap en dan van die geboue se agtertuine te sien. Sommige daarvan is na agter uitgebrei en is so aangelap en chaoties dat jy wonder of jy regtig in Europa is. En nou dink ek weer aan Louis wat, tydens ʼn simfoniekonsert wat ons in Antwerpen bygewoon het en waar die gehoor tússen bewegings van die simfonie applous gegee het, onderlangs vir my vra of ons régtig in Antwerpen is! (ʼn Bietjie konsertetiket vir diegene wat nie weet wat die probleem is nie: ʼn mens klap eers hande aan die einde van die hele werk, nie na elke beweging nie. Onthou dit as julle almal Saterdag en Sondag gaan luister na Mozart se Requiem in die Endlersaal – Louis is deur diep waters om in Stellenbosch uit te kom om die uitvoerings te kan dirigeer!)

Canticum Novum en USSO met die Mozart Requiem
#advertensiebreuk: Hierdie naweek in die Endler…

Waar was ek nou weer met my gedagtes oor fasades? ’n Paar jaar gelede het ek gedroom dat ek voor ’n baie indrukwekkende gebou met ’n hemelhoë fasade staan. Soos jy mos nou maar maak met iets wat so imposant is, probeer jy dit van alle kante af bewonder. Toe ek om die hoek beweeg, is dit skielik duidelik dat daar agter die fasade net ’n enkelverdiepinggebou skuil, en dat die fasade met ’n lang kabel in die grond agter die gebou geanker is om dit staande te hou. Ek het baie ontsteld wakkergeword en probeer uitwerk wat die droom kon beteken. Intussen is ek al dikwels aan die droom herinner deur mense se optrede, deur instellings se uitsprake en aksies, en nou ook weer hier in die Europese samelewing. Mense is oral dieselfde – en dit geld vir ons beste oomblikke (die vreugde van ’n moeder wat haar gesonde baba vir die eerste keer in haar arms hou), maar ook daardie kante wat liefs toegemessel word: gierigheid en korrupsie, rassisme, jaloesie, luiheid. Dit is alles oral dieselfde al lyk dit dalk ʼn bietjie anders.

Gister was nie net Menseregtedag in Suid-Afrika nie, ek het ontdek dat die gebeure in Sharpeville op 21 Maart 1960 daartoe aanleiding gegee het dat die VN in 1966 die dag as Internasionale Dag vir die Uitwissing van Rassediskriminasie verklaar het. Daar loop ek toe voor Leuven se historiese Stadshuis op die Grote Markt verby ’n stalletjie waar ek my steentje tegen racisme op die ou trappe kon neerlê. Ek broei nog op ’n onlangse insident wat die onderliggende rassisme in Europa vir my baie duidelik uitgewys het, en sal dus nie nou daarop uitbrei nie, maar ek kan insien dat sulke inisiatiewe nodig is hier.

Hoewel die meeste skole hier Katolieke skole is, kry mens die indruk dat geloof vervang is met waardes en etiese gedragskodes wat in niks geanker is nie. Jy word ’n “vrolijk Pasen” met oulike hasies en heerlike Paaseiers toegewens terwyl kinders in die klas lag vir video’s met Jesus as ’n komediant aan die kruis omdat hulle geen idee het waaroor dit gaan nie (dit was tydens ’n “Godsdienstles” – blykbaar weet baie kinders nie eers wie Moses is of waar Matteus in die Bybel is nie). Kerke loop leeg en owerhede krap kop oor wat om met hierdie waardevolle wit olifante te maak – daarom kan ’n mens nou in ’n gepakte kerk onder altaarstukke van onskatbare waarde wat Jesus se kruisiging uitbeeld, luister na vooraanstaande kamerorkeste wat musiek speel oor hekse wat in ’n bos vergader. Die akoestiek was fantasties…

Die afgelope Sondag het ʼn pediater in ons kerk gepreek oor Maria as getuie van Jesus se kruisiging. Hy het ʼn ervaring met ’n baba wat prematuur gebore is, as vertrekpunt geneem. Die ouers het baie lank gesukkel om swanger te raak, en toe dit uiteindelik gebeur, het die ma haarself met Maria vergelyk omdat dit vir haar net so ʼn wonderwerk was soos Jesus se verwekking. Maar toe die klein baba’tjie na alles wat die mediese wetenskap kon doen, net nie sterk genoeg was nie, het die dokter ook Maria se smart voor Jesus se kruis in die mamma raakgesien. Dit herinner my toe aan Elisabeth Eybers se gedig, Maria:

MARIA

‘n Engel het dit self gebring,
die vreude-boodskap – en jy het
‘n lofsang tot Gods eer gesing,
Maria, nooi uit Nasaret!

Maar toe Josef van jou wou skei
en bure-agterdog jou pla,
het jy kon dink, eenmaal sou HY
die heel wêreldskande dra?

Toe jy soms met ‘n glimlag langs
Jou liggaam stryk … die stilte instaar …
wis jy met hoeveel liefde en angs
sou HY sy hellevaart aanvaar?

Die nag daar in die stal – geeneen
om in jou nood jou by te staan –
het jy geweet dat HY alléén
Getsemané sou binnegaan?

Toe vorste uit die Ooste kom
om nederig hulde te betoon,
wis jy hoe die soldate hom
as koning van die volk sou kroon?

En toe Hy in jou arms lê,
Sy mondjie teen jou volle bors,
het jy geweet dat HY sou sê,
toe dit te laat was, Ek het dors?

*

Toe dit verby was, en jy met
Sy vriend Johannes huis toe gaan –
Maria, vrou van smarte, het
jy toé die boodskap goed verstaan?

( Uit Belydenis in die skemering {Nasionale Boekhandel} )

Vir ons is daar nie net Goeie Vrydag nie, maar ook Opstandingsondag. Dit is ons eerste Lydenstyd in die Lente, en die kontraste wat ons hier beleef, maak die ervaring soveel ryker en geskakeerd. Daarom sien ons darem nie net fasades raak nie, maar ook die katedrale wat oor eeue heen al getuies is van God met ons.

Vroegherfs: Stellenbosch (Louis)

20170922_1639471518075422.jpg
Louis se tuin in Stellenbosch

Na twee maande van sneeu en skadu in Leuven, vind ek myself getransponeer na die soel seisoen van vroegherfs in Stellenbosch. Dit voel asof my sinne ontwaak het soos uit ‘n winterslaap. ‘n Swaar lomerigheid hang in die lug. Die blare gloei met ‘n sagte intensiteit. Daar is ‘n mildheid aan die dae, en ek verbeel my dat ek nog die vae geur van geparste druiwe in die lug bespeur, saam met die reuk van warm dennenaalde. Die wilde Suidoos het bedaar; die wêreld haal nou diep en rustig asem.

Ek dink aan ‘n metafoor van Willie van der Merwe: dit is asof die dae met mirre gebalsem word. Interessant dat die twee mooiste gedigte wat ek in Duits en Frans ken, albei oor die Herfs handel: “Herbsttag” van Rilke, en “Chanson d’automne” van Verlaine. Maar mooier nog is die gedig van ID du Plessis, wat ek vas glo hy in die Herfs geskryf het:

In die stilte van my tuin
flikker son en skaduwee
beurtelings op die muur.
Blare van verbloeide rose
het die wind hier dik gestrooi
voor die ope deur.
En die maanwit skoenlappers drywe
op die geurende lug lomerig verby.
Ook die hart wat jou bemin
voel die vreugde van die uur
as jou mond so lag
as jou mond so lag.

Arnold van Wyk se 1938-toonsetting daarvan is vir my ook sy mooiste komposisie: impressionisties soos die gedig. Ek kom tot die besef dat hierdie skoonheid en weldadigheid net een Oorsprong kan hê:

16Dit is U aan wie dag en nag behoort,

U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het,
17U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het;

somer en winter [en die skoonheid van elke seisoen] is die werk van u hand.

Psalm 74:16-17

As ek maar so ‘n heilsame en salwende effek kan hê op my geliefdes soos wat Herfs op my het… (Vir Marike, Elsa-Marié, Jani en Steyn)

Nog gedagtes op (en oor) openbare vervoer

'n Engel en 'n klok
Kruidtuin, Leuven

Vanoggend so tussen die tandeborsel en tittewyt deur, besef ek dat ek dalk nie die 8:26- trein na Antwerpen gaan haal nie, maar ek is rustig, want om 8:36 is daar nog ’n trein Antwerpen toe. Tensy dit, en daarmee moet ’n mens hier altyd rekening hou, om een of ander rede net gekanselleer word. Om twee, of vyf minute laat te wees, kan dus ’n baie groot verskil in ’n mens se dag (of selfs lewe!) maak. Soos toe ek verlede jaar my trein van Antwerpen af lughawe toe net sien wegtrek het, en die volgende trein (waarmee ek steeds gemaklik betyds sou wees) toe sonder rede op die laaste minuut gekanselleer word. Ek het vir ’n uur lank paniekerig op die perron bly staan en bid dat die volgende trein tog net sal loop. En toe die hele halfuur op die trein na my horlosie gestaar en gebid vir geen verdere vertragings nie. Toe die trein by die lughawe stop, het die deure skaars oopgeskuif of ek was al halfpad die roltrap uit vertreksaal toe – ek was die laaste persoon wat my tas ingeboek het vir daardie vlug (met vyf minute om te spaar, maar toe was my handbagasie wraggies te swaar en moes ek my propvol tas nóg voller stop en bo-op klim om dit weer toe te kry – picture that!). Natgesweet en bewerig is ek deur sekuriteit en kon uiteindelik in my sitplek neersak met ’n sug van verligting wat waarskynlik tot in Stellenbosch gehoor kon word.

Dít was my eerste smakie van die onvoorspelbaarheid van België se openbare vervoer. Intussen het ek al ’n treinrit van Antwerpen af terug Leuven toe getref wat vir ’n driekwartier voor Lier gestaan het en toe uiteindelik weer in Antwerpen moes draai voor ons Leuven via ’n ander roete kon bereik (dit was daardie aand toe ek 19:45 by die huis gekom het en Louis se kosmaakpoging in die mikrogolf gekry het: die heel hoender het net so in sy oorspronklike verpakking sy rondes gemaak…). Daar was al ’n busstaking op ’n Vrydag toe ek en Louis op die ou end besluit het om maar net op die eerste die beste bus wat tóg sy verskyning maak, te klim, en toe in die heel verkeerde rigting van Leuven gaan draai het om eers wéér by die stasie uit te kom voor ons uiteindelik by ons regte halte kon afklim (terwyl die kuikens uitgehonger in die huis gesit en wag het vir kos uit die dorp). Louis het wel ’n interessante gesprek met die busbestuurder gehad toe hy ons Afrikaans herken het, en ons toe verras met sy kennis oor Suid-Afrikaanse politiek. ’n Ander keer moes ek my week herbeplan toe ’n treinstaking vir my Antwerpendag aangekondig word (gelukkig was dit al die vorige naweek bekend en kon mense hulle lewens beplan en liefs tuis werk).

So, ek hét toe vanoggend se 8:26-trein met 2 minute gemis, en toe ek op die skerm sien dat 8:36 se trein wraggies gekanselleer is en die volgende trein Antwerpen toe eers om 9:26 sy verskyning gaan maak, was die versoeking groot om net te aanvaar dat die heelal teen my saamsweer en by die huis te gaan sit en TV kyk saam met Steyn, wat toevallig vandag ’n afdag het by die skool. Maar dit is seker die uitdaging waarmee ’n mens altyd gekonfronteer word as die lewe jou met ’n curveball verras – wat gaan jy daarmee maak? Gaan jy die teëspoed as alibi gebruik wanneer jy nie opgedaag het nie, of gaan jy besluit om vas te byt en die beste uit die situasie te haal? Vanoggend was dit ’n Panos-cappuccino en ’n pain au chocolat (of chocoladekoek soos dit in Nederlands heet, om nie te verwar met die spogkoeke op Suid-Afrikaanse basaartafels van weleer nie) wat my laat besluit het om tog my rekenaar uit te haal en in die stasiegebou te gaan sit en skryf terwyl ek op die volgende trein wag.

En as ’n mens jou oë oophou terwyl jy in die busse en treine is of daarop wag, en met soveel mense se eienaardighede, liggaamsreuke, klanke en kieme gekonfronteer word, duik daar heelwat op om jou oor te verwonder of verkneukel. Verlede week het die man langs my in die bus iets gemompel wat ek nie kon uitmaak nie, en toe ek vir hom sê dat ek nog nie die dialek so goed verstaan nie, besef dat hy glad nie met my gepraat het nie. Maar toe het ek nou sy aandag, en hy mompel iets oor skisofrenie en begin my uitvra. Toe hy eers hoor ek is van Suid-Afrika, het hy dit ook oor ons politiek en toe slaan hy weer oor in dialek en toe was ek nie meer seker of hy nog met mý gepraat het nie.

’n Flambojante rooikop het vanoggend saam met my by die halte voor die Heilige Hartkliniek in die bus geklim. Pers fluweelpolvye (en polvye is nie ’n term wat ek gereeld rondgooi nie, maar hierdie was polvýe!), ’n romp met ’n waatlemoenmotief (die soom was die waatlemoenskil, en die boonste deel van die romp die pienk vlees met die swart pitte daarin – ’n substansiële waatlemoen, as ek dit so mag uitwys…), groen trui met ’n lang swart jas bo-oor en uiteindelik die bypassende waatlemoenoorbelletjies. En dan was daar ook haar rooi Volkswagen Kombi-handsak. Niemand anders sou daardie uitrusting tot sy reg kon laat kom nie, en ek voel tog ’n krieweling omdat ek wens ek was minder beskimmeld en ook dapper genoeg om die lewe so uit te daag. Die verste wat ek soms gaan, is ’n bietjie ekstra rooi in my hare, maar toe ek vroeër by ’n kapsalon gaan vra wat dit my sou kos, het ek besluit dat ek die €100 liefs sal spaar en my al-hoe-gryser-wordende kroon met waardigheid sal dra. Dis ook dapper, dink ek.

Vanoggend se opwinding het nie met die uiteindelike vertrek van die 9:26-trein na Antwerpen gestop nie, want toe beland ek mos onwetend in die eersteklaswa. Saam met ’n hele boel ander ewe onoplettende passasiers. Die kondukteur verduidelik vriendelik by elke ry dat ons sal moet skuif sodra die trein uit die aansluitingsone is (geen toegewings word gemaak nie, al lyk die meeste passasiers soos ware eersteklasmense), en toe volg die Groot Uittog uit Eersteklas.

By Antwerpen aangekom sien ek op die skerms dat die Aarschot-Antwerpentreine gekanselleer is as gevolg van ’n persoonsongeval. Vir iemand het daar vanoggend ’n laaste druppel in die emmer geval. Terwyl Sint-Andries se klok die gebruiklike halfuur lank lui vir ’n gemeentelid wat begrawe word, verduidelik ’n kollega dat die treine gereeld op hierdie wyse ontwrig word. En ek is bly dat ek vanoggend nie so vies was oor my ontwrigting nie, en dat ek steeds die sonskyn kon geniet, al breek dit hier maar ongereeld deur. In my gedagtes steek ek vir die persoon ’n kersie aan, en ook vir sy/haar mense wat agterbly en deur ’n baie onaangename kondukteur in ’n allerverskriklike wa ingeboender is.