Michal

Ek het vroeër ‘n nuwe plasing geskryf, maar kan myself nie sover kry om dit te plaas nie. Soos my vriendin Marlene gesê het, hierdie was ‘n “stop all the clocks” oomblik, en sedertdien voel dit so verkeerd om aan te gaan met alles waarmee ons voorheen besig was. Die nuus het met ‘n vreemde draai by ons uitgekom op ‘n doodgewone Dinsdagmiddag. Die ondeunde sproetgesiggie wat ons einde Junie nog voor Amsterdam Centraal gegroet het, was die laaste wat ek by die nuus sou plaas.

Liewe Ingrid, jy is een van daardie mense wat soveel meer gee as wat van jou verwag of gevra word. Dit klink so triviaal om die keer op te roep toe my handsak by Waterworld in die Strand gesteel is met karsleutels, selfoon en al. In plaas daarvan om te wag tot ek vir Louis (wat besig was met eksamineer) in die hande kon kry, het jy ons almal in jou kar geboender en is ons terug Stellenbosch toe om die spaarsleutels te kry. Jani en Steyn kon by Michal speel terwyl ons met die sleutels terug is Strand toe om die kar te gaan haal. Jou doelgerigte en praktiese hulp het die angel uit die verlies van daardie dag gehaal.

Maar al sou ek hoe graag onmiddellik op ‘n vliegtuig wou klim toe ons die nuus hoor, of bosse en bosse blomme wou stuur, of potte en potte kos wou aandra… Geen woorde, geen gebaar, niks op hierdie aarde, gaan hierdie ontsettende verlies ooit vir julle draagliker maak nie. My gebed is net dat daar vir julle in hierdie verskriklike donker tyd, Lig sal wees. Genoeg vir een treetjie op ‘n slag.

Die lewe is broos. Daar is soveel dinge wat ons net nooit sal verstaan nie.

Rus in vrede, klein Michal.

Canticum Novum – ʼn Nuwe lied

Canticum Novum voor Moederkerk se preekstoel
Canticum Novum voor Moederkerk se preekstoel.

Ek het in my vorige bydrae, wat meer gegaan het oor die “beestelike” aspekte van die Requiem-uitvoerings, onderneem om in my volgende bydrae iets met julle te deel oor die geestelike aspekte. Kan ek net eers een “cowpat”, naamlik die stokkie-episode, uit die weg ruim: nee, dit was nie ʼn opsetlike daad van protes oor die selfoon wat in die gehoor afgegaan het nie. Dit was een van daardie ongelukkige toevalle dat, pas toe ek gereedmaak vir “Recordare”, die stokkie se punt aan my mou vasgehaak het, met onvoorsiene gevolge (!).

Canticum Novum en die Stellenbosch Universiteit Simfonieorkes in die Endlersaal
Canticum Novum en die Stellenbosch Universiteit Simfonieorkes in die Endlersaal

Nou-ja, “Revenons à nos moutons”. Jare gelede het ek op FMR geluister na ʼn onderhoud met die dirigent van ʼn kamerkoor wat uitstekende, wat my betref buitengewone, werk verrig het. Tydens die onderhoud het hulle ʼn opname van ʼn motet (ʼn werk met ʼn gewyde teks) van Stanford deur sy kamerkoor voorgespeel. Agterna is hy gevra om ook iets oor die Latynse teks te sê. Sy antwoord, wat my tot vandag toe nog dronkslaan, was dat hy nie weet wat die woorde beteken nie – hulle konsentreer maar op die musiek. Nou, selfs ʼn leek sal aanvoel dat dit nie reg kan wees om so ʼn benadering te hê nie. Hoe kan jy reg laat geskied aan die teks as jy nie weet wat die woorde beteken, en dit voorts geïnternaliseer het nie? Dan word die individuele koorlede, en die koor kollektief, se sang vir my bloot soos ʼn radio se volumeknoppie wat jy harder of sagter draai.

Ek glo dat, net soos jy net kan preek as die boodskap eers deur jou eie siel gegaan het, jy slegs ʼn gewyde teks kan sing as die woorde in jou gemoed ʼn tuiste gevind het. Anders word die vertolking soos “klinkende metaal of ʼn galmende simbaal”, klanke sonder substansie, om Paulus se treffende metafoor in ʼn effens ander konteks aan te haal. Dit verleen ʼn ander dimensie, ʼn bo-natuurike, metafisiese, transendente dimensie, aan die koorsang. En ek het mettertyd oortuig geraak dat die gehoor hierdie dimensie intuïtief aanvoel en saam daarin opgeneem word (weereens iets wat nie rasioneel verklaar kan word nie). Die kooruitvoering moet ʼn stuk erediens buite die mure van ʼn kerk word.

Dit was ons benadering met die Mozart Requiem, soos telkens met gewyde koor- en orkeswerke, om in die oordenkingsessies wat ʼn deel van die weeklikse kooroefening uitmaak, stelselmatig die betekenis van die teks met die koor deur te gaan. In hierdie opsig is ek in die gelukkige posisie om sedert verlede jaar bygestaan te word deur Christiane Simon. Sy is nie net ʼn aanwins as koor- en bestuurslid nie, maar ook ʼn Lutherse predikant. Dankie Christiane, vir jou besonderse oordenkings, spesifiek tydens my afwesigheid!

Hierdie koor met wie ek die voorreg het om te werk, dra sedert 2000 die naam “Canticum Novum”, “Nuwe Lied”. Dit is ʼn frase wat nege maal in die Bybel voorkom (vir diegene wat graag die spesifieke verse wil opsoek: dit is onderaan hierdie bydrae). Ek verstaan die frase as ʼn tipe van Bybelse snelskrif: dit is nie soseer die lied wat nuut/oorspronklik is nie; dit is eerder ʼn lied oor die nuwe dinge wat God doen in menselewens. Telkens bring Hy vernuwing waar dinge doods geword het, telkens in vasgeloopte en uitsiglose situasies kom maak Hy ʼn nuwe begin (ook met jou). As die koor ‘n “nuwe lied” sing, dan is dit dus eintlik ʼn lied oor die Een wat op die troon sit en sê “Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5).

xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

“Nuwe lied” Psalm 33:3, 40:4 (baie mooi), 96:1, 98:1, 144:9, 149:1; Jesaja 42:10: Openbaring 5:9 en 14:3

Wat die tema van vernuwing betref, dink ek onwillekeurig aan ʼn aangrypende gedig van een van die metaphysical (religieuse) Engelse digters, George Herbert. Hy het in sy later jare ʼn doodsheid in sy gemoed en in sy skeppende kragte ervaar. En dan kom God onverwags en bring vernuwing in sy lewe. Hy gebruik woorde soos “vars”, “soet”, “skoon”, “groenigheid”, “bot” , “lewendmakend” (quickening), “dou” en “reën” om hierdie wonder te verwoord. Hier is uittreksels uit die gedig (“The Flower”):

How fresh, oh Lord, how sweet and clean

Are thy returns! Even as the flowers in spring;

[…]

Grief melts away

Like snow in May,

As if there were no such thing.

Who would have thought my shriveled heart

Could have recovered greenness? It was gone

Quite underground. […]

[…]

And now in age I bud again,

After so many deaths I live and write;

I once more smell the dew and rain

And relish versing. Oh, my only light,

It cannot be

That I am he

On whom thy tempests fell all night.

These are thy wonders, Lord of love…

Canticum Novum 2017
Canticum Novum 2017

There and back again

IMG-20180324-WA0020.jpg

Ek is terug na my “tref-en-trap”-besoekie aan Stellenbosch. Dit was uit en uit die moeite werd. Ek deel graag met julle die indrukke wat my bybly.

Eerstens: na twee maande van koue en nattigheid in Leuven, en voor dit weke van bloedige hitte en die uitmergelende Suidoos in Stellenbosch – daar is nie ʼn erger en meer onaangename seisoen as somer in die Boland nie – was dit vir my ʼn intense belewenis om skielik in die middel van vroegherfs terug te wees op die ‘Bos. Meer daaroor het ek reeds in ʼn vorige blog geskryf.

Tweedens: dit was ʼn voorreg om in Caledon Villa, Neethlingstraat, te bly: danksy die sentrale ligging kon ek orals stap waar ek wou wees, en het dit my laat voel soos ʼn bevoorregte toeris wat skielik alles nuut waarneem. Verder was die verblyf en die algemene opset by die gastehuis iets spesiaals. Johan Krige, wat ʼn besonder kundige genealoog is (terwyl hy in ʼn “vorige lewe” eintlik ʼn ingenieur was), het my talle fassinerende dinge meegedeel en my ook ingewy in die mini-museumpie(s) wat hy bo in die solder het. Werklik iets besonders.

En laastens was daar natuurlik die Mozart Requiem-uitvoerings met my koor en die USSO. Omdat dit die doel van my besoek was, staan ek effens langer stil hierby. Soos gewoonlik het die orkes by die eerste oefening erg geklink. Dit was deels omdat die studente baie besig was tydens die Woordfees, maar ook deels omdat die meeste studente by die eerste oefening opdaag en die musiek probeer bladlees, wat in die meeste gevalle glad nie werk nie. Vanjaar het ek myself egter besonder mooi ingehou, en die ergste wat ek aangevang het, was om dinge te vra soos “Wie is die DOFFEL wat ʼn B-mol gepleeg het?” of “Who is the perpetrator of the F sharp?!?”. Ek is baie trots op myself…

Die koor was egter baie goed voorberei, danksy Yolanda se insette, asook die koorbestuur se organisering. Dit was ook iets spesiaals om soveel oudlede (“erelede”) te hê wat saamgesing het, onder wie 6 koorlede wat deel gehad het aan die eerste uitvoering ooit van die Requiem deur Canticum Novum, in 1998 in Stellenbosch asook by die KKNK. Ten spyte van min voorbereidingstyd, het die opkomende soliste hulle ook baie goed van hulle taak gekwyt – dankie, sangkollegas!

Nou iets oor die uitvoerings: ek was vooraf effe besorgd dat daar dalk nie ʼn goeie opkoms gaan wees nie, omdat dit slegs 2 weke na die Woordfees was, maar dit het al my verwagtings oortref. Die Saterdagaand was byna uitverkoop, en die Sondag moes ons meer as 15 minute laat begin omdat die mense tot buite die deure tou gestaan het (dit is nou wat ʼn mens ʼn “goeie probleem” noem – selfs ek wat uiters Duits ten opsigte van stiptelikheid is). ʼn Groot aantal mense – seker ten minste 30 – moes in die paadjies sit.

Ek het hierbo genoem dat ek baie trots op myself is omdat ek my ingehou het met die orkes by die eerste 2 oefeninge. Nou ja, ek voel ek het ook ʼn besondere mate van persoonlike groei getoon ten opsigte van 2 voorvalle by elk van die 2 uitvoerings. Saterdagaand, tydens een van die redelik stil, maar intense oomblikke van die Requiem, het een van die tweede viole dit reggekry om haar pinkie aan haar viool se E-snaar (die hoogste, skrilste snaar) te laat vashaak. Nou: dit was nie die vashaak van die vinger wat die probleem was nie, maar die losruk/“release” daarvan. Die resultaat was ʼn dawerende “PIENG”-geluid. As ek nog my ou mens was, sou ek vorentoe getree het na die tweede vioolseksie se kant toe, oorgeleun het en op ander nie-verbale (en dalk selfs verbale) wyses aangetoon het dat ek NIE dik van die lag is nie. –Maar ek het besluit om eerder te (glim)lag daaroor – weereens ʼn groot oorwinning wat ek oor myself behaal het. (Die leser sal dalk wil weet wie die perpetreerder van hierdie mini-ontploffinkie was. Ek sê niks nie, behalwe dat die persoon in die derde lessenaar van die tweede viole gesit het, en ʼn E en ʼn A in haar naam het…) (Nawoord: ek is wel meegedeel deur Adriaan, een van die koorlede, dat my onverwagte glimlag-in-plaas-van-aangluur wel ʼn effek op ʼn aantal koorlede in die noorwestelike kwadrant van die koor gehad het: hulle was vir ʼn tydjie glo “paralytic” – glad nie in staat om te sing nie .)

Die laaste instansie van persoonlike groei wat ek getoon het, was die Sondagmiddag, toe een of ander HOENDER in die gehoor se selfoon afgegaan het tussen die “Recordare” en “Confutatis”. As ek my ou self was, sou ek omgedraai het en met oë soos kanonlope in die gehoor ingekyk het, maar al wat ek gedoen het was om hardop te sê “Ten minste is dit in die pouse, en nie terwyl ons sing nie” – ek is totaal verras met myself. (Nawoord: volgens Yolanda, koorlid, het dit egter weer ʼn paar soprane van hulle wysie af gebring (pun intended). Lyk my ʼn mens kan net nooit wen nie!)

Dis nou lank genoeg geskryf. Ek sal volgende keer iets korts op ʼn meer ernstige noot (pun intended) oor die Requiem-uitvoerings gee. Watch this space!

So baie om voor dankbaar te wees

Ek hoop nie die titel van my plasing klink te veel soos #blessed nie, maar nou-ja dan is dit nou maar so 🙂 Sover ek kan onthou, was hierdie jaar se koor-en-orkeswerk waarvoor Louis die stokkie geswaai het, die eerste sedert 2003 wat ek nie kon bywoon nie. Dit kan selfs die tweede wees: in 2003 was dit ‘n paar dae ná Elsa-Marié se geboorte, terwyl Steyn in 2007 ook ‘n Aprilbaba was, maar ek dink daardie jaar was die uitvoerings in Oktober. Ná al die dramas om Louis in Suid-Afrika te kry, was dit so lekker om nuus, foto’s (Naomi Meyer se foto pryk hierbo) en selfs ‘n video-opname (ek weet nie wie dit geneem het nie, dit was blykbaar op die buurt se WhatsApp-groep) te kry van mense wat wel daar kon wees. Gisteraand was die saal amper vol, en vanaand moes hulle 15 minute laat begin sodat almal in die ry voor die loket, wat tot buite die konservatorium se deure gestrek het, kon kaartjies kry en hulle plekke op die trappe (!) inneem. Dis nie lank ná die Woordfees nie, en ons was maar benoud dat mense se geld en lus vir kuns en kultuur dalk opgeraak het, maar dit was duidelik nie die geval nie. Mozart se Requiem bly immergroen en is veral tydens Paastyd ‘n besonderse ervaring om van deel te wees. Louis is gedaan, maar ek weet hy kom met ‘n dankbare hart terug Leuven toe. Hy sal seker nog self daaroor skryf, maar ek weet Yolanda Botha het baie hard gewerk om die koor reg te kry vir die optredes (sy neem vanjaar in Louis se plek waar as Canticum Novum se dirigent – oudkoorlid en daarby is sy en haar man ook ‘n “koortroue”…dalk moet ons nog ‘n artikel oor koortroues doen!)

Kort voor ons België toe vertrek het (en in die middel van al die rondskarrel om visums, huurders vir die huis, pleegouers vir die diere, tydelike werk vir Dorothy en Samuel, stoorplek vir al ons goed, ‘n koper vir my kar, ens. te kry), is ek en Elsa-Marié Johannesburg toe vir die opnames van die derde reeks van KykNet se program, Op die Spel. Dit was, soos hulle in Nederlands sou sê, super zenuwslopend. Maar soos julle nou al weet, het sy sowaar deurgedring na die finaal. En hierdie Woensdag (20:00 op kanaal 144), kan julle sien wat op die ou end gebeur het. Ons sal die episode eers Donderdag op Showmax kan kyk, maar ons weet darem al wat gebeur het! Ons is so dankbaar vir hierdie geleentheid wat Elsa-Marié kon kry. Hier is solank ‘n voorsmakie van die program:

Môre gaan ek vir ‘n heen-en-weertjie Amsterdam toe. Ek sien so uit daarna om weer by Zuid-Afrikahuis in Keizersgracht in te loer, maar dan sien ek ook vreeslik uit daarna om vir die eerste keer by Tolhuistuin uit te kom, waar Tom Lanoye onder andere gaan optree en ‘n hoofmeisie tot engel verklaar gaan word. Meer hieroor sal op Voertaal gedeel word…

Soos dit mos maar met die lewe gaan, loop die goeie en minder goeie dinge hand aan hand, maar selfs hierin is daar ook baie om voor dankbaar te wees. My ouboet, Corrie, was verlede week in ‘n motorfietsongeluk in Robertson. Hy het baie seergekry en het selfs in die hoësorgeenheid gedraai, maar hy leef! Dis sleg om so ver te wees en niks vir hulle te kan doen nie, maar ons is dankbaar vir elke dag se tekens van herstel en vir mense om hulle wat omgee en help. Baie sterkte, Corrie en Marietjie!

Tot straks! M

Ode aan rooivleis (Louis)

1.2 kg steak met oopgesnyde murgbene by Fat Butcher. Darem gedeel met my sus Elsa. Groot tip vir die kelner gegee want hy is van Bloemies.

In België is selfs die frikkadelle en maalvleis vegetaries, m.a.w. gemaak van witvleis soos hoender, of semi- witvleis, soos vark. Na 2 maande sonder ‘n enkele stukkie rooivleisweefsel wat in my keel af is, voel ek soos ‘n leeu wat weke lank op ‘n drup was en nou brullend rondloop en soek wat hy kan verslind. Die reis na SA kom net betyds. Die eerste punt op my lys van doendinge in Stellenbosch is rooivleis. Die middelste punt op my agenda vir Stellenbosch is rooivleis. Die laaste punt ook. (En dan is hy, terloops, ook daar om Canticum Novum en die US Simfonieorkes te dirigeer met die Mozart Requiem… – M.) Hier volg ‘n paar kort indrukke van my wederkennismaking met rooivleis. (Ek kan net vlietende indrukke weergee, want ek was by tye in ‘n beswyming.)

Die eerste wat my tref toe die beesfilet voor my neergesit word, is die geur. Dis die geur van vleis wat effens geskroei is, saam met die aroma van warm vet – bevange. En dan die swymelsensasie as die eerste stukkie deur die poorte van my mond op my tong land – weereens beVANGE! My dormante karnivoriese instinkte groei met elke hap (praat van die spreekwoordelike aptyt wat groei met die eet saam!). Ek delf dieper en dieper. Hoe nader ek aan die sappige rooi kern van die vleis kom, hoe meer bloeddorstig raak ek. Die (vr)eetvaring is soos ‘n simfonie: ‘n sameklank van sintuiglike ervarings. Ek besef nou eers regtig hoe ‘n groot stap dit vir my sou wees om ‘n vegetariër te word (soos wat ek eintlik in beginsel voel). Maar verskoon my asseblief van die filosofiese gesprek hieroor – ek wil gou vir my ‘n hamburger vir nagereg bestel.

Canticum Novum en USSO met die Mozart Requiem
#advertensiebreuk: Hierdie naweek in die Endler…

 

Vroegherfs: Stellenbosch (Louis)

20170922_1639471518075422.jpg
Louis se tuin in Stellenbosch

Na twee maande van sneeu en skadu in Leuven, vind ek myself getransponeer na die soel seisoen van vroegherfs in Stellenbosch. Dit voel asof my sinne ontwaak het soos uit ‘n winterslaap. ‘n Swaar lomerigheid hang in die lug. Die blare gloei met ‘n sagte intensiteit. Daar is ‘n mildheid aan die dae, en ek verbeel my dat ek nog die vae geur van geparste druiwe in die lug bespeur, saam met die reuk van warm dennenaalde. Die wilde Suidoos het bedaar; die wêreld haal nou diep en rustig asem.

Ek dink aan ‘n metafoor van Willie van der Merwe: dit is asof die dae met mirre gebalsem word. Interessant dat die twee mooiste gedigte wat ek in Duits en Frans ken, albei oor die Herfs handel: “Herbsttag” van Rilke, en “Chanson d’automne” van Verlaine. Maar mooier nog is die gedig van ID du Plessis, wat ek vas glo hy in die Herfs geskryf het:

In die stilte van my tuin
flikker son en skaduwee
beurtelings op die muur.
Blare van verbloeide rose
het die wind hier dik gestrooi
voor die ope deur.
En die maanwit skoenlappers drywe
op die geurende lug lomerig verby.
Ook die hart wat jou bemin
voel die vreugde van die uur
as jou mond so lag
as jou mond so lag.

Arnold van Wyk se 1938-toonsetting daarvan is vir my ook sy mooiste komposisie: impressionisties soos die gedig. Ek kom tot die besef dat hierdie skoonheid en weldadigheid net een Oorsprong kan hê:

16Dit is U aan wie dag en nag behoort,

U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het,
17U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het;

somer en winter [en die skoonheid van elke seisoen] is die werk van u hand.

Psalm 74:16-17

As ek maar so ‘n heilsame en salwende effek kan hê op my geliefdes soos wat Herfs op my het… (Vir Marike, Elsa-Marié, Jani en Steyn)